Rooiwyn en sjokolade is ’n bedpret-bederf wat enige paartjie se aand sal opkikker. Hier is tien smeulende idees met hierdie twee bestanddele.

Promosie

Hoekom rooiwyn en sjokolade? Wel, rooiwyn verhoog die bloedvloei na die erotiese sones op jou lyf en sjokolade is ’n bekende aphrodisiac. So hoekom nie die twee kombineer vir ’n optimale seksuele opkikker nie!

Heerlike nagereg: Koop goeie gehalte sjokolade en soek vir ’n rooiwyn wat die smaak sal komplimenteer. Jy hoef ook nie noodwendig sjokoladeblokkies te gebruik nie – ’n sjokoladepoeding of -koek sal net so goed werk. Nuttig ’n ligte maaltyd vooraf – ’n vol pensie maak mens lomerig – en bedien die rooiwyn en sjokolade as nagereg. Wag vir die tintelende effek om in te skop en julle sal weldra lus wees vir ’n ander tipe nagereg.

Skattejag: Is jou maat mal oor sjokolade? Skep ’n skattejag-soektog – op jou lyf! Plak klein sjokoladestafies (onoopgemaak natuurlik) oral op jou lyf vas. Jou maat moet jou klere uittrek om by al die skatte uit te kom. Maar voor die soektog begin – eers ’n paar glase rooiwyn om die koördinasie ’n bietjie van stryk te bring. Daar is niks soos die gesukkel met ’n hempsknoop agter ’n stukkie sjokolade aan om jou maat mal te maak van afwagting nie! Moenie verbaas wees as ’n paar knope of ’n ritssluiter in die slag bly nie.

Promosie

Wees die poedingbakkie: Los die mooi kristal-poeding­bakkies vir jou gaste en word jou maat se naakte nagereg. Jy kan self ’n bietjie sjokolade body paint op jou borste smeer of ’n sjokoladestafie oor jou lyf krummel, óf jy kan manlief free reign gee om sy eie kunswerk op jou lyf te maak. Gebruik sommer bietjie room en neute ook en omskep jou lyf in ’n sundae. En nee, jy gaan nie koud kry nie – dit is waarvoor die rooiwyn daar is!

Smaaklike penis: Verbeel jou dat jou man se penis van sjokolade gemaak is… hmmm. Bewaarheid daardie dag-droom! Jy kan jou man se pride and joy vol sjokolade smeer voor orale seks of ’n klein blokkie sjokolade in jou mond hou tydens orale seks. Sodra die meerderheid sjokoladesmaak verdwyn het, neem ’n paar slukke rooiwyn en gaan voort. Die verandering in die temperatuur van jou mond gaan ’n lekker verrassing wees en natuurlik ander smake verdoesel.

Wegkruipertjie: Jaag manlief ’n glas rooiwyn in, blind­doek hom en draai hom drie keer in die rondte in die sitkamer. Gaan lê nakend op die bed. Terwyl manlief sy pad na die kamer vind, smeer sjokolade op strategiese plekke op jou lyf. Manlief moet dan, slegs met sy mond, die sjokoladepad oor jou lyf vind. En onthou, al die sjokolade moet verorber wees voor hy sy werklike poeding kan kry!

Sjokoladebad: Gee jouself en manlief ’n spa-behandeling met ’n sjokolade-skuimbad, sjokolade-gegeurde kerse en ’n bottel rooiwyn. Julle mag nie uit die bad klim voor al die wyn nie op is nie! Hoe maak ’n mens sjokolade-badskuim? Maklik! Gooi 1/3 koppie melk in ’n kastrol op die stoof en breek 85g donker sjokolade daarin. Meng dit goed en haal dit af net voor dit begin kook. Laat dit afkoel. Voeg dit saam met een koppie ongegeurde badskuim onder lopende badwater. Ontspan en geniet.

Body shots: Dié gaan ’n lekker morsige een wees, so wees voorbereid! Gooi die rooiwyn in jou maat se naeltjie, asook in al die sensitiewe voue oor sy lyf. Dit is meer sensueel om dit stadig op jou maat te laat drup as wat jy die hele bottel net omkeer. Gee jou maat ’n stukkie sjokolade om aan te knibbel terwyl jy hom druppel vir druppel verlei.

Sexy happie: Weet jy hoe om sjokolade op só ’n manier te eet dat dit ’n turn-on vir jou maat is? Moenie die hele sjoko­ladeblokkie net in jou mond prop nie – hou die blokkie tussen jou vingers vas en suig daaraan terwyl jy jou maat in die oë kyk. Sodra die sjokolade begin smelt, lek dit verleidelik van jou vingers af. Byt ’n stuk sjokolade af, stoot dit met jou tong uit jou mond tot op jou lippe en laat jou maat dit afsoen. Julle kan selfs die sjokolade oor-en-weer vir mekaar French kiss.

Blindelings: Koop verskillende soorte sjokolade en wyn en hou ’n fynproewersaand in die slaapkamer. Besluit wie word eerste geblinddoek – hy is die fynproewer. Die ander een moet hom voer. Julle kan ook tussendeur vars vrugte gebruik wat in die wyn gedoop word. Dit is heerlik om nie te weet wat­ter smaak om volgende te verwag nie en dit is baie stimulerend vir jou sintuie.

Stoute eetgoed: Gebruik ’n blok sjokolade wat maklik sal smelt of koop ’n pakkie sjokolade wat uit verskillende vorms bestaan (soek spesifiek vir langwerpige en ronde vorms.) Jy kan dit doen as ’n verrassing vooraf, of julle kan saam beplan hoe om die lekkernye te gebruik om stoute vorms te maak. Byvoorbeeld, twee ronde sjokolades met ’n jellytot elk op kan borste verteenwoordig. Of soek vormpies waarin jy die gesmelte sjokolade kan giet wat soos ’n penis met testikels lyk. Julle kan ure se pret hê hiermee terwyl julle giggel vir mekaar oor ’n glasie rooiwyn.

Terloops, nie alle sjokolade en wynsmake gaan saam nie. Kenners meen jy moet sjokolade met sagte geure kombineer met ’n ligte wyn en donkerder sjokolade met sterker wyn. Moet jou nie bekommer oor al die kilojoules nie – so gou soos jy hulle inneem, verbrand jy hulle weer!

 

Deur Thalia Brüssow
Bronne: lovingyou.com, askmen.com, wikihow.com