Liefde en respek is twee uiters belangrike boustene van ’n huwelik met ’n sterk fondasie. ’n Vrou se grootste behoefte is liefde, terwyl ’n man s’n respek is. En ja, jy wil jou man respekteer, maar hóé doen jy dit op ’n praktiese vlak?
Soos wat ’n mens ouer word en jou konsep van respek ontwikkel, verander jou begrip en uitbeelding van respek . . . maar word daar gepraat van respek in die huwelik, wonder baie mense wat hierdie abstrakte begrip nou eintlik in die praktyk beteken.
Soek jy die betekenis van “respek”, kom dit neer op die volgende: Om ’n diep bewondering te toon vir iemand se vermoëns of prestasies en om iemand se gevoelens, regte en wense op ’n dieper vlak in ag te neem. Delf ’n bietjie dieper en die konsep van respek word al duideliker . . .
- Sê: “As jy dink die skildery moet daardie hoogte hang, glo ek dit moet.”
Ja, jou man is maar net ’n mens en ook hý kan dom foute maak en die verkeerde besluite neem, maar dink ’n bietjie hoe gereeld jy hulle uitwys! Bevraagteken jy elke dekor-besluit wat hy in die huis neem, omdat jy voel jý is die kenner op hierdie gebied?
Jou man wens waarskynlik jy het sy oordeel nie so gereeld in twyfel getrek nie. Stel jou die volgende voor: By die werk is hy ’n hot shot. Almal hang aan sy lippe omdat hy so briljant is en kom vra sy mening oor die nuutste projek. Ná ’n adrenaliengevulde werksdag kom hy by die huis en moet hy met die intrapslag hoor: “Hierdie trappie – waarop jy áángedring het toe ons gebou het – ek val nog elke dag oor hierdie vervlakste trap! Doen tog net iets hieraan.”
Sy eerste behoefte gaan wees om ’n U-draai te maak terug werk toe, waar sy menings en besluite gerespekteer word en niemand bevele uitblaf nie, maar almal eerder na sy pype dans.
- Sê: “Ek weet jy kan ons veilig en betyds by die funksie kry.”
Jy kan nie verstaan hoekom hy ure lank sukkel om die nuwe klankstelsel te installeer nie en jy wil met alle mag die handleiding onder sy neus druk!
Groot fout . . . want al wat manlief “lees” wanneer jy dit doen, is jou wantroue in sy vermoëns. “As sy nie eers dink ek kan ’n simpel klankstelsel installeer nie, glo sy seker ek kan ons onmoontlik uit hierdie finansiële ramp kry!” dink hy. Hy wil dit self uitwerk, só al neem dit hom ure om dit te doen, los hom uit.
- Sê: “Ek wéét jy gaan die bevordering kry – jou baas besef hoe waardevol jy is.”
Een besliste arena waarin ons vroue fouteer, is deur ons misnoeë uit te spreek. Deur kritiek te lewer . . . en ’n man se ego met een vokale vuishou die grond te laat tref!
Jou woorde (of tekort daaraan) is vir jou man belangriker as wat jy dink. En al dink jy jou man se sensitiwiteitsvlakke kort werk, kan jy maar seker wees dat die meeste mans baie goed tussen die lyne kan lees.
Luister dus volgende keer na jou stemtoon. Sarkasme gaan julle nie ver bring nie. Jy kan in woorde sê wat jy wil – as jou lyftaal nie hiermee ooreenstem nie, gaan jy manlief nie oortuig dat jy hom respekteer nie.
- Sê: “Ek weet ek kla eintlik met ’n witbrood onder die arm. Ek kon nie vir ’n beter man gevra het nie.”
Wat bespreek jy en die girls wanneer die manne by die vuur staan? Hulle boepense wat veg om die Tamaai-titel? Hul dom foute? Hul irriterende gewoontes?
Hoe jy jou man in die openbaar respekteer, speel ’n baie belangrike rol in jou huwelik. En ja, dit is soms moeilik om nie deur die wag-tot-julle-hoor-wat-vang-mý-man-aan kompetisie meegesleur word nie. Voor jy jou oë uitvee, is jy besig om “in liefde” of “doodonskuldig” oor jou man te kla of sy swak punte uit te wys.
En ja, hy staan dalk eenkant tussen sy pelle, salig onbewus van jou dislojaliteit, maar daar is min dinge só disrespekvol teenoor jou man as om in die openbaar negatiewe kommentaar oor hom kwyt te raak.
- Sê: “Ek weet nie presies hoekom jy dit doen nie, maar ek vertrou dat jou bedoelings goed is.”
Ons maak te maklik aannames. “Ja, hy het nou weer vanoggend nie melk gebring soos ek gevra het nie omdat hy aan my ’n punt wil bewys / nie omgee wat vir my belangrik is nie / aangeneem het dat ek dit sal doen.”
Miskien het hy nie melk gebring nie omdat hy, reeds by die teller, ontdek het dat hy sy beursie by die huis vergeet het / gesien het die melk is oud en eerder later iewers anders varser melk wil kry.
Ja, aannames kom maklik en dit veroorsaak misverstande. As jy weereens die slegste van jou man verwag en jou eie aannames maak, interpreteer hy dat jy hom nie vertrou nie en dit is vir geen man lekker nie.
Natuurlik beteken hierdie wenke nie dat manlief nié gaan foute maak nie. Ook nie dat hy jou nóóit gaan teleurstel nie. Maar dit beteken dat jy aan jou man gaan bied wat hy die nodigste het van jou – respek. En hoe meer respek hy van jou af kry, hoe meer liefde gaan hy vir jou gee en hoe makliker gaan dit vir jou word om hom te respekteer. Sien? Só begin jy ’n wonderlike kringloop in jou huwelik . . .
Deur Annelize Steyn
Artikel geïnspireer deur The Five Respect Needs of Men deur Shaunti Feldhahn (com).