Is daar iets wat jul huwelik van kosbare tyd beroof – só dat jy voel dat jou huwelik begin agteruitgaan? Dan is dit tyd om in te gryp!
Aan die begin van jul huwelik het jy jou man sy potjie gholf gegun. Maar Woensdagmiddae het Woensdae én Saterdae begin word … en mettertyd het die tyd op die gholfbaan ál meer begin inbreuk maak op jul tyd saam.
Dalk het jou maat se werk, wat nog altyd net goed was vir julle, stil-stil net méér en méér van hom of haar begin eis totdat jy een date night skielik alleen by die kersligtafel sit en besef dat julle net nóóit meer dinge saam kan doen nie?
Stokperdjies, sosiale media, werk, kinders – enige van hierdie dinge kan ’n afgod in jul huwelik raak, tensy julle dit reg bestuur. Uiteindelik steel dit soveel meer as jul kosbare tyd – dit steel jul huweliksvreugde, harmonie in jul huis en ook jul intimiteit as huwelikspaar.
Sien die gevaarligte flikker
Beteken dit jy kan nooit laat werk nie? Beteken dit jou vrou mag nooit saam met haar vriendinne kuier nie? Die huweliksafrigters en INTIEM medewerkers, Kobus en Linda Pauw, verduidelik dat julle die gevaarligte moet sien flikker wanneer die stokperdjie of werk die veiligheid van jul verhouding aantas.
’n Ander belangrike teken? Wanneer jy iets van jou maat wegsteek, móét jy weet daar is iets verkeerd. Jy kan ook dikwels al hoe “gemakliker” voel wanneer jy tyd aan die verkeerde dinge bestee – só dat jy dit uiteindelik vir jouself regverdig. Jy begin dink dit is oukei om meer tyd aan die stokperdjie te bestee.
Dit is soos iemand wat sal redeneer hy of sy gebruik pornografie omdat daar in elk geval nie genoeg seksuele stimulasie in hul huwelik is nie. “Spreek dit aan!” is Kobus se raad.
“Jou maat moet weet daar is níks wat sy of haar plek in jul huwelik kan inneem nie,” verduidelik Kobus. “’n Huwelik groei nie op sy eie nie. Daar is geen formule wat jy kan gebruik en dan met ’n abrakadabra van jou huwelik ’n sukses maak nie. Julle albei moet bewus wees van wat aangaan in jul huwelik en doelbewus kíés. Julle moet ’n keuse maak om jul huwelik te beskerm. Die lewe gaan nie namens jou rem nie, jý moet dit doen,” sê Kobus.
Wanneer jy hierdie beginsels in jul huwelik toepas en albei maats veilig binne die huwelik voel, hoef jy nie te ontsnap na enigiets anders toe nie, hetsy goed of sleg. Bespreek jou gevoelens én dit wat jy opmerk met jou maat.
Stel grense
In huishoudings waar beide maats veeleisende beroepe het en daar ook kinders met stampvol skool-skedules is, kan ma en pa maklik verby mekaar leef. Kobus en Linda stel voor dat julle grense moet stel. Jou kinders kan onmoontlik nie alles doen en aan alles deelneem nie. Dit is ook nie goed vir hulle nie.
“Grense is goed vir kinders, dit gee vir hulle sekuriteit,” verduidelik Kobus. Kobus en Linda stel voor dat jy en jou maat aan die begin van die jaar sit en naweke vir julle as gesin identifiseer. Bespreek daardie naweke nét vir julle gesin, ongeag wat gebeur en wie ook al wil kom kuier. “Dit is jul verantwoordelikheid om tyd te bestuur en nie toe te laat dat tyd júlle bestuur nie,” sê Kobus.
Die impak van sosiale media
Die impak van sosiale media en die Internet op verhoudings is geweldig groot. In een van ons vorige artikels gee ons vir jou 10 reëls vir sosiale media wat getroude paartjies kan volg. Dit het ’n positiewe sowel as ’n negatiewe kant. Aan die een kant het die samelewing ingelig geword. “Een van die opvallendste negatiewe kenmerke is dat dit mense verleer om te kommunikeer. Dit maak dit vir mense moeilik, want hulle weet nie meer hoe om kwessies direk aan te spreek nie. Voorheen het ons gesê jy moet jou kind se televisietyd beperk. Deesdae kan ons dit verwoord as skermtyd – hetsy dit selfoon, tablet, rekenaar of televisie is,” sê Kobus.
’n Ander gevaar is dat mense nou antwoorde op die punte van hul vingers het. “As ek nie ’n antwoord by my maat kry nie, kan ek dit sonder veel moeite by iemand anders gaan kry,” sê Kobus. Hierdie tipe kitsinligting en moeitelose alternatief is belangrik in die vorm van paartjies se denke ten opsigte van deursettingsvermoë in hul huwelik.
Die brood en die botter
Met ’n stokperdjie is dit waarskynlik makliker om ferm te wees en ’n definitiewe streep te trek. Maar hoe gemaak met jou veeleisende baas, die nimmereindigende sperdatums en die een groot projek ná die ander? Veral vir die broodwinner kan dit ’n groot penarie skep.
Kobus en Linda verduidelik dat as jy elke keer ja gaan sê vir jou baas ten koste van jou huwelik, gaan hy of sy dit net oor en oor van jou begin verwag. Hulle beklemtoon ook die belangrikheid van jou verhoudings met vriende en familie buite die werk, aangesien dít uiteindelik die verhoudings is wat standhoudend gaan wees.
“Dit gaan nie help om aanvallend te wees met jou werkgewer nie, maar vra jouself die vraag: Saam met wie wil ek oud word? Waar moet my input lê? Jy moet jouself die vraag vra: As my werk besig is om my huwelik te vernietig, is dit nie dalk die verkeerde werk vir my nie? Jy sal óf grense moet stel óf ander werk moet kry. Jy gaan dalk finansieel swakker daaraan toe wees, maar julle moet bewustelike besluite hier neem,” waarsku Kobus.
Eindelik is daar vele afgode wat kosbare tyd in jou huwelik kan steel – mits jy dit toelaat. Bly in beheer van hierdie belangrike verhouding en sien toe dat dit prioriteit geniet.