Maak seker die opwinding taan nie. Selfs nie eers na julle twintig jaar getroud is nie! Lees ons A-Z vir inspirasie vir hoe om jou huwelik gesond, opwindend en asemrowend te hou…

Promosie

A = Afsonderlik. Hoewel dit belangrik is vir julle om dinge saam te doen, is dit ewe belangrik vir julle om jul eie identiteit in jul saamwees te behou. Gaan drink koffie saam met ‘n vriendin, moedig hom aan om op daardie jagtog te gaan. Die vryheid sal julle in elk geval net meer na mekaar laat hunker.

B = Belangstelling. Dit help nie jul huwelik is ‘n eenrigting-verhouding nie. Moenie belangstelling in jou maat verloor nie. Vra hom hoe was sy werksdag. Vra haar hoe dit met haar vriendin gaan… Vrae wys jy stel steeds belang in jou maat en dat jy meer oor hom/haar wil weet.

C = Corny… Ja! Soms is romanse corny. Die rooi roosblare, die hartjie-sjokolade… maar dit beteken nie julle moet dit nié aanwend nie! Selfs al serenade jy haar voor die kamervenster en lag julle oor hoe absurd dit voel, sal dit julle nader aan mekaar laat beweeg.

Promosie

D = Date nights. Dis ‘n móét, al is dit ‘n reuse-uitdaging. Navorsing toon dat date nights baie groot voordele kan inhou en julle as ‘n paartjie nader aan mekaar kan bring. Daarom is date nights in ons oë ononderhandelbaar.

E = Erken. Erken wanneer jy ‘n fout gemaak het. Dit is nie altyd maklik om te erken as jy verkeerd was nie. Onthou dat dit belangriker is om goedhartig te wees, as om reg te wees.

F = Flirt. Selfs al is julle twintig jaar getroud en ken julle elke truuk in die boek. Selfs al weet jy sy val nie meer vir jou pick up lines of lomp toenadering nie. Om te flankeer sê vir jou maat dat sy/hy nog begeerlik is en dat jy steeds moeite sal doen om hom/haar oor te wen.

G = Gee. Sonder om iets terug te verwag. Wanneer jy ‘n mooi kompliment uitdeel, moenie verwag om een in ruil te ontvang nie. Wanneer jy jou maat ‘n guns doen, moenie verwag om ook ‘n daad van diensbaarheid te ontvang nie. Gee om jou maat te laat goed voel. Sonder enige verwagtinge.

H = Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal. Lys al die dinge waarvoor jy dankbaar is in jou maat. Skryf elke dag minstens een hiervan neer. Dit gaan dit makliker maak vir jou om te onthou hoekom jy in die eerste plek verlief geraak het op jou maat.

I = Intimiteit. Stel intimiteit in jul huwelik hoog op die prys. Navorsing toon dat die kwantiteit van seks beduidend is van hoe gelukkig paartjies búíte die slaapkamer is. So, hou die lakens warm.

J = Ja! Probeer so gereeld as moontlik vir jou maat ‘Ja!’ sê. Jy wil jou maat gelukkig maak, nie waar nie? En jy wil positiewe energie in jou huwelik investeer. So, volgende keer wanneer hy jou vra om saam met hom na ‘n werks-funksie te gaan, of jy ‘n epos namens hom sal stuur, en of jy kans sien vir Kersfees saam met sy familie, onthou dit…

K = Klein dingetjies. Vergeet van die klein dingetjies. Fokus op die groter prentjie. Op die lange duur maak die klein foute wat jou maat maak, nie saak nie. En terselftertyd… as dit kom by omgee, is dit wel die klein dingetjies wat tel. Vergeet die bannier uit die vliegtuig. En waardeer die man wat jou pienk blommetjies doeksak die wêreld vol dra omdat jy net te moeg is.

L = Luister. Luister wanneer jou maat met jou praat. Moenie net hoor nie, maar luister waarlik! Dit sal beteken dat jy met aandag luister na elke woord wat jou maat kwytraak, sonder om op jou telefoon of die televisieskerm te kyk.

M = Maniere. Dit klink dalk voor-die-hand-liggend, maar maniere vlieg dikwels by die deur uit wanneer ‘n paartjie by mekaar is. Onthou om asseblief en dankie te sê – dit sal jou maat gerespekteerd en gewaardeerd voel. Navorsers aan die universiteit van North Carolina het gevind dat om jou dankbaarheid teenoor jou maat te wys, ‘n paartjie se verhouding versterk.

N = Nommer asseblief. Ja, gebruik tegnologie tot jul voordeel. Stuur vir mekaar opwindende WhatsApp boodskappe, sexy foto’s (maak net dubbel seker jy stuur dit vir jou maat!) en flankeer met teksboodskappe.

O = Onbepland. Doen soms iets heeltemal impulsief. Spring in die kar en ry Karoo toe vir die langnaweek. Bespreek ‘n valskermrit. Hou ‘n laaste minuut-partytjie vir jul vriende. Iets buite die norm kan jul verhouding vars laat voel, selfs al is julle reeds dekades lank saam.

P = Prioriteite. ‘n Besige werk-skedule en kinders kan dit moeilik maak om jou maat eerste te stel. Om die waarheid te sê, ons is dikwels geneig om ons maats laer af op die prioriteitsleer te skuif met die gedagte dat hy/sy die een is wat sal verstaan… probeer dit vermy.

Q = Quizzes. Een van die lekkerste ‘speletjies’ wat ‘n paartjie kan speel, is om saam vraelyste te voltooi. Die meeste van hierdie vraelyste (behalwe vir die beter nagevorste persoonlikheidstoetse) moet met ‘n knippie sout geneem word, maar dit skep nietemin groot pret en iets om oor te gesels. En wie weet, dalk leer julle iets van mekaar.

R = Rituele. Daar is baie waarde in om rituele en tradisies te skep. Dit kan julle nader aan mekaar bring – al is julle hóé lank getroud. Daardie spesiale sitplek in die fliek-teater, die gereg wat julle saam voorberei vir Kersfees… skep nuwe tradisies en herinneringe wat julle kan help om die vlam te laat brand.

S = Slaap. Gaan slaap saam en staan saam op. Navorsing wat in Psychosomatic Medicine gepubliseer is, toon dat vroue interaksie met hul maats meer positief beleef wanneer hulle saam bed toe gaan. Om saam julle dag te begin en af te sluit, is baie spesiaal.

T = Tof op. Moenie toelaat dat jou stukkende sweetpakbroek en jou ouma-broekie ‘n uniform word nie. Al is julle lank reeds saam, doen steeds moeite om goed vir mekaar te lyk. En doen soms spesiale moeite vir jou maat – selfs al bly julle net by die huis. Rooi lipstiffie gaan ‘n lang pad…

U = Uittrek én uitrek = Dié een het ons nogal laat giggel, maar ja, vir ‘n gesonde en opwindende huwelik, maak seker jy en jou maat trek mekaar gereeld uit. Na jare se huwelik, raak seks dikwels ‘n roetine-taak wat vooraf beplan word. Jy en jou maat trek jul klere onseremonieel uit, 1-2-3 en dis verby. Doen moeite. Trek mekaar se klere uit en rek die seks uit…

V = Verrassings. Hoewel roetine deel is van enige getroude paartjie se huwelik, is dit goed om nou en dan uit te breek en jou maat te verras. Los ‘n nota, of ‘n bossie blomme of ‘n liedjie oor die radio… wat ook al jy kan om jou maat te laat verstaan dat jy hom/haar onverwags spesiaal wil laat voel.

W = Wees deursigtig. Deursigtigheid is een van die belangrikste eienskappe van ‘n huwelik wat werk. Jy wil hê jou maat moet jou vertrou en as jy vertrouenswaardig is, het jy mos niks om weg te steek nie. Daarom, gee vir jou maat jou bankrekening-nommer, jou selfoon wagwoord en alle wagwoorde waarmee hy/sy toegang tot jou rekenaar en rekeninge kan kry.

X = XXX. Soen! Moet nooit die krag van ‘n lekker soen onderskat nie. Daar is dae wat ‘n mens net te moeg is of wat daar nie tyd is vir behoorlike bed-pret nie. Dit beteken nie dat ‘n behoorlike soen van die tafel af is nie… Soen jou maat voor slaaptyd, voor werk en soggens wanneer julle wakker word. Dit kan die dopamien-vlakke ‘n hupstoot gee en jou gelukkiger laat voel.

Y = Ydellik. Moenie die woord ‘sielsgenoot’ ydellik gebruik nie. Ja, dit is só dat sommige paartjies waarlik ‘n maat vind wat soos ‘n legkaart-stuk by hulle pas, maar dit is ook heeltemal normaal dat jy en jou maat die perfekte maats vir mekaar is, sónder om altyd eenhonderd persent te jel. Julle mág verskil, julle mág baklei en julle mag soms voel asof julle mekaar letterlik kan vermóór!

Z = Zero druk. Voel jy soms die behoefte om te wys dat julle ‘n super-paartjie is? Om die voorbeeld te wees in jul vriendekring sodat almal kan sien net hóé verlief julle na dertig jaar steeds is? Daardie tipe druk (wat paartjies dikwels op hulself plaas) is uitputtend! En soms probeer jy só hard om die regte energie te projekteer, dat jy niks hiervan oor het vir jou maat nie. Aanvaar dat julle gemiddeld is, soms ook mag baklei en soms ook mag twyfel. Dis normaal! En dis bevrydend.

Addisionele bronne: www.beliefnet.com; www.bestlifeonline.com

Artikel deur Annelize Steyn