Skoonfamilie het al menige komedie van ’n treffer plot voorsien! In werklikheid is dit nie snaaks nie, veral nie as jou verhouding met jou skoonfamilie jou huwelik benadeel nie…
Twee ouens kuier saam. Die een sê vir sy vriend: “My skoonma is ’n engel.” Die vriend antwoord: “Jy is gelukkig. Myne leef nog.” Grappies soos dié word by troues deur seremoniemeesters uitgeryg – ten koste van elke arme skoonma wat teenwoordig is.
Vir baie skoondogters is dit ’n teer punt. Hulle lag, maar in die stilligheid stem hulle met die knaap saam wat sy vriend geantwoord het. Al die mans skater, hoewel navorsing toon dat skoonma-skoonseun-konflik in die minderheid is. Dít teenoor die tipiese skoonma-skoondogter-scenario’s wat die fliek, Monster in Law, soos kinderspeletjies laat lyk!
’n Skoonma uit die hel…?
“Ek kan maar net nie my nuwe skoonma se guns wen nie,” vertel Sonja (24). Sy is verlede jaar getroud, en afgesien van haar probleme met haar skoonma, is sy en haar nuwe man dolgelukkig getroud. “Sy sukkel om te aanvaar dat ek nou die nuwe vrou in Danie se lewe is, en niks wat ek doen, is reg nie. Ongelukkig breek sy my op ’n baie slinkse manier af wanneer Danie nie in die omtrek is nie. Sy sal met alles wat ek doen fout vind – ván die manier waarop ek rys kook, tot die feit dat ek werk (om die waarheid te sê, ek dink as ek nié gewerk het nie, sou dít ook vir haar ’n probleem wees). Dit is só erg dat ek bang is om kinders te hê. As sy so aangaan oor alledaagse onbenullighede, hoe gaan sy my nie kritiseer oor die manier waarop ek ons kinders grootmaak nie?”
Vir Sonja is dit ’n bitter pil om te sluk. “Sy het selfs al vir my gesê dat sy dink ek is die verkeerde vrou vir Danie, en sy voorsien dat ek hom ongelukkig gaan maak. Ek vertel niks van hierdie dinge vir hom nie, want hy aanbid die grond waarop sy ma loop, en hy sal doodeenvoudig nie glo dat dit waar is nie. As hy dit wel glo en my kant kies, sal dit ’n wig tussen hom en sy ma indryf – iets wat haar net nóg meer vyandig teenoor my sal maak. Ek sit met my hande in my hare en weet nie wat om te doen nie.”
’n Studie wat onder honderde families gedoen is, toon dat meer as 60% vroue erken dat die verhouding met hul skoonma ongelukkigheid en spanning meebring. Dr Terri Apter, die sielkundige en opvoedkundige by Newnham College, Cambridge Universiteit, waar die navorsing vir haar boek gedoen is, het gevind dat twee-derdes van skoondogters glo dat hul skoonma’s jaloerse, moederlike liefde teenoor hul seuns openbaar.
Die 26-jarige Jenny se skoonma het byvoorbeeld twee maande voor haar troudag vir haar e-posboodskappe soos die volgende gestuur: “Wat jy nie besef nie, is dat my seun elke dag, elke minuut van die dag, elke sekonde van elke minuut van die dag aan my dink.” En dan was daar die meer algemene gedrag wat Jenny se skoonma openbaar het, soos om eise te stel, kritiek uit te deel en simpatie te soek.
Hoekom die stryd?
Natuurlik is daar twee kante van ’n saak, en net soveel skoonma’s wat kla dat hulle deur hul skoondogters uitgesluit word. “My skoondogter is só koud teenoor my,” sê Annie (64). “Sy misgun my enige tyd of aandag wat my seun my gee, en gebruik elke geleentheid denkbaar om die belangrikheid en diepte van die band tussen my en hom te minimaliseer.”
Terry se navorsing toon dat slegs 15% van die 75% paartjies wat probleme met hul skoonouers gerapporteer het, skoonma-skoonseun-verhoudings was. Terry meen dat die probleem by ’n magstryd lê, aangesien albei vroue in die verhaal haar eie status probeer daarstel en beskerm, en dan deur die ander een bedreig voel.
“Skoonma-en-skoondogter-konflik ontstaan dikwels uit ’n persepsie dat die een die ander kritiseer of ondermyn, maar hierdie wedersydse ongemaklikheid kan minder te doen hê met eintlike houdings, en veel meer te doen hê met voortdurende, vroulike norme wat min van ons regtig afgeskud kan kry,” verduidelik sy.
Dit maak nie saak wat julle situasie is nie, vir enige jong bruid en nuwe skoonma is dit iets om aan gewoond te raak. Die jong vroutjie wil haar nuwe man gelukkig hou, maar ook (eie aan ons tyd) haar individualiteit behou. Die jong man onthou hoe sy ma dinge gedoen het (soos om vir sy pa koffie in die hande te neem en sy broeke presies te stryk soos hy daarvan hou). Hy glo steeds sy ma se pampoen is die beste op Moeder Aarde en Mamma baai in haar seun se goedkeuring – ’n resep vir ’n ramp! Watter uitdaging is dit nie om te voel jy moet met die vrou kompeteer wat jou man al geken het nog voordat hy gebore is nie! Al sy nukke, grille, voorkeure, irritasies, buie… hoe haal jy ooit in, wonder party vroue?
En dan is daar die arme, nuwe skoonma: Sý het sy rowe gesoen, hom getroos en deur sy hele lewe gedra. Skielik kom ’n jong vroutjie met ’n twintigjarige figuur, vlekkelose vel en groot, blou oë, en sy fokus verskuif. Wees simpatiek! Dink ’n bietjie na oor jou eie verhouding met jou seun en hoe moeilik dit vir jou gaan wees om hom eendag ’af te staan’ aan ’n vrou wat nie weet hoe hy van sy macaroni hou nie.
Lana (36), self ’n ma van twee seuns, sê: “Ek het al baie gedink – as my seuns eendag groot is en ’n ander vrou skielik die hoofrol in hul lewens speel – hoe sou ek daaroor voel? Sy weet meer as wat ek ooit van sy dag-tot-dag bestaan sal weet, en ek is after all sy ma!” Gelukkig het Lana ’n oop kop. Anders as outeur, Ayelet Waldman, wat ruiterlik erken: “Ek kry die jong vrou wat sal probeer om haar tussen my en Mamma’s boy in te wurm, jammer. Ek simpatiseer met die monumentale aard van haar taak. Ek simpatiseer met die hoeveelheid werk wat voorlê, maar nie met haar nie. Om die waarheid te sê, die blote gedagte aan hierdie persoon, hoewel sy nog slegs in my verbeelding leef, stuur my na vlae jaloesie wat ongemaklik is om te erken…”
Die skoonfamilie en jou huwelik
Terry meen dat die realiteit en vasberadenheid van familie een van die bes bewaarde geheime van die moderne era is. “Die enigste realistiese manier om die huwelik te benader is om te aanvaar dat daar ses mense in die huweliksbed sal wees.” Die spanning tussen ma en dogter lê deels in die ma-seun-verhouding wat ’n element van romanse bevat en wat die ma-dogter-verhouding nie het nie.
“Hierdie unieke dinamika kan kompetisie ontketen wanneer ’n ander vrou die nuwe naasbestaande word,” verduidelik sy. Sy sê ook dat spanning vanuit die nuwe vrou se verwagting ontstaan dat sy nie net die belangrikste vrou in haar man se lewe sal word nie, maar ook as skoondogter omhels, ondersteun en alleen gelaat sal word. Dít terwyl die man albei balle in die lug moet hou – dié van man en dié van seun.
Jou skoonma is nie noodwendig ’n heks nie, maar berei jou voor op ’n paar ongemaklike oomblikke wanneer jy in ’n nuwe familie in trou. Daar word beweer dat prinses Diana se skoonpa vir haar ’n brief geskryf het waarin hy gevra het: “Kan jy eerlikwaar in jou hart kyk en sê dat Charles se verhouding met Camilla niks met jou gedrag teenoor hom in jou huwelik te doen gehad het nie?” Daar is selfs ’n vergadering gereël sodat Philip en die koningin met Charles en Diana oor hul huweliksituasie kon praat.
Is dit reg dat jou skoonfamilie hul opinies oor jou en jou man se huwelik moet lug? Beslis nie, meen die kenners. “Die situasie is definitief vererger deur sy [Philip se] inmenging,” meen Gladeana McMahon, raadgewer wat by die Britse Vereniging vir Berading en Psigoterapie geregistreer is. “As Skoonpa inmeng, voel die nuwe lid van die familie waarskynlik dat daar teen haar saamgesweer word, en voel sy vervreem. Die lewensmaat word ook onder hewige druk geplaas, omdat hy moet besluit waar sy lojaliteit lê – by sy ouers, of by sy lewensmaat.” (SMG Sunday Newspapers Ltd)
Wanneer die ‘nuwe vrou’ soos ’n indringer voel
Soms, wanneer ’n familie geheg aan mekaar is, is dit moeilik om die nuweling te aanvaar. Louise (24) vertel dit vanuit die perspektief van ’n vrou wat aan haar getroude broers se nuwe lewensmaats gewoond moes raak.
“Toe ek en my suster in die hoërskool was, het twee van my broers hul sielsgenote ontmoet – dit was vir my en my suster moeilik, omdat ons nie ons boeties baie sien nie, en dikwels vir hul aandag moes veg. Ons moes gewoond raak aan die idee dat my broers ander vroue in hul lewens gehad het.
“Ons was altyd gewoond daaraan dat al die kinders onder een dak gebly het, maar my boeties het uitgetrek en saam met hul verloofdes (nou hul vroue) ingetrek. Dit was vir my ma baie moeilik. Daar was baie rusies tussen my broers en my ma. My broers het hul vroue teen my ma beskerm en dit het baie konflik tussen my ma, my broers en my skoonsussies veroorsaak… eindelik het hulle ophou kuier om argumente te vermy,” meen sy.
“Daar was ook kompetisie tussen die twee skoonsussies om die gunsteling skoondogter te wees, en hulle het mekaar pal sleggesê. Die grootste uitdaging is steeds om met almal oor die weg te kom, want my skoonsussies het ook broers en sussies, en ek was te jonk om te verstaan dat hulle nie so baie by ons kon wees nie, omdat hulle hul eie verantwoordelikhede het.”
“Onlangs het die jongste van my drie broers getrou en ons het regtig hard probeer om met sy vrou oor die weg te kom, maar sy sal ons nooit eers groet of enige gesprekke met ons inisieer by familie-geleenthede nie – sy groet ook nie eers my ma nie en dit is ’n probleem!
Ons het haar gekonfronteer en sy het gesê dat sy verkies om haar afstand te behou, omdat ons familie is. Sy wil nie ons vriendin wees nie. Sy het net ’n broer en nie ’n groot familie soos ons nie, so sy moes aanpas. Dit was vir haar oorweldigend, en omdat sy nie weet hoe om haar gevoelens uit te druk nie, verkies sy om ’n afstand te behou.
Dit is steeds vir ons moeilik, omdat ons nog so ’n hegte familie wil wees soos wat ons was toe ons klein was, maar sy het anders grootgeword en ons gewoontes verskil.”
Watter kant kies jou man?
’n Tweede huwelik bring sy eie probleme. Stiefkinders kan reeds intimiteit bemoeilik, om nie van die eks-skoonfamilie en nuwe skoonfamilie te praat nie. Dit kan voel of die lewe onbeheerbaar raak! Die geskiedenis van die eerste huwelik het natuurlik ’n effek op hoe die nuwe skoonfamilie jou sal aanvaar. As hulle negatief teenoor jou man se eerste vrou was, kan hulle dalk ontvankliker teenoor jou wees. As hulle egter van haar gehou het, kan daar ’n moeilike tyd vir jou voorlê!
“Ek weet dat my skoonma vir Joan, die eerste vrou, verkies het,” sug Helene, “maar ek is nou hier en Josh het my gekies, so, elke keer wanneer my skoonma iets snedigs of leliks kwytraak, of vir my vertel dat een van my stiefseuns na sy ma lyk en daarom so aantreklik is, lag ek maar net. Ek sal nie toelaat dat hierdie vrou die oorhand oor my kry nie. Ek is vasberade. Ek en Josh sal die huis verlaat, die seuns in die bed sit en oor haar aanmerkings lag. As ek nie ’n sin vir humor gehad het nie, sou dit ondraaglik wees.” Die feit dat Josh dieselfde as sy voel, en sy ma se intensies raaksien, maak dit vir Helene soveel makliker. Dit help as jou man by jou staan.
Dit is ook wat Jane (28) agtergekom het, toe sy besef het dat sy en haar nuwe skoonsus nooit langs dieselfde vuur sal sit nie. “Sy is die soort meisie wat daarmee tevrede is om met Pappa se geld te koop, en het nog nie ’n dag in haar lewe gewerk nie. Ek, aan die ander kant, is ’n werkoholis en geniet dit om my doelwitte te bereik. Ek werp alles in wat ek doen en geniet my werk. Sy ervaar my as ‘onrealisties’ en ‘onsensitief’ as ek sê hoe goed dit by die werk gaan as sy oor dinge by die kantoor uitvra, en sy is ontevrede as ek nie oor die lewe kla nie. Sy sê ek luister nie na ander nie en sy kritiseer my voortdurend.
Eendag, nádat ek ’n bederfpakkie by haar gaan aflaai het vir haar oorsese reis saam met haar man, het sy my oor die kole gehaal omdat ek kwansuis die ’perfekte gasvrou’ by ’n ete vroeër die week wou speel. Ek kan nie wen nie! Sy is ongelooflik jaloers. Wanneer ons saam met hulle met vakansie gaan, help sy nooit nie en kyk net toe hoe ons skarrel om aandete voor te berei en na die ete op te ruim. Dan word ek nog daarvan beskuldig dat ek beter as sy probeer lyk!”
Jane voel sleg omdat sy nie met haar man se sussie oor die weg kan kom nie. ”Hy kom met haar oor die weg, en dit laat my voel of ek soos sy moet wees. Dit is ’n bose kringloop. Ek het darem nou al haar eiesoortige eienskappe begin waardeer, en ek laat dit van my rug af rol as sy my kritiseer. Dit help dat Kyle by my staan, dit maak nie saak wát gebeur nie. Hy sê sy praat uit onsekerheid en ’n gevoel van intimidasie.
“In die huwelik is jou maat jou spieël – nie sommer enigiemand wat ’n opinie oor jou het nie. Sy opinie maak vir my meer saak. Hy bou my altyd op, so ek steur my nie te veel aan haar onvolwasse gedrag nie. As sy tantrums gooi, hou ek my kop omhoog en weet my man het my lief en ondersteun my. My huwelik is ’n veilige hawe in hierdie tipe familie-onmin. My raad aan ander is om ’n ‘ons’ en ’n ‘hulle’ te skep. Ek en Kyle is nou ’n gesin. Ons neem ons eie besluite, ten spyte van wat die res van die familie dink.”
So, wat doen jy van jou kant af?
Onthou, daar is ’n rede hoekom Matteus 19:5 die man beveel om sy pa en ma te verlaat en met sy vrou te verenig. Deur met jou maat te trou, beteken dat jou lojaliteit nou by hom of haar lê. Dit beteken nie dat jy nie meer lojaal teenoor jou ouers is nie, maar dat jou primêre prioriteit nou by jou nuwe lewensmaat lê. Jy en jou maat moet verenig kan saamstaan, ongeag van opinies van buite. Soms meng jou ouers in, nie omdat hulle wil nie, maar omdat hulle jou liefhet, dan is dit jou taak om vriendelik vir hulle te sê dat julle nou jul eie besluite neem en julle onafhanklik en vry wil wees om vir julself te besluit, hoewel julle hul besorgdheid waardeer.
Anelda* vertel: “Die grootste probleem wat ons vroeër in ons huwelik gehad het, was toutrekkery. As ons na my ma-hulle toe was, moes ons die volgende naweek plaas toe gaan, anders was almal – veral my skoonpa – ongelukkig. Hulle het gedurig gebel en gevra dat ons moet kom kuier, asof ons nie ons eie huis gehad het nie, en vir ’n ruk het ons naweek ná naweek uit ons naweek-sakke geleef.
Dit het so aangegaan en dit was regtig uitputtend, totdat ek eendag self vir Skoonpa gesê het dat dit nie heeltemal so werk nie, en dat hy ook moet verstaan dat ons ons eie huis het.”
Nog ’n baie moeilike tameletjie is hoe om konflik met jou lewensmaat se ouers te hanteer. Dit is ’n goeie idee om jou man die ‘middelman’ vir jul konflik te maak. Verhoudings word mettertyd sterker, en bloed is dikker as water, daarom sal jou skoonouers makliker op ’n versoek van hul eie seun of dogter reageer as dit vir hulle nodig is om terug te tree. Dit is dan beter om dit van hul eie kind te hoor.
Wees sensitief vir jou maat se gevoelens jeens jou ouers. As hy benoud of ongerespekteer voel, is dit vir jou belangrik om daardie gevoelens van hom ernstig op te neem en die situasie te probeer verbeter. Of jy nou wil of nie, verandering sal moet plaasvind.
Een van die doelwitte van die huwelik is om ’n identiteit te skep wat onafhanklik van ’n paartjie se ouers s’n is. As dit nie gebeur nie, word ’n gesonde huwelik ’n uitdaging.
Baie huwelikskenners glo dat ’n paartjie nie in dieselfde dorp of stad as hul ouers moet bly nie, omdat hulle nooit die geleentheid kry om op mekaar staat te maak nie, vanweë voortdurende inmenging van die ouers. Dit is moeilik om ’n eenheid te vorm as elke party op hul ouers, in plaas van op mekaar, staatmaak.
Onthou, as jy en jou maat baklei, is dit die verkeerdste ding om jou ouers by die rusie te betrek, want dan word dit “ons” teen “hom”, wat ongesond vir enige huwelik is. (www.familydynamics.net)
Nog ’n paar wenke hoe om skoonfamilie konflik te vermy:
- Doen moeite met jou skoonma. Neem haar saam na die inkopiesentrum of vlooimark toe. Reik uit en probeer die beste in haar sien. Dink aan jou man en die goed wat hieruit kan voortspruit. (bonusfamilies.com)
- Toon respek teenoor hulle, selfs al voel jy jou skoonfamilie verdien nie jou respek nie. Weer eens sal jou man dit raaksien en waardeer. Per slot van rekening doen jy dit vir hom.
- Al glo jy jou skoonfamilie kom uit die warm plek, moet hulle nie kritiseer nie, en selfs as jou man hulle kritiseer, luister net.
- Doen moeite om jul albei se genetiese en kulturele wortels na te vors en deel dit met jou maat. Dit sal vir hom wys dat jy jouself ook nou as deel van sy familie sien en dit sal vir hom oneindig baie beteken.
- Deel jou gevoelens oor jou familie met jou maat. As jy enige familie probleme het, is dit belangrik dat jy jou vir genesing oopstel as jy wonde uit die verlede het, sodat jy saam met jou maat vorentoe kan beweeg.
- Stel vas watter grense daar by jou skoonfamilie is, betreffende jou gevoelens, gedagtes en verwagtinge van vakansiedae, spesiale geleenthede, besoeke, tyd met die kleinkinders, finansiële kwessies en privaatheid.
- Sê nee. Weet wanneer jy genoeg gehad het en gebruik ’n wagwoord sodat jou maat kan verstaan wanneer dit tyd is om die besoek te beëindig.
- Soos wat jou skoonouers ouer word, is dit belangrik dat jy jou praktiese bekommernisse, soos hul gesondheid en finansiële stand van sake met hulle sal bespreek. Vra hulle ook uit oor hul verwagtinge vir hul oudag en die moontlikheid dat hulle later jare nie meer vir hulself sal kan voorsien nie.
- Onthou om altyd jou huwelik ’n prioriteit te maak as daar konflik is, of as jy moeilike besluite oor jou skoonouers moet neem.
- Moenie toelaat dat familielede by julle sake inmeng nie. Probeer julle probleme self oplos en moenie geheime uit jul huishouding met vriende en familie deel nie.
- Versterk jou rol as lewensmaat. Inmenging en ander kwessies kan vererger word deur ’n lewensmaat wat onwillig is om probleme te konfronteer.
- Probeer mekaar se skoonfamilie so regverdig moontlik behandel.
- Sluit jou skoonma in. Sy hoef nie elke oomblik by julle te wees nie, maar laat haar voel dat sy ’n belangrike deel van jou en jou man se lewens vorm. Nooi haar gereeld vir ete, bel haar om hallo te sê, erken belangrike datums en vra haar raad. Sy het per slot van rekening meer ervaring as jy.
- Luister na haar raad. Dit is miskien vir jou moeilik om dit te erken, maar jou skoonma het dalk goeie en waardevolle raad.
- As jou skoonma dinge herhaal, leer om haar aandag af te lei. Erken haar woorde en verander dan die onderwerp deur haar oor haar lewe, geskiedenis en toekomsplanne uit te vra.
- Moenie jou te veel aan klein dingetjies steur nie. Miskien sê sy iets om jou te ontstel – probeer vasstel wat haar redes is. Vra jou man se raad voordat jy haar konfronteer en bly logies as jy met haar praat.
- Besluit vooraf hoe julle spesiale geleenthede gaan deurbring. Sorg dat julle ’n plan van aksie gereed het.
- Bestee tyd daaraan om met jou skoonma te gesels en haar beter te leer ken.
- Bring alleentyd saam met haar deur, sodat julle mekaar weg van die familie en jou maat kan leer ken.
- Hou in gedagte waarvan sy hou en doen dit saam met haar.
- Komplimenteer haar, en onthou, enige moeilike situasie kan deur ’n glimlag of die regte woorde verbeter word.
Addisionele bronne: www.life123.com; www.rediff.com; www.marriage.about.com.