Dit is laataand en jou beursie het pas gehoes, of eerder gestik, by die peperduur restaurant wat sý uitgesoek het. Maar sy lyk tog te sexy in die nuwe swart nommertjie wat met jóú kredietkaart betaal is en jy kan nie wag om daardie brabandjie wat die hele aand stout vir jou onder haar bostuk uitgeloer het, finaal oor haar skouers te laat glip nie . . .

Promosie

Jy het die hele aand Franse cuisine op jou bord rondgekrap om dit na iets te laat lyk wat ’n man se maag kan volmaak en na musiek geluister wat jy nie verstaan nie. Sodra julle by die huis kom, gaan jy die klere van haar lyf afstroop en regstaan vir ’n welverdiende quickie. Jy het nou mos die voorspel uitgerek solank soos wat jy kan. Reg? Verkeerd. Nie so haastig nie. As jy jou vrou wil charm en wil seker wees sy dink nie ’n verskoning uit ná volgende week se geen-kinders-afspraak nie, moet jy jou storie ken.

Die vroulike spesie is kompleks (asof jy dit nie reeds weet nie!). Onthou, Evas wil die hof gemaak word en die hele liefdespel is vir ons een groot vertoning. Dink só daaraan. As jy ‘n kontrak met ‘n belangrike kliënt wil sluit, gaan jy nie met die intrapslag by die deur ’n pen aan hom oorhandig nie. Jy gaan eers die game speel. Hom laat verstaan hoe oulik jy en jou maatskappy is. Daarna gaan jy hom nooi vir ’n rondte gholf en miskien ’n ete-afspraak of twee en só trek jy die groot vis in. Vroulief is dieselfde. Al weet ons dat julle eintlik in ons klere wil klim en dat die voorspel maar net vir julle ’n middel tot ’n doel is, verkies ons om te maak asof ons dit nie weet nie, dankie! So, rol die rooi tapyt uit en hou jou mond gereed, want alles begin by ’n goeie soen!

Onthou jy jou eerste soen? Nie daardie piksoen wat jou niggie jou op die wang gegee het of die natte wat tant Lalie so sonder waarskuwing op jou lippe kom plak het en jy verontwaardig afgevee het nie. Nee, daardie eerste soen wat jou lyf van kop tot tone laat tintel het. Jou eerste wafferse French Kiss! Dit was waarskynlik agter die pawiljoen of in die fliek se agterste ry. Sy was die mooiste meisie in die skool en die risiko om gevang te word, was groot. Toe, ’n hele paar oefensoene later, het jy die liefde van jou lewe ontmoet en tussen jou en vroulief het die vonke ook waarskynlik gespat terwyl daar soene in oorvloed was en sy moes sukkel om jou hande van haar bates af te hou.

Promosie

Soos die jare aangestap het, het hierdie warm soene van eens moontlik oorgeskakel na funksionele hallo- en koebaai-soentjies. En dít, Meneer, is waar julle die grootste fout maak. Want as jy dit behóórlik doen, is soen die meeste pret wat jy met jou klere aan kan hê. Dit kan ’n verhouding red en jou wêreld laat stilstaan. In baie gevalle kan ’n soen só bevredigend wees dat jy niks meer verlang nie (ons weet dit klink onmoontlik, maar probeer dit). Baie sekswerkers weier om hul kliënte te soen as deel van die pakket. Absurd miskien, maar van hulle meen dat ’n soen net té persoonlik en intiem is. As jy reeds vergeet het hoe om ’n soen te gee wat ’n eerste plek kan losslaan, lees hierdie dertig wenke:

WENK #1: Elke soort soen leen hom tot ’n spesifieke situasie, so ken jou plek en jou tyd en weet wat jy met jou lippetaal wil kommunikeer. Wanneer jy en vroulief in die kar klim op pad na julle afspraak toe, gee haar ’n teer soen op die wang en vertel haar hoe mooi sy lyk. Later, wanneer julle terug by die huis en in die slaapkamer is, kan jy jou tong stouter truuks laat doen.

WENK #2: Onthou om baie bewus van mondhigiëne te wees. Wanneer jy jou vrou met jou soentalente wil oorrompel, is dit wys om nie knoffelslakke te bestel terwyl sy by ’n Griekse slaai bly nie. So lief soos wat sy vir jou is – soen gaan nie hoog op haar prioriteitslysie wees nie. En al het jy nie knoffel geëet nie, gaan borsel steeds jou tande voor ’n vrysessie. Dit wys net vir haar dat jy wil hê die soen moet vir haar lekker wees.

WENK #3: Lees jou maat. As sy kerm oor haar geleerde sykouse en die skoene wat haar heelaand al druk, terwyl sy fronsend die badwater oopdraai, is dit miskien nié ’n goeie tyd om oor te leun om haar ’n nat soen te gee nie. Wanneer sy egter uit die bad klim en ontspanne haar hare voor die spieël afdroog, sal sy meer ontvanklik wees.

WENK #4: ’n Swak soener sien ’n soen as die volgende stap in ’n skattejag wat na ’n goudpot lei. ’n Goeie soener sien die soen as die skatkis self. Hy soen asof hy nooit ooit weer iets anders met hierdie vrou sal doen nie en asof hy nooit weer iets anders met haar wíl doen nie.

WENK #5: Jou maat soen jou waarskynlik soos sy gesoen wil wees. So, as sy sagte romantiese, intieme soene al langs jou ruggraat af plant, is die kans goed dat sy nie jou tong om haar mangels geknoop wil hê nie. Laat jou dus deur haar bui lei om seker te maak jy is op die regte pad.

WENK #6: Voordat julle mekaar soen, hou by die ongeskrewe reël om jou vrou vir minstens drie sekondes lank in die oë te kyk. Dit sê vir haar dat jy regtig op haar en op haar alleen gefokus is, dat jy haar waardeer en dat jy haar bewonder.

WENK #7: Om jou hande om haar gesig te plaas, asof jy jou kosbaarste item vashou, is ’n wenner. Daar is net iets aan ’n man se hande om sy vrou se gesig wat dit vir haar dóén. Onthou om haar nie vas te hou asof jy haar kop as ’n rugbybal beskou nie. Die geheim is om haar wange sagkens aan weerskante vas te hou.

WENK #8: Lei jouself in die oomblik in. Maak jou oë toe en ruik jou maat. Maak jou lippe effens oop en beweeg met jou hele lyf nader aan haar. As sy reageer, druk jou bors nader aan haar, dan jou middel en laastens jou heupe. Voel haar ritme aan en pas daarby aan.

WENK #9: Daar is ’n paar ander grepe wat ewe goed kan werk. As jy van ’n meer intense soen hou, kan jy altyd jou hand agter haar nek plaas, ’n gebaar wat sê: “Kom hier, jou pragtige ding.” Trek jou vingers deur haar hare, plaas jou hande op haar heupe of op die ribbetjies onder haar borste. Jy kan haar liggies nader trek in hierdie posisies.

WENK #10: Visualiseer al haar senuwee-eindpunte – duisende hiervan op elke van haar tong en lippe. Dit beteken dat jy baie min druk daarop hoef te plaas om ’n indruk te maak. Beweeg liggies met jou tong oor haar lippe, suig haar tong of knibbel daaraan met jou tande (sagkens!). Daar moet genoeg speeksel by die storie betrokke wees sodat jul lippe glad oor mekaar kan gly op ’n sexy manier.

WENK #11: Soen asof die wêreld om julle kan vergaan. En wanneer julle so intens soen, fokus daarop om jou tong diep in haar mond te plaas. Onthou, jou tong het ’n growwe kant en ’n gladde kant. As jy weet hoe om slim hiermee te werk, gaan haar senuwee-eindpuntjies hande klap! ’n Chinese spreekwoord sê: “Om te soen is soos om soutwater te drink. Jy drink en drink en jy word net dorser.”

WENK #12: Moenie met die deur in die huis val deur dadelik jou maat met ’n oop mond aan te val nie. Begin eers met ligte, toemond-soene, waarna jy jou lippe uitmekaar kan beweeg en oorgaan na ’n meer intense soen.

WENK #13: Fokus geheel en al op wat jy doen. Moenie dink aan wat jy later met haar tussen die lakens gaan aanvang nie. Beskou hierdie soen as die eerste en laaste soen wat jy ooit in jou lewe sal hê, sonder dat enigiets noodwendig daarop hoef te volg. Fokus op presies waar jou tong is en hoe dit jou laat voel. ‘n Baie slim man het eens gesê: “Enige man wat veilig kan bestuur terwyl hy ’n mooi meisie soen, gee doodeenvoudig nie die soen die aandag wat dit verdien nie.” (Terloops, dit was Albert Einstein!)

WENK #14: As jy nie seker is in watter bui jou vrou is nie, gaan altyd vir die stadige, teer opsie. As sy lus is vir ’n meer indringende, passievolle soen, sal sy die toon aangee. Daar is natuurlike tye wat jy onmiddellik sal weet sy is lus vir ’n goeie vry en dan kan jy maar laat waai!

WENK #15: Maak maar somtyds jou oë oop. Mense maak hul oë toe om die soensensasie te verhoog. Dit is egter soms baie sensueel om met jou oë oop te soen. Deur vir jou maat te kyk op hierdie ongelooflike intieme oomblik, kan dieselfde uitwerking hê as om seks te hê met die ligte aan –’n intieme en persoonlike ervaring.

WENK #16: Soen haar ore, ooglede en nek. Dit is alles areas wat haar hoendervleis sal gee as jy dit reg doen. Sy sal jou laat verstaan waarvan sy hou en wat haar geensins aanstaan nie. As sy miskien te kielierig is vir jou om haar in die nek te soen, moenie daarmee aanhou nie tensy jy ’n histeries giggelende maat wil laat probeer bedaar.

WENK #17: Moenie jou vrou verdrink nie! Die hoeveelheid vog moet dieselfde bly as wanneer jy nie soen nie. Te veel speeksel kan iemand onmiddellik afsit. Moet jou mond ook nie styf span nie. Jou lippe moet geensins pap wees nie, maar iewers tussen gespanne en ontspanne.

WENK #18: Jy mag maar ’n terggees wees. Gee haar ’n voorsmakie en trek dan effens terug. Sy sal waarskynlik inleun om meer van jou suikersoet lippe te proe en dit is dán wanneer jy maar mag toegee.

WENK #19: Moenie vergeet om jou hande te gebruik nie. Dit moenie vir haar voel asof sy ’n seekat probeer afweer nie, maar deur haar hare te streel, jou hand met haar rug langs te beweeg of met jou vingers oor haar arms te streel, gaan dit vir haar nóg lekkerder maak (probeer om nie dadelik te mik vir die erogene sones nie!).

WENK #20: Ontwikkel jou eie soen-styl. Die kuns van soen is eintlik dat jy en jou maat dit saam gaan ontwikkel. Omdat ’n soen soveel van ’n aksie-reaksie-effek het, gaan julle saam jul eie styl skep. Moenie by een ding bly nie, eksperimenteer en oefen dít wat werk!

WENK #21: Moenie jou kop voortdurend beweeg nie. Baie mense kry wenke van die televisie af en besef nie hulle lyk soos knikkie-poppe wanneer hul koppe heeltyd heen en weer beweeg nie. Jy kan jou maat lank met jou kop in een posisie soen, voor dit tyd is om kante te ruil.

WENK #22: Die geheim is om nie net jou tong te gebruik nie, maar ook jou lippe, tande en jou asem. Soen jou maat agter haar ore, blaas dan liggies met jou warm asem daaroor. Dit is ’n tegniek wat haar gek van plesier sal maak.

WENK #23: Beweeg met jou sagte, ontspanne lippe al met haar haarlyn langs, af met haar nek tot by die sensitiewe area waar haar haarlyn ophou. Lek en knibbel daardie sensitiewe deel.

WENK #24: Gebruik sjokolade, heuning, pepermentlekkers of wyn om jou lippe lekkerder te laat proe voordat jy haar soen.

WENK #25: Elke soen het ’n onderliggende bui. ’n Soen kan speels wees, passievol, intens. Dit kan spreek van opgeboude begeerte of dit kan stadig en supersexy wees. ’n Soen kan sê: “Ek is só lief vir jou,” “Ek wil onmiddellik seks met jou hê,” “Ek kan nie glo ek is so gelukkig om jou te hê nie,” of “Jy’s my sielsgenoot.”

WENK #26: As jy lus is om die dag soos ’n ware grotman te soen, speel met die idee dat jou vrou totaal en al in jou mag is. Beweeg jou hande na die agterkant van haar kop en hou ferm aan haar haarwortels vas (moet asseblief net nie haar hare trek nie). Soen haar dan dringend! Nog ’n grotman-variasie is om haar teen ’n muur staan te maak en haar dan honger te soen (The Complete Idiots Guide to Pleasing your Woman, deur Eve Salinger).

WENK #27: Plaas ’n klein ysblokkie in jou mond voordat jy jou maat soen. Dit sal koel, sensueel en heerlik wees. Jy kan ook sjampanje in jou mond hou vir ’n bruisende soen. Of ’n stukkie sjokolade met jou tong vir jou maat aangee…

WENK #28: Wat van ’n onderstebo soen? Het jy al ooit Spiderman gekyk? Dit was een van die mees sensuele soene ooit . . . Volgende keer wat sy so onweerstaanbaar met haar opgetrekte bene op die bank sit, buk agter oor haar terwyl sy televisie kyk en gee haar ’n ware Spiderman-soen.

WENK #29: Volgende keer wat julle saam gaan swem, knipoog en sê vir jou vrou sy moet jou onder die water kry. Gee haar dan ’n lekker nat soen onderwater. Dit is baie opwindend!

WENK #30: Speel ’n soenspeletjie met jou maat. Besluit op ’n spesifieke woord, byvoorbeeld “liefde”. Elke keer wat julle in ’n geselskap of by die huis is en julle hoor daardie woord uit iemand anders se mond, op die televisie of op die radio, moet julle mekaar soen. Dit kan prettig wees en gaan sorg dat julle op die onmoontlikste tye moet reg sit vir ’n lekker smooch!

WENK #31: Hoe weet jy sy het dit geniet? As jy haar soen en terugtrek en haar oë bly toe vir ‘n oomblik langer, het sy regtig jou soen geniet (articlecity.com).

WENK #32: Moet nooit die krag van ’n goeie soen onderskat nie!

Mae West het gesê ’n man se soen is sy handtekening. Daar is vroue wat meen ’n man kan alles reg doen, maar as hy op dáárdie gebied faal, moet hy maar sy ry kry. As daar waarheid in steek, is dit dalk die moeite werd om jou “handtekening” te hersien. Die webtuiste articlebase.com meen: ’n French kiss is ’n orale dans van tonge wat liefde maak.” Dink volgende keer só daaraan en soen mag dalk net vir jou nuwe betekenis kry.

“Daar is twee dinge wat moeiliker is as om ’n toespraak ná ete te gee: om ’n muur uit te klim wat na jou toe leun en om ’n meisie te soen wat weg van jou af leun,” het Winston Churchill gesê. Die geluk is dat vroulief met jou getrou het – die kans dat sy dus weg van jou af gaan leun, is redelik skraal. Iemand het eens gesê dat soen ’n manier is om mense só naby aan mekaar te bring dat hulle niks fout met mekaar kan sien nie. Sóén vir vroulief en kyk hoe die foute verdwyn. Hoe meer jy haar soen, hoe meer gaan jy sien hoedat sy agterkom dat jóú foute ook een vir een verdwyn! Probeer dit.