Couples that play together, stay together. Daar steek baie waarheid in dié Engelse gesegde en as jy wonder waar die pret in julle sekslewe heen verdwyn het, is dit dalk net tyd om tussen jul Dominoes daarvoor te gaan soek . . .
Ons weet daar skuil ’n stoute seuntjie in elkeen van julle. Een wat nog lief en lus is vir speel. So, waar is hy? Iewers het hy weggeraak onder die verantwoordelike belastingbetaler se bles, pak en strepiesdas. Dink ’n bietjie terug aan die dae toe jy en vroulief nog jonk, hups en laf was. Die lewe was ’n lied en jy het haar gekielie totdat sy haar uitasem aan jou oorgegee het. Vandag lag julle miskien nog saam met die kinders om die ontbyttafel en stoei jy miskien met jou vyfjarige bulletjie, maar sodra die slaapkamerdeur toegetrek word, geskied 20 minute se stil seks voordat jy na jou bankstate op die internet gaan kyk. Weet jy dan nog nie dat dit heeltemal onnodig is en dat dit nie die grys om jou slape is nie, maar jou mind set wat jou ouderdom bepaal? Grootmense kán ook speel. Ons speletjies is net stouter en meer opwindend. Jy mág nou dokter-dokter speel, so hoekom doen jy dit nie? Jy hoef nie eers kreatief te raak nie, ons gee jou al die idees. Voer hulle net uit!
Reël dat jou ma die kinders oppas. Julle moet minstens een aand per week ’n afspraak-aand hê waarop julle alleen allerlei prettige dinge saam kan doen.
Slangetjies en leertjies
Sluit die deure, ontkoppel die telefoon, gaan sit op die mat en speel Monopoly. Dit klink dalk baie eenvoudig en bitter vervelig, maar dit hoef nie te wees nie. Deur net saam met jou maat te ontspan en iets te doen waarop julle al jul aandag fokus, kan ongelooflik intiem wees. Speletjies kan kreatief wees en gespeel word soos toe julle kinders was, met geen agenda nie behalwe as om saam te wees en pret te hê. Jy sal voel hoe jul vertroue in mekaar (mits jy nie verneuk nie!) en intimiteit groei soos wat die spel aangaan. Om die regte atmosfeer te skep, steek ’n paar paar kerse aan, gooi ’n deken oor die vloer en skink vir julle elkeen ’n glas wyn voordat julle met die spel begin.
Stoute dobbelstene
Dan is daar natuurlik ook speletjies wat nie so onskuldig is nie. ’n Mens kry allerlei seksspeletjies wat baie pret tot jul huwelik kan toevoeg. Van speelkaarte met sensuele prentjies op die agterkant waarmee julle iets soos Strip Poker kan speel, tot kaartjies met idees oor wat om met mekaar aan te vang. So is daar natuurlik ook die krapkaarte en seksdobbelsteentjies. Dié twee dobbelstene bevat verskeie funksies en liggaamsdele. Jy gooi die dobbelstene, dit land op ’n kombinasie en jou maat moet uitvoer wat daar staan. Julle kan selfs jul eie speletjie met twee gewone dobbelstene maak. Skryf jul wildste fantasieë op ’n papiertjie neer en nommer dit van 2 tot 12. Jou maat gooi en sy moet die fantasie of wens op die papier uitvoer wat met daardie nommer ooreenstem. Daarna is dit weer jou beurt. Onthou, wanneer julle stoute speletjies speel, moet julle openlik wees met mekaar. Daar mag geen verwagtinge of beheer en ook geen oordeel wees nie.
Handjies klap, koekies bak
Kook saam kos. Die enigste voorvereiste is dat julle nie ernstig of kompeterend in die kombuis mag raak nie. Bak ’n koek en versier dit op ’n lawwe manier. Smeer mekaar met versiersuiker en lek dit af. Julle mag mekaar nie help of kritiseer nie. Anything goes! Die internet het ’n verskeidenheid resepte wat julle saam kan probeer. Gaan na cooking.com vir oulike en maklike resepte. Wie weet, kort voor lank
waai die potte wanneer jy haar op die kombuisblad of die vloer vol meel vastrek. En as julle by die eet van jul skepping uitkom, onthou om mekaar met jul vingers te voer.
Pocahontas-pret
Maak ’n kermisbed voor die televisie, kompleet met matrasse, duvets en kussings. Gaan neem ’n fliek uit. Dit moet egter ’n skreeusnaakse komedie of animasieprent wees om jul kinderdae te herroep. Maak vooraf springmielies en koop kaaskrulle en suigstokkies. Kyk nou saam televisie soos lawwe kinders. Lag weer uit jul mae en verwonder julle aan die onskuld van animasie-liefdesverhale. Onthou, lag is wonderlike medisyne vir mense wie se lewens oornag ernstig geword het.
Speel huis-huis
Gaan kyk saam na huise. Ry miskien na die naaste sekuriteitskompleks en gaan verwonder julle aan die paleise daarbinne. Al is julle geensins van plan is om nou ’n nuwe huis te koop nie, is dit steeds prettig om saam te droom. Julle kan idees steel vir wanneer julle eendag regtig jul droomhuis kan bekostig en intussen net maak asof julle nóú daardie huis kan koop. En as julle iewers ’n huis ontdek wat oop staan en julle toegang kan kry tot die erf, gaan vang ’n vinnige vry in die agtertuin!
Soek die drie susters
Een van die prettigste en mees romantiese dinge wat julle saam kan doen, is om sterre te kyk. Die kans is goed dat julle dit baie lanklaas gedoen het. Besluit saam om na ’n spesifieke ster of stellasie te soek. Doen vooraf navorsing op die internet hieroor – jy sal haar met jou kennis beïndruk. Gooi dan op julle afspraak-aand ’n kombers op die gras, lê op julle rûe en soek saam. Dit is die perfekte voorspel vir wat later op daardie einste kombers kan gebeur! En as jy nie kan wag tot vanaand nie of julle miskien skrikkerig is om alleen buite te lê, doen dit helder oordag en maak saam prentjies uit die wolke. Kinderlik, ja, maar dit is die idee!
Leer om te dans
Bespreek ’n danskursus vir julle twee. Ja, ons weet die kans is goed dat jy jou neus sal optrek vir dié idee, maar jy sal beslis baie punte by vroulief score. Dans is ’n heerlike manier om van spanning ontslae te raak, fiks te word en saam te speel. En wag tot julle by die Tango kom! Warmer kry jy nie . . . Om saam te dans en selfs aan danskompetisies deel te neem, gee aan ’n paartjie ’n mate van kameraadskap. Julle werk saam vir ’n doelwit, kan saam kla oor die tiran van ’n dansinstrukteur, mekaar se seer voete vryf en eindelik jul diplomas in die slaapkamer vier! Daar word nie verniet vergelykings tussen seks en dans getref nie. En daar is iets ongelooflik eroties aan haar laerug onder jou hand, sy wat haar heupe sensueel voor jou swaai en jy wat uitdagend vir haar kyk. Alles op die maat van sexy, polsende musiek. Gaan bespreek nóú ’n klas.
Food fight!
Hoewel ’n kosgeveg nou nie werklik die aangewese ding is vir jul sygordyne of haar ragfyn, Franse onderklere nie, is daar geen reël wat sê julle mag nie met jul kos speel nie. Neem ’n paar lekkernye slaapkamer toe. Smeer dit, drup dit en lek dit af. Kos is ’n veelsydige seksspeelding en die moontlikhede hiervoor is eindeloos! Probeer heuning, roomys of aarbeisous. As jy op dieet is, kan julle avokado’s, mango’s en piesangs gebruik. Die meeste kossoorte is veilig om aan die buitekant van die genitalieë te smeer, maar wees versigtig voordat jy kos inwendig gebruik. Soet kos kan haar gisinfeksies gee en olierige kos vreet aan kondome. Moet ook nooit iets in die vagina sproei of spuit nie – dit is uiters gevaarlik. As seks en kos nie vir jou saam hoort nie, verhinder niks julle om lekker en sensueel saam te eet nie. Probeer kossoorte wat ’n mens seksueel opwek soos aspersies, oesters op ys en sjokolade . . .
Gaan gly op die ys
Gaan iewers heen vir ’n opwindende speletjie soos ten pin bowling, mini-gholf of ysskaats. Ysskaats is veral baie pret wanneer een van julle dit nié kan doen nie (liefs jy). Dit gee vir haar die geleentheid om jou te help en dit gaan beslis vir ’n paar lagwekkende oomblikke sorg. Maak net seker dat jy nie vir háár lag wanneer sy neerslaan met haar rok oor haar kop nie – sy gaan nie dink jy is oulik nie. Lag eerder sáám met haar vir jou eie hulpeloosheid op die ysskaatsbaan.
Nommer asseblief . . .
Onthou jy toe julle jonger was en julle aan vreemdelinge se deure geklop het, net om daarna weg te hardloop? Of mense gebel het en gemaak het asof julle iemand anders was? Jy en jou maat kan jul eie telefoonspeletjie speel. Elkeen van julle moet in verskillende kamers van die huis sit. Dan moet jy haar bel en sy moet maak of sy nie ’n idee het wie praat nie. Vra haar in ’n donker stem wat sy aanhet. “Teister” haar nog ’n rukkie voordat jy sê dat jy haar kan sien van waar jy sit en graag wil hê sy moet haar bra vir jou uittrek. Dit hang van julle af hoe lank julle hierdie speletjie wil volhou voordat julle mekaar in een van die kamers ontmoet en oorrompel!
Catwoman en Spiderman
Klein kindertjies is mal daaroor om soos TV-karakters aan te trek. Sê vir vroulief jy is lus om saam met haar dress up te speel. Ruk ’n paar kostuums uit die hoed. Jy kan uitrustings by enige kostuumwinkel huur. (Sorg dan net dat jy nie dié speletjie en die kosspeletjies kombineer nie of dit kan jou ’n aardige bedraggie uit die sak jaag!) As jy ’n ding het vir swart, stywe leer en ’n sexy kat, vra haar om soos Catwoman aan te trek. Sy kan op haar beurt vir jou vra om soos Spiderman aan te trek en jy kan haar ’n onderstebo soen gee. As dit vir julle te lagwekkend is, kan julle altyd by die staatmakers soos verpleegster, skoolmeisie of handy man bly . . .
Wegkruipertjie
Wanneer sy reeds in die bed en half aan die slaap is, sluip die kamer binne, kruip stilletjies aan die onderkant van die duvet in en knibbel haar tone. Soen haar dye en kielie haar. Ons almal weet waar dit gaan eindig! Julle kan ook wegkruipertjie met ’n flitslig speel deur die volgende te doen: Maak die kamer pikdonker. Elkeen kry ’n beurt met ’n flitslig. Skyn die flitslig op die kol op jou lyf waar jy die graagste deur jou maat geliefkoos wil word. Jy kry ook ’n beurt. Die kanse is goed dat julle nie lank hierdie speletjie sal kan volhou voordat al die klere waai nie!
Gaan oefen saam
As julle mekaar al ooit tot ’n lang wedren uitgedaag het of mekaar laat les opsê het in die gimnasium se gewig-afdeling, sal julle weet dat sweet ’n mens nader aan mekaar kan bring. Hoekom? Prof. Peper Schwartz, ’n sosioloog aan die Universiteit van Washington, meen dat wanneer jy oefen, jou hele hormoonstelsel opgewek word. En as jy dink die rushvoel van endorfiene voel goed as jy alleen is, stel jou voor wat sal gebeur wanneer julle albei op dieselfde tyd, op dieselfde plek só voel. Wanneer sy boonop sien hoe sterk jy is, hoeveel selfdissipline jy aan die dag lê en hoe atleties jy is, sal sy jou net meer bewonder. En as julle buite hardloop of fietsry, kan die natuurskoon ’n wonderlike seksopkikker wees.
Die moontlikhede is legio. Hoewel dit goed is vir julle om gehaltetyd weg van mekaar af deur te bring, soos wanneer jy gaan jag en sy saam met vriendinne vir die naweek na ’n spa toe gaan (onthou dié een wanneer jy weer wil weggaan vir ’n naweek – spabehandelings sal jou baie punte besorg!), is dit ewe goed om dinge saam te doen. ’n Mens kan maklik vasval in huishoudelike verantwoordelikhede sodat julle niks meer het om met mekaar oor te praat as die huis, die kinders en die honde nie. Deur saam te speel, kan julle ’n nuwe wêreld ontdek waarbinne julle baie pret kan hê. Dit kan julle weer so opgewonde soos kinders maak, die vlinders terugbring, asook daardie gevoel van “Kerspresente-onder-die-boom-oopmaak”. As dit boonop jý is wat die eerste stap neem om iets aan julle vanilla-sekslewe te doen, sal vroulief deur net dié blote idee opgewarm word. So, hou jou kinders dop. Kyk wat hulle plesier verskaf en pas hul speletjies net so ’n bietjie aan. Saam speel beteken eindelik saam vry en vir ewig en altyd gelukkig saam bly!
Addisionele bronne: ezinearticles.com, dietdetective.com, Sex Play, deur Anne Hooper (The Penguin Group) en Superhotsex deur Tracey Cox (The Penguin Group)