Promosie
As lewensmaats en vennote leef ons saam en ons slaap saam, ons toer, bou en groei saam. In elke fase en faset is hierdie “saam” ’n proses van eenwording, maar nie op ’n manier waar ek moet prysgee wie of wat ek is omdat ek en manlief nou ’n goue middeweg moet vind nie.
Die halfpad-ontmoet of saamwerk aan ’n gedeelde doel werk eerder soos ’n sinergie waar die geheel groter is as die som van die aparte dele. Ons saamwerk maak dit waaraan ons werk beter en die gebied waar ek dit veral sien, is in ons omgee en aangee van God se gee.
Die feit dat ons verskil, beteken ons omgee het ekstra diepte, want die een luister met haar hart en die ander een dink met sy beursie, en saam is dit wat ons doen en bied, soveel meer volledig.
Ons span van Groot FM 90.5 voel geroep om in 2018 te bou – geboue en strukture, gemeenskappe en verhoudings, langer tafels en beter huwelike. Getrou aan ons #HOOPstoot-projek se kriteria, wil ons voortbou op die werk wat mense reeds gedoen het en dit wat God reeds begin het!
Ons eerste bouprojek, Plastic City of Woodlane Village, soos sommige mense daarna verwys, mag dalk ’n plek wees waar julle saam met mekaar en saam met ons ’n verskil kan maak.
Hierdie informele nedersetting het in 2009 tot stand gekom danksy Colin en Denise van die nie-winsgewende organisasie Tswelopele (Step by Step) se ingryping. Die mense het in die bosse gebly in nog erger omstandighede vóór die village daar was.
Met die totstandkoming van die village was daar 3 000 geregistreerde inwoners en 865 shacks. Vandag is daar na beraming ongeveer 5 000 tot 7 000 mense op hierdie stuk grond van agt hektaar, met slegs vier watertenks en een toilet per 150 tot 200 mense.
Daar is honderde voorskoolse kinders tot die ouderdom van ses jaar oud, wat sonder toesig in die village ronddwaal en in die vrot water en rommel speel. Hulle het opgewonde hulle sprinkaan in die plastiek-koeldrankbottel vir my kom wys voordat ’n kwaai ma hulle weer teruggeroep het na die hoop vullis waar hulle buite gespeel het.
Kinders word sommer te koop aangebied vir ’n vreemdeling soos ek. By die kliniek, onder leiding van dr Ellenore Meyer en haar span, kom ’n mens agter hoeveel gesinsgeweld en tiener-swangerskappe daar is.
Dis hierdie einste haglike omstandighede wat Sanet Fagan van SA Cares for Life aan die hart gegryp het en gelei het tot hulle betrokkenheid met ’n strategie wat van binne af buite toe werk. Sy het die eerste dag wat sy daar aangekom het by die mense in hulle plastiekhuisies gaan sit om te hoor hoe hulle die nood beleef.
“Veiligheid vir ons vrouens en ’n skool vir ons kinders,” was hulle eenvoudige versoek. As ons van buite af instorm met ’n antwoord wat vir ons reg klink, kan ons die vraag soms heeltemal mis . . .
Saam met Sanet en een van haar cluster-werkers Pretty, het ek ook so op ’n bed by ’n mamma gaan sit wie se babatjie twee dae tevore gebore is. Pretty het gehelp dat sy by die hospitaal kom, dit het gereën en die ambulans gaan nie sommer daar in nie.
By ’n ander plastiekhuisie het ons op die vloer gesit om planne te maak. Die vrou moes vlug van haar man wat haar en haar kind mishandel. Hoe sal sy die R200 per maand kan bekostig vir hierdie plastiekseil oor haar en haar kind se kop?
Terwyl hofsake sloer en almal gesprekke voer rondom die skuif van die village, is ons hart by die kinders wat bitter swaar kry en om die werk wat SA Cares for Life doen ’n “HOOPstoot” te gee in die vorm van ’n container-skool met al die nodige skryfbehoeftes en opvoedkundige materiaal – ’n container wat ons altyd weer kan skuif as die besluit oor die grond en mense finaal geneem is.
Soos met soveel ander uitdagings in ons stad en land, kan ons nie alles vir almal probeer wees nie, maar ons wil ook nie nalaat om dit wat ons wel vir iemand in nood kan doen, te doen nie. Daarom wil ek jou en jou maat uitnooi om saam met ons te bou aan ’n stukkie vaste hoop in Plastic City.
Indien julle betrokke wil raak, stuur ’n e-pos aan lindie@grootfm.co.za.
Artikel deur Lindie Strydom