Baie van die werkplekke waar ons Adams hulself elke dag bevind, is vol dinge wat hulle nie moet sien en hoor nie. Een van die grootste seëninge/geskenke wat jy vir jou man kan gee, is om elke dag vir hom te bid!

Promosie

Jy vra dalk: “Hoekom sal ek dit wil doen, watter verskil gaan dit tog in elk geval maak?” Kateland (25) van Durban, wat ’n daaglikse roetine het om vir haar man te bid (selfs al is dit net ’n paar woordjies terwyl sy bad), glo dat dit ’n gróót verskil maak. Dié paartjie het in 2006 verloof geraak en terselfdertyd het sy elke middag vir hom begin bid en dit deel van haar roetine gemaak.

Een aand het sy weer vir hom gebid, sonder om veel van hierdie klein gebaar te dink. Daardie nag om 11 uur het sy ’n SMS gekry: “Ek is okei. Ons is gekaap … almal van hulle het gewere gehad … maar alle eer aan God dat niemand iets oorgekom het nie.”

“Dit was slegs tien dae voor ons troue,” vertel Kateland. “My verloofde was by ’n vriend se huis om die liedjies vir ons troue uit te soek toe gewapende mans die huis omsingel en vir hulle geskree het om die deure oop te maak.” Haar verloofde het gesien hoe die mans hul gewere deur die venster druk en het uit die pad uit geduik en in die proses sy knieë en voete erg beseer soos dit teen die grond geskuur het. Die gewapende mans het op die ou einde bes gegee nadat hulle aandag op ’n geheimsinnige wyse ‘afgelei’ is.

Promosie

“Ek glo dat God hom daardie dag bewaar het,” sê Kateland. “Christene kom elke dag voor geestelike oorloë te staan, en dit is jou keuse of jy jou en jou man deur gebed gaan bewaar,” waarsku sy.

Die krag van gebed

Die uitdagings en druk van die moderne samelewing kan die vooruitsig van ’n vervulde, betekenisvolle huwelik onmoontlik laat lyk. In The Power of a Praying Wife, lig Stormie Omartian algemene huweliksprobleme uit en verduidelik sy ook hoe gedissiplineerde gebed hartseer kan genees en eenheid kan bevorder. Sy waarsku egter dat hierdie mag ” … nie ’n manier is om jou man te beheer nie … Inteendeel, dit is die teenoorgestelde. Dis om alle aansprake wat jy maak, neer te lê, en op God se mag staat te maak om jou man, jou omstandighede en jou huwelik te transformeer … dis ’n stukkie gereedskap vir ’n vrou wat deur gebed daarna smag om iets reg te dóén, eerder as om reg te wéés …”

Stormie onthou hoe hierdie gebed haar eie huwelik verander het: “Toe ek en my man, Michael, pas getroud is, en ons verskille begin wys het, was gebed definitief nie waaraan ek eerste gedink het nie. Inteendeel, dit was eerder ’n laaste uitweg. Ek het eers ander maniere probeer, soos stry, smeek, ignoreer, vermy, konfronteer, debatteer, en natuurlik die immergewilde stilstuipe – elk met minder bevredigende resultate. Dit het vir my tyd geneem om te besef dat hierdie onsmaaklike metodes deur gebed vermy kan word.”

Sien van alle gesag af

Stormie skryf die sukses van haar huwelik van toe aan toegewyde gebed vir haar man in elke aspek van sy lewe; van sy finansies en werk, tot sy integriteit en versoekings. Sy moedig vroue aan om op God te vertrou om hul huweliksmaats te verander, en om volkome ’n mens se perspektief op God se krag te fokus, eerder as op jou eie moeilike omstandighede.

“Om vir jou man te bid, is nie dieselfde as om vir jou kind te bid nie,” waarsku sy, ” … omdat jy nie jou man se ma is nie. Ons het gesag oor ons kinders wat deur God aan ons gegee is. Ons het níé gesag oor ons mans nie. Ons is egter gesag gegee ‘om die vyand met al sy geweld te oorwin’ (Lukas 10:19) en ons die vyand se planne fnuik as ons bid.”

Stormie sê dat moeilike dinge in ’n huwelik dikwels deel van die vyand sy plan is om jou huwelik te vernietig. “Maar ons kan sê: ‘Ek sal nie toelaat dat enige iets my huwelik vernietig nie’ … Ons kan opstaan teen negatiewe invloede in ons huwelik en weet dat God in Sy Naam ons gesag gegee het wat dit ondersteun,” glo sy.

Begin met ’n rein hart

Die vyand weet watter krag daar in die eenheid van ’n huwelik is wat met geloof in God vervleg is, en dat daaglikse gebed vir mekaar hom tot ’n val sal bring voordat hy kan sê: “Ek het dit nie sien kom nie!”

Dit is egter belangrik om te onthou om met ’n rein hart te bid. “‘Vader, laat my man sien hoe belaglik hy nou is,’ is nie wat ek bedoel nie,” sê Christine Gofron van christinebyfaith.wordpress.com.

God het ons mans in ons sorg gelaat en een van ons primêre verantwoordelikhede as hul vroue is om vir jou man se sukses as man en pa te bid.

Hoe bid ek?

In die artikel, How to Pray for Your Husband, deur Jean Lockwood, word die volgende raad gegee:

Stap 1

Bid vir jouself. Dit mag dalk vreemd klink, maar jy kan nie effektief vir iemand anders bid as jou hart nie reg is nie. As daar enige sonde is wat jy moet bely, of enige area van jou lewe is waaroor jy met God moet praat, doen dit eers. Dit sal verseker dat jy oop en effektiewe kommunikasie met God het.

Stap 2

Bid vir jou man se geestelike lewe. As hy ’n spesifieke roeping, of spesiale gawes het wat God kan gebruik, vra God om hom aan te moedig om dit te gebruik. Jy moet vir krag, dapperheid en ’n gewillige hart vra, sodat hy gehoorsaam kan wees as God hom lei om dit te doen. Bid vir Christen-vriende vir hom, sodat hy ander gelowige mans kan hê saam met wie hy kan bid, wat hy as vertrouelinge kan hê, sodat hulle mekaar kan aanmoedig.

Stap 3

Bid dat sy fisiese behoeftes bevredig sal word. As hy enige gesondheidsprobleme of fisiese behoeftes het wat nie bevredig word nie, vra vir God om daardie behoeftes te vervul. Dit sluit sy seksuele behoeftes in. Vra God om jou te help om daardie behoeftes op ’n manier te vervul wat nie net vir julle aangenaam en genotvol is nie, maar wat jou man volkome sal bevredig. As jy hierin te kort skiet, kan jy vir God vra om jou begeerte vir jou man meer te maak en jou te help om kreatiewe idees uit te dink wat julle twee saam kan geniet.

Stap 4

Bid vir sy materiële behoeftes. Vra vir God om te help waar hy dit die meeste nodig het. As hy klere, gereedskap, ‘n hoër salaris, of enige ander materiële behoefte het, hoe klein dit ook al is, vra God om hierin te voorsien.

Stap 5

Bid vir sy drome. Dit mag dalk vreemd klink, maar elkeen van ons het verborge drome. Dit beteken dat daar dinge is wat jy nie eers weet jou man wil hê nie. Bid vir sy droom en dat hy ’n gesonde beeld sal hê van die man wat God wil hê hy moet wees. Bid dat daardie drome, wat ’n blik van God se wil vir hom is, ’n realiteit sal word.

Stap 6

Bid vir sy verstand. Vra God om beheer oor sy gedagtes te neem en vra dat sy gedagtes rein en heilig sal wees. Vra God om hom te help en hom aan die mag te herinner van gedagtes wat sy ondergang wil bewerkstellig, wat hom depressief maak, ontmoedig of wanhopig maak.

Stap 7

Bid in Jesus se naam. Wanneer jy in Jesus se naam bid, en weet dat wat jy bid God se wil is, sal jou gebede beantwoord word. Bid in geloof – glo dat jou gebede gehoor word.

KLIEK HIER VIR DIE 30-DAE-BID-VIR-JOU-MAAT-UITDAGING 

Artikel deur Jody Boshoff

Addisionele bronne: http://talewins.com