Is erotiese leesstof gelyk aan pornografie? Of is dit ’n veilige hulpmiddel wat jou libido ’n hupstoot kan gee?

Promosie

“Sy vingers kielie haar nek, al met haar ruggraat af, en hy trek die ritssluiter in een beweging tot by die twee kuiltjies in haar laerug. Hy skil haar klere met sy tande af en die koelheid van sy tong laat haar van plesier ril. Sy tong beweeg na haar borste en sy voel haar hart teen sy wang klop . . .”

Hmmm . . . het ons jou aandag? So gedink! Wie kan nou ‘nee dankie’ sê vir ’n lekker hygroman. Het jy al ooit daaraan gedink dat ’n boek jou daardie bietjie oemf in die slaapkamer kan teruggee wat jy die afgelope tyd verloor het? Nou goed, ons moet bieg: Anne of Green Gables gaan nie die ding doen nie . . . en hoewel daar Christene is wat beweer dat erotiese leesstof ’n heel aanvaarde sekshulpmiddel is, is daar ander wat meen dat dit dieselfde effek as pornografie het. Maar waar eindig erotiek, en waar begin pornografie?

Om ’n klinklare definisie daar te stel, is moeilik, meen Tracy Cooper-Posey, skrywer van sewe novelles, op die webtuiste www.writing-world.com. Erotiese leesstof is definitief nie net ’n storie met eksplisiete seks nie. Dit gaan ook nie nét oor seks, soos in die geval van pornografie nie. “Op sy suiwerste, is die nuwe erotiese novelle ’n briljant geskrewe storie met supernova seks wat die kaliber van die skryfwerk komplementeer en fundamenteel is tot die plot en die karakters. Met ander woorde, as die seks verwyder word, kan die storie nie vertel word nie,” sê sy.

Promosie

Tog, al is die storielyn met seks deurspek, is dit emosioneel belaaid en goed geskryf. Maar jy wonder steeds wat die verskil tussen erotiese leesstof en ’n roman is. Daar word nie van digterlike eufemismes in eersgenoemde gebruik gemaak nie, die storie is vol seksuele beelde en die taal met seksuele spanning gelaai. Tog, hoe wild dit ook al mag klink, is erotika definitief nié pornografie nie. En die mark? Hoofsaaklik vroue!

Wikipedia verklaar dat erotika kunswerke, insluitende literatuur, fotografie, film, beeldhouwerk en skilderwerk is wat hoofsaaklik met eroties, stimulerende of seksueel opwekkende beskrywings werk. Erotika is ’n moderne woord wat gebruik word om die uitbeelding van die menslike anatomie en seksualiteit te beskryf, met ’n sterk strewe na kuns, wat dit van kommersiële pornografie onderskei. Pornografie se doel is die grafiese uitbeelding van seksueel eksplisiete tonele.

So, is dit vir ’n Christen-paartjie okei om erotiese materiaal te lees? Dit is nogal ’n driftige debat waarin opinies hewig verskil. Terwyl sommige Christene meen dat dit definitief nie goed is nie, glo ander dat dit voordelig vir jou huwelik kan wees.

JA vir erotiese leesstof

Die webtuiste www.marriageromance.com meen dat daar niks mee fout is nie. Dié webtuiste sê dat seks ’n geskenk van God is wat aan paartjies gegee word om te geniet.

“Net soos wat die woorde van ’n liefdeslied emosies van liefde en lojaliteit kan ontlok, en ’n storie met gevaar vrees kan veroorsaak, en ’n storie met vreugde ’n gevoel van gelukkigheid kan meebring, so kan stories met romanse en seksuele aktiwiteit seksuele opwekking veroorsaak. Is dit sonde om ’n erotiese verhaal oor ’n ander paartjie se sekslewe te lees en seksueel opgewek te raak?

“Seksuele opwekking is ’n emosie, en emosies is nie sonde nie. As ’n man en sy vrou saam is, en seks wil hê, en seksueel opgewek wil raak, sal dit natuurlik die beste wees as hulle mekaar kan opwek, maar sê nou dat hulle vanweë ’n slegte dag, ’n argument, of ouderdom, nodig het om hul sekslewe ’n bietjie op te kikker?

“Of ’n mens ’n pil gebruik, ’n erotiese storie lees, na romantiese musiek luister, ’n fliek kyk, uitgaan vir ete, ’n motel besoek, vir ’n naweek weggaan, kerse aansteek, sexy onderklere dra, seksspeelgoed gebruik – al hierdie sekshulpmiddels is ontwerp om om mekaar op te wek. Dit het ten doel om ’n getroude paartjie op te wek sodat hulle die Bybelse voorskrif kan vervul en seks kan geniet.”

NEE vir erotiese leesstof

Die skrywers van die webtuiste www.christiannymphos.org sê weer dat die gebruik van erotiese leesstof daartoe kan lei dat ’n paartjie ophou om dit te gebruik wat God vir ons gegee het om mekaar natuurlik op te wek, en dat dit later moeilik raak om sonder dit opgewek te raak.

“So, behoort ons gedetaileerde inligting oor ’n man en vrou se seksuele ervaring te lees? Ek glo dit is onbehoorlik, omdat die besonderhede van iemand anders se slaapkamerlewe ’n baie intieme ding is wat nie met enigiemand anders gedeel moet word nie. Om besonderhede daaroor te lees, is om dit wat heilig is, te besmet . . .

“Daar word ook gesê dat ’n verslawing aan erotiese leesstof ’n deur in lesers se harte open om méér te begeer. Wees ook bewus van die feit dat baie stories reflekteer dat die karakters nie getroud is nie, of in moreel onbehoorlike seksuele situasies staan. So, ek glo dat die lees van erotiese leesstof ’n vorm van pornografie is wat vermy moet word. Ek sou nie voorstel dat ’n paartjie dit gebruik om dinge tussen hulle op te kikker nie. Daar is beter maniere om dit te doen.”

Die vraag is egter: Waar begin en waar eindig dit? Baie mense meen dat seksuele hulpmiddels verkeerd is en dat erotiese leesstof pornografies is, maar is kerslig en sagte musiek nie ook ’n seksuele hulpmiddel as dit vir die doel van seks aangewend word nie? En waar trek jy die lyn?

“Pornografie gaan oor die dierlike uitbeelding van seks, en die doel is suiwer om die seksdrang te bevredig. Erotiese leesstof, soos ’n Mills & Boons-boek is dieselfde as ’n fliek met ’n sensuele toneel,” meen Elmari Craig, skrywer, seksuoloog en huweliksberader van Pretoria. “Die lyn is so fyn. Wat vir die een persoon ’n sensuele toneel in ’n fliek is, is vir die ander ou ’n stomende sekstoneel. Wat die een seksueel opwek, doen vir die ander een niks. Wat vir een ou deure na die duiwel oopmaak, doen nie dieselfde vir die ander ou nie. As ’n man issues met verslawing het, gaan bykans énigiets hom in die verkeerde rigting stuur. Ek dink ’n mens moet jou definitief deur jou intuïsie en jul verhouding laat lei,” meen Elmari. “Vra jouself af: Gaan dit ’n positiese bydrae tot my huwelik lewer? Is dit mooi?

“Die probleem is dat mense wat dit nie kan hanteer nie, glo dat alles verkeerd is. Dit geld nie noodwendig vir almal nie. As jy erotiese materiaal lees, skep jy jou eie prentjies. As jy egter na pornografie kyk, het jy nie soveel beheer oor wat jy inneem nie.”

Eindelik lê die besluit by dit wat jy voel reg vir jou en jul verhouding is. Natuurlik is daar definitiewe taboes en pornografie is een hiervan. Jy sal aanvoel dat ’n boek suiwer pornografie is wanneer daar net klem op kras seks gelê word, sonder dat enige liefde weerspieël word. Daarby word losse sedes beklemtoon wat die persone tot seksobjekte degradeer. As jy egter bang is dat ’n hygroman jou man se pornografieverslawing kan vererger, of dat dit ’n negatiewe effek op jul huwelik kan hê, probeer die volgende:

• Neem ’n bestaande erotiese kortverhaal en pas dit aan om by jul persoonlike omstandighede te pas. Vervang die name na jou en jou man s’n, verander die omstandighede om soos julle s’n te klink (plek waar dit afspeel, voorkoms van die karakters) en lees dit hardop vir Manlief.
• Skryf jou eie erotiese verhaal. Fantaseer oor jou man en skryf jou fantasieë neer. Jy kan dit effens inkleur en dit byvoorbeeld in die woestyn laat afspeel. Jy kan jou verbeelding vrye teuels gee en van Manlief ’n ruimtevaarder maak, terwyl jy die heldin kan wees wat jy nog altyd wou wees. (Jy kan selfs jou borste ‘n bietjie groter, en jou hare ’n bietjie rooier maak!)
• Skryf vir jou man ’n hele versameling kortverhale wat spesifiek op julle ervaringe gebaseer is en die fantasieë wat jy oor hom koester. Lees elke nou en dan vir hom een van die verhale voor en leef dan die opwindende dele uit!
• Lees saam uit Hooglied. Dit is ’n wonderlike boek in die Bybel wat baie eksplisiet en inderdaad baie eroties is. Lees dit vir Manlief voor, of vra hom om vir jou uit dié boek te lees – julle sal jul hande nie van mekaar kan afhou nie . . .