Miskien is julle skaars vyf jaar getroud en het julle ’n storm beleef, maar kon jul huweliksbootjie aan die dryf hou. Dalk is julle al deur dik en dun, en vier julle binnekort jul twintigste huweliksherdenking. Dit is dalk tyd om ’n ‘tweede troue’ te oorweeg – met dieselfde persoon!

Promosie

Dit is roerend om saam terug te kyk na waar julle begin het en die pad wat julle sedertdien gestap het. ’n Seremonie om jul troubeloftes te hernu, is ’n simbool om in die toekoms in te kyk, en ’n goeie manier om weer daardie aanvanklike vonk terug te bring. Jul troubeloftes sal ’n volwasse liefde reflekteer, wat met al die vreugdes en uitdagings van die jare agter julle geseënd is. Dit is ’n manier om dit te vier wat julle saam bereik het, en ook ’n prettige manier om weer nuwe vonk in jul verhouding te plaas.

Vir Nina de Lange* en haar man Werner, was die hernuwing van hul troubeloftes baie spesiaal. Sy herroep hul troudag.

“Ek onthou die lekkerte! Die lag en dans en die awesomeness daarvan om met Werner te trou – die liefde van my lewe. Ek het al ná ’n maand wat ek hom geken het, geweet ek gaan met hom trou. Ek onthou hoe lekker ons vir sy toespraak gelag het. Die aand het omgevlieg.” Nina en Werner het onlangs besluit om hul beloftes te hernu.
“Ons is deur ’n paar dongas, slote en 4×4-terrein . . . en wat so amazing is, is die wete dat ’n mens kan saamstaan, en dat jy in die krisis weet dat jy vir jou huwelik sal veg. Dit was great. Egskeiding was nog nooit vir ons ’n manier om ’n probleem op te los nie.

Promosie

“Ons het ook gevind dat ’n huwelik baie moeilik werk as God nie deel van ons huis en huishouding is nie. Dit is soveel beter saam met Hom.” Hulle het besluit om hul beloftes te hernu, omdat dit vir hulle belangrik was om weer trou aan mekaar te belowe.

“So ’n belofte het nou vir ons amper meer krag gehad, want ’n mens is nie meer jonk en verlief nie. Jy het reeds kinders gehad, baie dinge beleef en jy weet jy is lief vir hierdie persoon, daarom wil jy graag saam met hom of haar wees.” Hulle het op ’n dag sonder tierlantyntjies en ‘bolangse’ mooimaakgoed besluit.” Net God, ek, Werner en die dominee – in ons kapel. Die dominee het vir ons klavier gespeel en toe ’n boodskap uit Prediker gebring dat twee beter as een is. Dit was so spesiaal – net ons en God wat saam gekyk het na wat verby is en hoe ongelooflik geseënd ons is. Toe het ons nuwe troubeloftes aan mekaar gemaak wat ons self geskryf het.”

Dit wat hulle aan mekaar belowe het, was opreg en uit hul harte. Nina sê sy sal dit vir elke paartjie aanbeveel, maar veral vir mense wat hulle opnuut aan mekaar wil verbind.

Redes om weer te trou

Daar is verskeie redes waarom mense kies om hul troubeloftes te hernu. Miskien is dit binnekort ’n spesiale huweliksherdenking, byvoorbeeld jul vyfde, tiende, of 25ste. Watter beter manier is daar om dit te vier as om mekaar weer te herinner hoekom julle getrou het? Miskien het julle die eerste keer weggeloop en skelm in die hof gaan trou, of is julle in ’n formele, amptelike seremonie wettig getroud, maar julle wil dit nou as ’n geestelike ervaring beleef.
Sommige mense kies om weer te trou, omdat die eerste keer ’n ramp was: Manlief se vriende het besluit om sy ramparty die aand voor die troue te hou, en hulle het hom besope op ’n treinstasie in Breyten gelos. Hy het gevolglik in ’n haglike toestand en met ’n hangover voor die kansel gestaan, en kan niks van jul spesiaalste dag onthou nie! Sommige paartjies kon die eerste keer nie eers ’n fotograaf bekostig nie, en wil dit nou weer doen (dié keer soos jy daarvan gedroom het sedert jy ’n klein dogtertjie was).

Miskien was daar op jul troudag om verskeie redes net ’n paar mense teenwoordig. Dalk was daar nie genoeg geld nie, of jou pa het volstrek geweier dat die gemeenskap jou met jou boepie in ’n wit rok sien, en nou wil julle jul beloftes voor familie en vriende herhaal. Dalk het julle huwelik die toets van ’n affair deurstaan en wil julle jul toewyding aan mekaar herbevestig, of miskien hou jy bloot van dié romantiese idee . . .

Redes waarom julle definitief nie jul troubeloftes moet hernu nie, is as jy ’n bietjie post wedding blues het, die beplanning van jou troue mis, of weer partytjie wil hou! Die fokus van enige troue (maar veral die hernuwing van troubeloftes) moet op die beloftes wat julle aan mekaar maak, en die heilige ritueel van ’n troue, wees – nie op die onthaal, die musiek en die sjampanje ná die tyd nie!

Hoe doen jy dit?

Daar is geen reëls nie, geen modekleure of ontevrede strooimeisies nie. Daar is nie fotograwe wat jou finansieel gaan uitbuit nie, en nie ’n ontwerper wat jou rok die dag voor die tyd per ongeluk laat vlek nie (tensy jy regtig weer vir die hele witrok skouspel kans sien!) Die klem is op die beloftes, en dit is waarom jou tweede troudag eenvoudig kan wees, byvoorbeeld net jy, Manlief en die dominee, onder ’n boom in die tuin.

Miskien wil julle saam kansel toe stap en nuwe ringe uitruil, of ’n intieme seremonie in die huis hou wat julle saam gebou het. Besluit wat jy graag wil hê: ’n eenvoudige samekoms, of ’n groot seremonie en onthaal. Besluit op ’n begroting, stel die datum vas en kry ’n lokaal. Sommige ouer paartjies het nou meer geld as toe hulle die eerste keer getroud is. Die goeie nuus is dat die hernuwing van troubeloftes oor die algemeen goedkoper as eerste troues is, en daar is geen ‘moets’ en ‘moenies’ nie. Julle kan konsentreer op dit wat regtig vir julle belangrik is.

Hoe uitspattig behoort die hernuwing van jul troubeloftes te wees? Daar is weer eens geen reëls nie. Sommige mense kies om dit weer te doen, omdat hulle so vasgevang was in die beplanning van die eerste onthaal, dat hulle voel daar was nie genoeg fokus op die seremonie nie. Hierdie mense verkies intieme vieringe met net die naaste familie en vriende teenwoordig, en ’n ete iewers ná die tyd by ’n restaurant. Ander, wat nie die eerste keer baie geld gehad het nie, hou van uitspattige seremonies en onthale vir die hernuwing van hul huweliksbeloftes. As jy wel op ’n duur affêre besluit, ís daar ’n paar riglyne:

• Daar is nie ’n gevolg nie. As jy kinders het, gee hulle ’n spesiale rol, maar moet hulle nie as strooimeisies of strooijonkers aanwys nie.
• Moenie trougeskenke verwag nie. Trougeskenke is om ’n pasgetroude paartjie te help om hul huishouding aan die gang te kry. Die tweede geleentheid is nie die tyd om jou kombuisware op te gradeer nie!
• Geen ram- of hennepartytjies nie! Die redes is vanselfsprekend. Julle is nie meer enkellopend nie!

Wie moet die seremonie behartig?

As julle reeds wettig getroud is, is hierdie seremonie nie wettig nie en daarom kan enigiemand die seremonie lei. Dit kan ’n regter of ’n dominee wees, maar jy kan ook ’n vriend, ’n vriendin, of een van jul volwasse kinders vra om dit te doen. Sommige mense skryf hul eie beloftes, maar miskien het jy inspirasie nodig. Dit is kosbaar om jul huweliksbeloftes voor vriende en familie te hernu. In ’n tyd waar skeihowe vol is, is dit verfrissend om te hoor van ’n paartjie wat hul beloftes hernu. Dit is inspirerend. Daar is geen vereistes nie, behalwe dat die verrigtinge die paartjie onder die besef van hul liefde vir mekaar moet bring. Gedurende so ’n seremonie kan die paartjie hul goeie en minder goeie tye herroep, erken en saam oor die toekoms, hul drome en hul doelwitte dink. Dit is dus ’n goeie idee om jul troubeloftes uit die opregtheid van jul harte te skryf.

Hier is die stappe wat julle kan volg:

• Besluit waarom julle jul beloftes wil hernu, dan is dit makliker om die woorde te skryf.
• Kyk na jul oorspronklike beloftes en gebruik dit om die nuwe beloftes te genereer. Dink aan wat destyds deur jul koppe gegaan het toe julle dit op jul oorspronklike huwelikseremonie gelees het.
• Begin deur eers vae gedagtes neer te skryf – ’n buitelyn. Sodra jy ’n basiese idee het, kan jy daarop uitwei en dit verbeter.
• Besluit wie vir julle die seremonie moet lei. As dit soortgelyk aan jul troue moet wees, kan julle probeer om die oorspronklike dominee te kry om hierdie seremonie ook te lei.
• Kry ’n plek om die seremonie te hou. Miskien kan julle die kerk gebruik waar julle getroud is, of andersins kan julle saam besluit op ‘n plek wat vir beide spesiaal gaan wees.
• Nooi vriende en familie. Besluit of julle net die oorspronklike gevolg daar wil hê, of ’n paar uitgesoekte gaste, soos jul kinders, broers, susters en ouers.

Wenke

• Probeer om die seremonie effens te verander. Gebruik dieselfde troubeloftes op ’n ander plek.
• Skryf jul beloftes neer vir ingeval jul vashaak. Dit is spesiaal om jul eie troubeloftes te skryf. Dit hoef nie ingewikkeld te wees nie, solank dit uit jul harte kom.
• Dit kan so uitspattig of eenvoudig wees soos wat julle wil hê dit moet wees – dit hoef nie presies soos jul troudag te wees nie.
• Moenie jul troubeloftes hernu bloot omdat jul verveeld is nie. Daar is goeie redes en simpel redes om dit te doen – maak seker julle doen dit om die regte redes!
• Laat jul kinders of kleinkinders die voorblad van jul uitnodigings versier en speel jul oorspronklike trou video by die onthaal.
• Laat graveer jul nuwe ringe met ’n spesiale boodskap vir mekaar.
• Sommige gesinne het ’n uitstalling wat die paartjie se lewe uitbeeld. Dit sluit dinge soos die volgende in: foto’s van hul troudag, ’n kopie van hul huweliksertifikaat, ’n foto van hul eerste huis, die oorspronklike gasteboek en trou-album, en sentimentele dinge wat spesiale betekenis dra.

Bekendes wat hul troubeloftes hernu het

Daar is baie bekende mense wat hul huweliksbeloftes hernu het. David Beckham het Victoria verras deur ’n intieme seremonie by hul huis te organiseer, en het haar eers dieselfde dag daarvan vertel. Hulle het die dag saam met vriende en familie deurgebring.

Nadat sy haar stryd teen kolonkanker oorwin het, het Sharon Osborne weer na twintig jaar met haar man, Ozzy, ‘getrou’.

Addisionele Bronne:
http://www.helium.com/items/1106399-planning-for-renewing-your-vows www.about.com
http://www.celebration.co.za/blog/renewing-your-wedding-vows
http://www.ehow.com/how_2030172_renew-wedding-vows.html
http://www.weddingchaos.co.uk/wedding-basics/renewing-your-wedding-vows.asp