Ons tyd is min en ons verskonings legio! Daar is nie baba-oppassers nie, ons skedules is heeltemal te besig en ons begrotings is knap. Tog is date nights ononderhandelbaar, meen dié wat weet.

Promosie

Is julle baie besig? Raai wat – almal is. Dis wild! Daar is nie eens tyd om al ons verpligtinge na te kom nie, om nie eers te praat van plesiertjies soos romantiese aande en laat-oggend seks nie… En as jy voel júlle is besig, kan jy dink hoe lyk Hollywood celebs se dagboeke? Maar Chrissy Teigen en haar man, John Legend maak seker hulle hou date nights. En as húlle kan…

Wanneer is die laaste keer wat julle waarlik ‘n date night gehad het? Wanneer laas het julle jul selfone en ipads afgeskakel en tyd met mekaar deurgebring? “Date night is so belangrik. Om die waarheid te se, dit is krities,” meen sielkundige en verhoudingskenner, Melanie Schilling, in Australië se The Huffington Post.

Sy meen dat as ‘n paartjie dit kan regkry om net een keer elke twee weke een skerm-vrye aand te hê, hulle gelukkig is. Dit hoef nie luuks te wees nie, dit hoef ook nie die romantiese clichés te wees nie. Dis so maklik om ‘n mens se maat as vanselfsprekend te aanvaar – een van die gevaarlikste terreine waarop ‘n paartjie kan beweeg.

Promosie

Volgens ‘n studie deur The Marriage Foundation, het paartjies wat een keer ‘n maand date night het, ‘n 14% skraler kans om op te breek.

Wanneer jy date night los vir “as ons tyd kry”of “ons sal iets nader aan die tyd beplan”, is die kanse dat dit gaan realiseer baie skraal. Daar is ‘n aanhaling wat lui: “You don’t succeed to the level of your goals, you fail to the level of your systems.”

Maak dus date night ‘n sisteem. Stel ‘n vaste plan en struktuur in plek sodat date night wel gebéúr – dit maak nie saak wát nie! Om ‘n doelwit te bereik moet die doelwit aan vyf vereistes voldoen: Dit moet spesifiek wees. Dit moet meetbaar wees. Daar moet hieroor ooreengekom word. Dit moet realisties wees. En dit moet tyd-gebasseerd wees.

Vermy dus frases soos: “Ons sal later die week ‘n date night hê.” Sê eerder: “Ons sal Woensdag om sesuur Kream to gaan vir date night, waarna ons ‘n fliek by Brooklyn sal gaan kyk.” Maak seker julle is op dieselfde bladsy en as dit voel asof jul te hoog mik, maak jul doelwit meer haalbaar.

4 Goeie redes vir date night

1. Date night versterk jul kommunikasie. Daar is soveel dinge wat ‘n mens se aandag daagliks aftrek, dat date night noodsaaklik is. Ons moet aanhou om mekaar te leer ken. Probeer egter om jul date nights so lig en positief moontlik te hou.

2. Dis ‘n kans om te ontspan en ‘n breuk te vat van daaglikse spanning. Paartjies voel dikwels skuldig wanneer hulle mekaar bó die kinders plaas maar elke paartjie verdien om so nou en dan áf te vat en hul nie oor huishoudelike take te bekommer nie. Dis lekker om soms net die rekeninge en moeilike besluite te vergeet en pret te hê.

3. Date night herinner julle hoekom julle verlief geraak het op mekaar. As julle nie genoeg date nights het nie, vergeet julle om te fokus op mekaar se goeie eienskappe. Een tot een tyd kan julle herinner aan hoe dit was voor die kinders gekom het.

4. Dit verhoog jul commitment. Hoe meer goeie herinneringe julle skep, hoe meer het julle om op staat te maak wanneer julle deur ‘n moeilike tyd gaan. Só kan julle liefdes-reserwes skep. Deur te wys jy is ernstig oor date night, wys jy aan jou maat dat jy ernstig is oor jul verhouding.

4 Verskillende soorte date nights

• Kombineer ‘n gemeenskaplike belangstelling. As julle albei hou van geskiedenis, maak een aand tyd om saam jul familiegeskiedenis na te slaan. As julle albei hou van fiksheid, gaan draf minstens een keer per week saam.

• Beoefen ‘n avontuur – iets wat nie een van julle al gedoen het nie. Beweeg buite jul gemaksone en doen iets wat buite jul raamwerk val. Dalk is dit om Japanese cuisine te beproef as julle albei die boerekos-tipe is.

• Hou ‘n kenmekaar date night. Hoe langer ‘n mens getroud is, hoe meer gewoond raak ‘n mens aan mekaar. Dit voel later nie meer asof daar enigiets is wat julle nié van mekaar weet nie – maar daar is! Maak dié date night ‘n onderhoud, vul ‘n vraelys in of doen ‘n persoonlikheidstoets.

• Maak date night romanties. Wanneer julle date nights beplan, dink aan al die fasette waaruit jul huwelik moet bestaan. Elke date night hóéf nie romanties te wees nie, maar dit is belangrik as julle wel af en toe hierop fokus om die skoenlappers terug te bring.

4 Stelsels wat julle elke maand plek moet kry

• Die kalender. Date nights is ononderhandelbaar. Sien dit as baie belangrike afsprake wat na-ure geskied. Kom bymekaar met jul dagboeke en teken een date night elke week vas in jul kalender. Hierdie datums mag slegs in uiterste gevalle geskuif word.

• Die kinderplan. As julle kinders het, is ‘n plan met die kroos ‘n belangrike prioriteit. Dink oor wie julle volkome met jul kinders vertrou. As julle uit desperaatheid jul bure se sestienjarige dogter as baba-oppasser moet inspan, gaan julle so bekommerd wees dat julle dit in elk geval nie gaan geniet nie.

• Die beplanning. Wanneer daar nie ‘n spesifieke persoon is om die date night te beplan nie, gebeur dit nie! Albei partye maak staat op die ander een om dit te reël en eindelik is daar misverstande, halfgebakte planne en date nights wat nie gebeur nie… By elke maand se date night, moet die beplanner se naam neergeskryf word. Maak beurte, anders gaan die een party voel asof die inisiatief net van een kant af kom.

• Die begroting. Date nights hoef nie ‘n fortuin te kos nie – dit is wel super belangrik dat julle dit as ‘n prioriteit beskou – sóveel so dat julle dit nie afskeep nie. Stel aan die begin van die maand ‘n begroting op en besluit hoeveel aan elke onderskeie date night bestee sal word. Julle kan dit gelyk op deel of julle kan beplan vir twee goedkoop en twee duur date nights.

4 Plekke van inspirasie

Something old. Gaan leen inspirasie uit die ou tyd. Die ou mense het nie Pinterest gehad nie en moes kreatief dink. Hulle het gefokus op ouwêreldse sjarme en maniere (soos om die motordeur vir ‘n dame oop te maak). As jy min hiervan weet, gesels met mense ouer as jy.

Something new. Dit is nou waar Pinterest wel handig te pas kom. Gebruik tegnologie tot jou voordeel en moenie die waarde van Über, Lekkeslaap en cheapflights onderskat nie.

Something borrowed. Gesels met mense wat jy ken om idees vir oorspronklike date nights te kry. Kyk flieks en leen hieruit. Gebruik frases uit liedjies en gedigte wanneer jy jou maat wil verlei en google vir idees op chat sites.

Something NOT blue. Dink rooi! Dink passie! Dink romanse! Dink sexy!

4 Moenies wanneer jy die beplanner is

• MOENIE ‘n date night beplan wat julle nie albei gaan geniet nie. Ja, dit is dalk so dat jul afspraak val op ‘n dag wat die Bokke speel, maar vroulief gaan dit nie waardeer as jy ‘n besoek aan Loftus onder date night sorteer net omdat jy nie die game wil mis nie.

• MOENIE gaan uiteet nie. Uiteet mag wel deel van date night wees, maar daar moet iets ekstra wees. Uiteet is die maklike uitweg. As julle wel besluit hierop, kies ‘n eksotiese restaurant!

• MOENIE die waarde van ‘n goeie skimp onderskat nie. As jy fyn luister, sal jou maat se opmerkings vir jou sê presies waarvan hy/sy sal hou. Veral wanneer hy sê: “Ons moet dit definitief eendag doen!” Wanneer jou maat so iets kwytraak, teken dit aan op jou foon se Notes app.

• MOENIE ‘n plek oorweeg wat “kindervriendelik” nie. Dit is die een kans wat julle het om na ‘n níé-kindervriendelike plek toe te gaan. Kyk die fliek met die hoogste ouderdomsbeperking, slaap in hotelle waar kinders nie toegelaat word nie en eet in restaurante met regte wit, lapservette (en sonder die personeel wat Happy Birthday sing).

4 Reëls vir date night

• Julle mag nie oor die kinders praat nie. O ja, ons weet jy wil só graag klein Jannie se nuwe tand bespreek (dit is immers waarom julle lewens nou draai – maar hou jou in. Julle het ‘n lewe vóór Jannie gehad en julle gaan ook ‘n lewe hê as hy eendag uit die huis is).

• Taai kwessies is van die tafel af. Date night is nie die tyd vir ernstige besprekings of huweliksterapie nie. Dit is nie jul kans om jul frustrasies te opper of ou koeie uit die sloot te grawe nie. Dit is ‘n tyd om mekaar intiem te leer ken en saam pret te hê.

Date night sluit niemand anders in nie. Selfs nie eers jul beste vriende wat óók op ‘n date night is en toevallig by dieselfde restaurant opdaag nie. Date night is eksklusief julle tyd en niemand anders is welkom nie.

• Moenie te veel druk op jou maat plaas nie. Moenie té hoë verwagtinge koester nie, hou dit realisties. Moenie van jou maat verwag om skuld te maak sodat julle ‘n uithaler-date night kan hê nie. En moenie kwaad wees as jou maat dalk nie emosioneel op dieselfde plek is as jy op date night nie.

So, julle is gereed vir date night! Van volgende maand af, gee ons julle elke maand ‘n paar kreatiewe idees vir date night, sodat julle dinkwerk minimaal is! Kry solank jul stelsels in plek, sodat julle volgende maand volspoed kan wegspring!

Addisionele bronne: www.gq.com; www.thechaosandtheclutter.com; www.nestingstory.ca