Die huwelik is kwesbaar en as jy nie seker maak dat joune van alle kante af beskerm word nie, sal dit ‘n sagte teiken wees. Só beskerm jy jou huwelik!

Promosie

Die Bybel is vol verhale oor oorlog en die gereedheid en voorbereiding daarvoor. Toe jy en jou maat mekaar pas ontmoet het, was jy op jou hoede. Het ‘n ander ou op dáárdie manier vir haar gekyk, het jy ingetree. Dit is nie asof jy jaloers was nie, maar jy was baie bewus van die feit dat sy nog geen huweliksbelofte gemaak het nie en dus steeds maklik by jou gesteel kon word. Jy het gedoen wat jy moes om julle eenheid te beskerm. Ná die troue was dit ‘n ander saak. Jy het begin om op jou louere gerus want sy ís mos nou joune…

Wat min paartjies besef is dat die huwelik steeds baie broos en kwesbaar is. Die pyle wat jou huwelike enige dag kan tref, is baie werklik. Om ‘n deursigtige skild om jou huwelik te bewerkstellig, is noodsaaklik. Hoewel nie almal die skild kan sien nie, is jy en jou maat baie bewus daarvan en maak dit julle slaggereed, sóú daar ‘n aanval van buite kom.

1. Beskerm jou huwelik elke dag deur gebed

Promosie

Dit is jou kragtigste skild teen enige moontlike aanslag en dit is die belangrikste vorm van beskerming wat jy behoort te hê, want dit is ‘n alles-in-een. Deur gebed, beskerm jy nie net een area van jou huwelik nie, maar elke hoek en kant. Daaglikse tyd met die Here keer dat jou en jou maat se harte hard raak teen Sy waarhede. Maar om die lyn na Bo oop te hou, bly jy in voeling met Sy Wil en jou en jou maat se menslike swakheid.

2. Beskerm jou huwelik met reëls

Een van die belangrikste dinge wat jy en jou maat in plek kan stel is reëls wat ander mans/vroue aan betref. Byvoorbeeld: “Ek sal nie enigiets oor my huwelik met my manlike werkskollega bespreek nie”. Daar is egter iets wat ons van INTIEM se kant af wil voorstel: Elke party behoort sy eie reëls vir homself op te stel. Jou maat is nie jou besitting nie en daar behoort vryheid teenoor mekaar te wees. Maar om jul huwelik te beskerm sal jy jou eie reels moet opstel, wat jy daar kan stel na gelang van wie jy is, wat jou swakhede is en hoe nodig jy dit gevolglik het.

3. Beskerm jou huwelik deur ‘n paartjie as mentors vir jul huwelik “aan te stel”

Jy het iemand in jou lewe nodig waarteenoor jy kan bieg, kan kla, kan raad vra of kan ‘vent’. Maar om jou huwelik te beskerm, is dit baie belangrik dat hierdie persoon nie jou enkellopende pel van tien jaar is nie. Ook nie jou ma of skoonma nie. Soek saam na ‘n paartjie wat vir julle ‘n voorbeeld van ‘n Christen-huwelik is en moontlik ook behoorlike huweliks-ervaring agter die blad het. As jy een van jou eie reëls oortree het, bely dit teenoor jou mentor (man teenoor man en vrou teenoor vrou). As jy raad nodig het, vra jou mentor. Daar is dinge wat jy nie noodwendig met jou maat wil bespreek nie, en ‘n mentorskapspaar kan hierdie rol vir julle vervul.

4. Beskerm jou huwelik teen sosiale media en internetverleiding

Dit is een van die groot vyande van ons tyd en gevaarlik in vele opsigte. Wees bedag op die prioriteit wat sosiale media in jou huwelik geniet. As jou maat voel hy moet teen jou selfoon meeding, is daar ‘n wanbalans. As dít wat in jou inbus beland maak dat jy ‘n wagwoord vir jou rekenaar skep (een wat jou vrou nie ken nie), moet die gevaarliggies flikker. Wees bedag op wie jy as vriende op sosiale media aanvaar en sorg dat totale deursigtigheid heers. As jou maat enige tyd van die dag op jou selfoon of rekenaar kyk, moet jy seker wees dat dit jou nie in die minste sal pla nie.

5. Beskerm jou huwelik deur in te zoom op jou maat se emosies

Verwaarlosing klink soos iets wat net met kinders gebeur, maar wees baie bewus van die feit dat jou maat ook verwaarloos kan voel en dat dit jou huwelik op ‘n baie gevaarlike terrein laat beweeg. Bekerm jou huwelik teen verwaarlosing deur werklik in voeling te bly met sy/haar emosies en ingesteldheid. Gereelde gehaltetyd waartydens julle eksklusief met mekaar praat en na mekaar luister is jou sterkste wapen teeen ‘n verwaarloosde huwelik.

6. Beskerm jou huwelik teen spanning

Spanning word meegebring deur verskeie situasies. Jy weet wat spanning in jou huwelik veroorsaak. As alkohol die sondebok is, is jy dit aan jou huwelik verskuldig om aandag te gee aan die probleem. As finansies vir jou ‘n probleem-area is, besluit op ‘n begroting en bly daarby. Moet niks vir jou maat wegsteek nie en wees deursigtig oor jou besteding. As familie konflik in jou huwelik veroorsaak, neem aksie en as jou werk meer spanning as gerusstelling in jou huwelik veroorsaak, oorweeg dit sterk om ‘n skuif te maak.

7. Beskerm jou huwelik deur lojaliteit ‘n prioriteit te maak

Lojaliteit is ‘n wonderlike instrument waarmee jy jou huwelik kan beskerm. Deur jou maat te laat verstaan dat jy te alle tye lojaal teenoor haar sal wees, bied jy aan haar sekuriteit – sekuriteit wat oorspoel na julle as paartjie en jul huwelik. Moenie agter haar rug van jou maat praat nie (behalwe as jy haar lof besing), moenie vóór ander mense grappe maak wat haar sleg laat voel nie en wanneer jy moet kant kies tussen haar en iemand anders (soos jou suster), maak seker dat sy weet jou lojaliteit le by haar.

8. Beskerm jou huwelik teen aannames

Aannames veroorsaak misverstande en kan groot moeilikheid in jou huwelik veroorsaak. Daarmee saam is dit een van die maklikste maniere waarop jy jou huwelik kan beskerm! Kommunikeer, maak dubbel seker en vra as jy nie weet nie. Moet egter nie aanneem jou maat sal daarvan hou / sal nie vir jou kwaad wees / gee nie om nie/ is sielsgelukkig nie. Praat oor alles en praat genoeg en praat sonder draaie en ompaaie om seker te maak aannames sink nie jou huwelik nie.

9. Beskerm jou huwelik met konflikhantering

Dit voel dalk of konflik jou huwelik beskadig, maar behoorlike konflikhantering doen meer goed as kwaad. Dis gevaarliker wanneer julle verkies om broeiende dilemmas te konfronteer, want onderdrukte gevoelens kan later meer moeilikheid veroorsaak. Beskerm jou huwelik deur voortydig probleme in die kiem te smoor en goeie konflikhantering strategieë daar te stel, wat sal beteken dat julle nie lelik baklei nie, maar ‘n saak deurpraat en afhandel.

10. Beskerm jou huwelik met romantiek

Elke mens wil begeer en bederf word. Elke mens wil spesiaal voel. As jy jou maat nie ophef, bederf en begeer nie, sal hy of sy na elders na hierdie vervulling soek. Maak dus erns daarmee om jou spesiale geleenthede met jou maat te beplan, soms ‘n geskenk uit te deel en soms ‘n kompliment te gee. Raak genoeg aan jou maat en inisieer seks. Maak pret deel van jul huwelik en onthou dat romanse veel verder strek as rooi rose en sjokolade.

Daar is nog honderde maniere waarop jy huwelik kan beskerm, maar dit hang af van van wie julle as paartjie is en wat jul behoeftes is. Dit is baie belangrik om in voeling te bly met die aard van jul huwelik en die uitdagings wat julle beleef. Taai tye kan ‘n paartjie broos maak, maar dit kan ook ‘n paartjie sterk maak. Net so kan goeie tye ‘n huwelikspaar rotsvas maak, maar ook té gemaklik. Bly dus voortdurend op jul hoede, wees waaksaam en koes sáám vir die pyle…

Artikel deur Annelize Steyn

***

MARRIAGE CAPSULE METHOD: 7 STAPPE TOT ‘N HUWELIK WAT HOU! INTIEM SE BESTE PRODUK OOIT! Kliek hier!