Baie vroue het al getuig dat hul mans weet wanneer hulle vir hul bid as hulle na die kwaliteit van hul werksdae kyk. Moenie hierdie kans misloop om vir jou man te wys hoe lief jy vir hom is en hom wil ondersteun nie. Die apostel Paulus verwag van alle Christene om vir mekaar te bid (Efesiërs 6:18). Dit sluit ook vroue se verantwoordelikheid en voorreg in om vir hul mans te bid. Ywerige gebed vir jou man is goed vir hom en vir die geestelike welstand van jul huis (Spreuke 31:11-12).
Die webtuiste www.riviveourhearts.com publiseer ’n wonderlike gids, getiteld Praying for your husband, met 31 gebedsidees en teksverse vir biddende vroue. Neem aan hierdie uitdaging deel en vertrou God om jul liefde vir mekaar en jul verhouding met mekaar te hernu – wat het jy om te verloor? Vertrou God om jou man soos nog nooit te vore te seën nie. Satan het ’n behoefte om jou man, en veral sy karakter en leierskap in jul verhouding, te vernietig. Vertrou God deur gebed en laat jou man en huwelik daagliks aan God se wyse, liefdevolle sorg oor.
Dag 1
Bid dat jou man geestelik sal groei en sy verantwoordelikhede teenoor God sal besef. Bid dat hy sy hart deur geestelike oefening sal bewaar – Bybelstudie, gebed, meditasie, teksmemorisering, ens. (2 Petrus 3;18; Spreuke 4:23).
Dag 2
Bid dat jou man se verhouding met God en sy Woord vrugte in sy lewe sal dra. Bid dat hy ’n Godvresende man met wysheid en begrip sal wees (Spreuke 3:7; Psalm 112:1).
Dag 3
Bid dat jou man nederig sal wees en met God oor sy sonde sal saamstem. Bid dat sy hart sag en ontvanklik vir God se stem sal wees (Psalm 51:2-4; Miga 6:8).
Dag 4
Bid dat jou man se leierskapvaardighede in jul verhouding sal groei – dat hy jou sal bewaar en vir jou sal sorg. Bid dat hy jou met wysheid sal lei en jou onvoorwaardelik sal liefhê, sodat God in jul huwelik verheerlik sal word (Efesiërs 5:25-29; Kolossense 3:19).
Dag 5
Bid dat jou man getrou aan sy huweliksbeloftes sal bly. Bid dat hy die behoefte sal hê om jul verhouding te ontwikkel as ’n teken van sy lojaliteit en verbintenis met jou, en as ’n simbool van God se liefde vir die kerk (Spreuke 20:6; Genesis 2:24).
Dag 6
Bid dat jou man geregtigheid sal liefhê en goddeloosheid sal haat, veral hedendaagse euwels. Bid dat hy goddeloosheid sal kan uitken en vermy, en indien nodig, sal kan sterk staan teen die kwaad (Spreuke 27:12; Johannes 17:15; 1 Korintiërs 10:12-13).
Dag 7
Bid dat jou man sy hart teen onvanpaste verhoudings met die teenoorgestelde geslag sal beskerm. Bid dat sy hart rein en onverdeeld in sy verbintenis tot jou sal wees (Spreuke 6:23-24; Romeine 13:14).
Dag 8
Bid dat jou man hard sal werk, sodat hy vir jul gesin tot die beste van sy vermoë sal kan sorg. Bid dat die karaktereienskappe wat vir ’n suksesvolle loopbaan en bediening nodig is, deel van sy karakter sal wees: uithouvermoë, krag, ’n analitiese brein, organisasievaardighede, positiewe verhoudings met mense, deursettingsvermoë, ens. (Romeine 12:11; 1 Korintiërs 15:8).
Dag 9
Bid dat jou man finansies met wysheid sal hanteer, oordeelkundig sal wees as dit by begrotings en beleggings kom en ’n goeie bestuurder van sy geld sal wees as geld vir die werk van die Here gegee moet word. Bid dat geld nie onenigheid in jul gesin sal veroorsaak nie (Spreuke 23:4-5; Romeine 12:13, Hebreërs 13:5).
Dag 10
Bid dat jou man sterk integriteit sal kweek en nie sy oortuigings sal laat vaar nie. Bid dat sy getuienis opreg sal wees, dat hy eerlik in sy sakebedrywighede sal wees en nooit iets sal doen wat hy vir ander moet wegsteek nie (Spreuke 20:7; 1 Timoteus 1:5, 3:7; Efesiërs 6:10-12).
Dag 11
Bid dat jou man ’n nederige, onderrigbare gees en ’n dienaar se hart voor God sal hê. Bid dat hy vir God sal luister en ’n behoefte sal hê om sy wil te doen (Spreuke 15:33; Efesiërs 6:6).
Dag 12
Bid dat jou man sy seksuele behoeftes aan God sal oorlaat en dat hy selfbeheer sal kan toepas. Bid dat jul seksuele intimiteit saam vars, positief en ’n weerspieëling van jul onbaatsugtige liefde sal wees (Spreuke 5:15, 18; 1 Korintiërs 7:3; Hooglied 7:10).
Dag 13
Bid dat jou man praktiese vaardighede sal gebruik om jul gesin te bou en wyse besluite vir jul welstand sal neem. Bid dat hy onselfsugtig sal dien (Galasiërs 5:13, Filippense 2:3-4).
Dag 14
Bid dat jou man se uitsprake jul familie sal bou en ’n liefdevolle hart sal reflekteer. Bid dat hy nie vuil taal sal gebruik nie (Spreuke 18:21; Efesiërs 4:29).
Dag 15
Bid dat jou man goeie vriende sal kies. Bid dat God vriende na hom sal bring wat hom sal aanmoedig in terme van sy verantwoordelikheid teenoor God en wat hom nie op die verkeerde pad sal lei nie (Spreuke 13:20; Spreuke 27:17).
Dag 16
Bid dat jou man gesondheid en aktiwiteite sal kies wat God verheerlik. Bid dat hy nie in gevangeneskap sal lewe oor verdagte gewoontes en stokperdjies nie, maar dat hy vryheid sal ervaar wanneer hy aan die Gees se beheer toegee (1 Korintiërs 6:12, 10:31; 2 Timoteus 2:4).
Dag 17
Bid dat jou man sy manlikheid sal geniet, terwyl hy sy lewe op dié van Christus en ander gelowige mans sal skoei. Bid vir fisiese, emosionele, geestelike, sosiale en spirituele krag (Efesiërs 3:16; 1 Petrus 2:21; 1 Korintiërs 10:11).
Dag 18
Bid dat jou man ewige perspektief sal hê – ’n lewe in die lig van die ewigheid. Bid dat hy materialisme en tydelike waardes sal verwerp en God eerste in sy lewe sal stel (Mattheus 6:33; Deuteronomium 6:5; Efesiërs 5:16; Psalm 90:12).
Dag 19
Bid dat jou man geduldig en ’n man van vrede sal wees. Bid dat hy nie sommer sal kwaad word nie, maar dat hy die Heilige Gees sal toelaat om sy reaksies te beheer (Romeine 14:19; Psalm 24:14).
Dag 20
Bid dat jou man sy verstand en gedagtes aan God sal oorlaat. Bid dat hy nie onsedelike en onrein gedagtes sal hê nie, en dat hy die versoeking sal weerstaan om homself aan pornografie te vergryp (Spreuke 27:12; 2 Korintiërs 10:5).
Dag 21
Bid dat God jou man sal leer om te ontspan, en dat hy in tye van spanning, vreugde en vrede in sy verhouding met God sal vind. Bid dat hy sy skedule vir God sal gee (Nehemia 8:10; Spreuke 17:22; Psalm 16:11).
Dag 22
Bid dat jou man vergifnis in jul verhouding en sy verhouding met ander sal toepas. Bid dat hy die oorsake van sy bitterheid sal kan raaksien en enige verwyte en onvergeeflike houdings aan God sal oorlaat (Efesiërs 4:32; Hebreërs 12:15).
Dag 23
Bid dat jou man ’n goeie pa sal wees – dat hy met wysheid sy kinders sal dissiplineer en hulle onvoorwaardelik sal liefhê. As julle nie kinders het nie, bid dat hy vir ander jong mans as mentor sal dien (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21; 2 Timoteus 2:1-2).
Dag 24
Bid dat jou man werk en plesier sal kan balanseer. Bid dat hy Godvresend sal wees, en die guns van mense wat vir die kerk werk, sal wen (Lukas 2:52; Spreuke 13:15).
Dag 25
Bid dat jou man dapper teen die kwaad en ongeregtigheid sal wees en dat hy vir die waarheid sal opstaan. Bid dat hy jou en julle familie teen die duiwel se aanslae sal beskerm (Psalm 31:24; Efesiërs 6:13; Psalm 27:14).
Dag 26
Bid dat jou man God se doel vir sy lewe sal ontdek en dit sal uitleef. Bid dat hy al sy drome aan God sal gee en dat hy slegs dié sal navolg wat God verheerlik en ewigheidswaarde het (Jeremia 29:11; 1 Korintiërs 10:31).
Dag 27
Bid dat jou man sal verstaan hoe belangrik dit is om na sy lyf as die tempel van die Heilige Gees om te sien. Bid dat hy selfbeheersing sal hê en wyse besluite sal neem as dit by kos kom en genoeg oefening sal doen om gesond te bly (Romeine 12:1-2; 1 Korintiërs 6:19-20, 9:27).
Dag 28
Bid dat jou man ’n biddende man sal wees. Bid dat hy God sal soek en in doelgerigte stiltetye sal navolg (1 Tessalonisense 5:17; Lukas 22:46; Jakobus 5:16).
Dag 29
Bid dat jou man sy tyd en talente aan God sal gee. Bid dat sy geestelike gawes by sy werk, die kerk en in julle huis sal manifesteer (Efesiërs 5:15-16; 1 Korintiërs 12:4, 7).
Dag 30
Bid dat jou man God en ander met eerlike intensies sal dien. Bid dat hy God in sy hart sal gehoorsaam en Hom in alles sal verheerlik (1 Korintiërs 10:13; Johannes 7:17; Kolossense 3:23-24).
BONUS: Dag 31
Bid dat jou man die leuens van die vyand sal herken. Bid dat sy houding en aksies deur die waarheid gelei sal word en dat sy gedagte deur God se Woord omvou sal word (Johannes 8:44; 2 Korintiërs 10:4-5).
Artikel deur Jody Boshoff
Addisionele bronne: http://talewins.com
***
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!