Stap is goed vir jou lyf – én jou hart! Jy en jou maat, met vars lug in jou longe, natuurskoon om jou en jou beste pel se geselskap . . . wat is meer romanties as dit?
Pak ’n ligte rugsak en trotseer die buitelewe met jou maat aan jou sy. As julle gesoute stappers is, weet jy waarskynlik al wat om te pak, maar as stap ’n nuwe stokperdjie is, oorweeg dié items:
1. ’n Kaart van jul roete. Ja, dit kan romanties wees om te verdwaal, maar dit kan ook rampspoedig wees! Veral as julle jul bestemming voor donker moet bereik en skielik besef dat julle oos stap in plaas van wes! Maak dus vooraf seker julle verstaan die kaart en hou ’n noodnommer byderhand vir ingeval die kaart skielik nie meer sin maak nie!
2. Sonskerm en ’n hoed. Dit maak nie saak in watter seisoen julle stap en of julle in ’n boomryke gebied stap nie, sonbeskermingsfaktor is ’n móét in Suid-Afrika. As jy enigsins bewus is van Suid-Afrika se velkanker-statistieke, sal jy ’n houertjie sonroom in jou sak, jou kar en by jou voordeur hou.
3. ’n MacGyver-mes of enige soort multitool. Enigiets waarmee jy kan sny, knyp of regmaak, kan werk. As jou rugsak of skoene kilometers van jou bestemming af ingee, sal jy dalk moet handig raak en dan het jy die regte toerusting nodig.
4. ’n Klein noodhulpkissie. Onthou, jy stap in die buitelug en hoewel jy altyd hoop en vertrou dat jy nie enige noodhulp sal nodig kry nie, moet jy wel voorbereid wees. Pak dus ’n mini-noodhulpkissie wat liggewig is en meerdoelige items bevat.
5. ’n Paar pakkies Nudrate. Dié osmolariteit- formule word met jou water gemeng om gehidreerd te bly en die voordele hiervan is legio. Voeg die inhoud van een pakkie by 250ml water om gehidreerd te bly en noodsaaklike elektroliete mee te vervang.
6. Gesonde peuselgoed. Wanneer jy stap, is dit nie die tyd om jou kalorieë te beperk nie. Jy kan wel gesonde, ligte happies saamneem wat jou van genoeg energie sal voorsien om jou staptog te voltooi. Goeie voorbeelde hiervan is neute, droë vrugte en energiestafies.
7. Ekstra klere. Afhangende van wanneer en waar jy gaan stap, gaan jy waarskynlik addisionele klere nodig kry – of dit nou ’n baadjie, reënjas of baaikostuum is. Sorg dat jy iets warms byderhand het – veral wanneer jy vroeg wegspring en jou staptog in die laatmiddag gaan voltooi.
8. ’n Flitslig. Jy gaan dit waarskynlik (en hopelik) nie nodig kry nie, maar sóú iets gebeur en julle kom nie ligdag by jul bestemming uit nie, gaan jy baie dankbaar wees vir dié onontbeerlike item in jou rugsak!