Dit klink verregaande . . . amper onmoontlik om seks in jou slaap te hê, maar sekssomnia (sexsomnia) is ’n relatief nuwe diagnose wat eers in 2013 amptelik as ’n slaapafwyking geklassifiseer is.

Promosie

Sekssomnia of slaap-seks is ’n toestand waar ’n persoon seksuele aktiwiteit sal hê terwyl hy/sy slaap. Dit sluit masturbasie, betasting van jou maat, orale of anale seks, en heteroseksuele of homoseksuele geslagsgemeenskap in.

*Solette, ’n desperate INTIEM-leser, skryf dat haar man, onbewus van sy probleem, nie kon verstaan hoe sy hom hiervan kon beskuldig nie. Saam het hulle begin soek na antwoorde. “Al hulp wat ons tot dusver kon kry, was deur vir ’n internasionale blad om raad te vra, maar hulle reken dat bitter min dokters van hierdie probleem bewus is en daarom natuurlik nie weet hoe om hulp in Suid-Afrika aan te bied nie. Daar is ook nog nie genoeg navorsing gedoen (volgens sommige artikels) om ’n oplossing vir hierdie uitdaging te bied nie.”

Een van die voorstelle is dat pasiënte in verskillende kamers moet slaap (veral in gevalle waar dit buite beheer raak). Solette en haar man weet nie hoe ernstig dit is nie omdat hulle dit pas eers ontdek het. “Ek is nou 34 weke swanger en om in aparte kamers te slaap vir die res van ons lewens is nie ’n opsie nie. Ons het twee ander kinders en dit is nie die voorbeeld van ’n huwelik wat ons vir hulle wil stel nie.”

Promosie

Wat behels sekssomnia?

Hierdie toestand val onder die breë klas van slaapafwykings wat parasomnias genoem word. Die mediese diagnose is NREM (“non-rapid eye movement sleep”) parasomnia. Sekssomniacs onthou nie hul gedrag of wat hulle gedoen het terwyl hulle geslaap het nie. Navorsing dui daarop dat dit meestal mans is wat hierdeur beïnvloed word.

Sekssomnia kan saam met slaapwandeling en slaapapnee voorkom, en kan deur spanning en ’n slaaptekort vererger word. Die oormatige gebruik van alkohol of dwelms kan ook ’n rol speel. Internasionaal is sekssomnia al suksesvol gebruik in die verdediging van seksuele oortreders.

Hierdie diagnose moet deur ’n neuroloog gemaak word. En die moontlike diagnoses wat gemaak kan word, sluit slaapafwykings, psigiatriese probleme en epilepsie in.

Sekssomnia kan natuurlik ’n ernstige negatiewe impak op jou verhouding met jou lewensmaat hê. Mense wat hieraan ly, verstaan dit dikwels nie. Hulle voel skaam en hulpeloos. Hul lewensmaats voel dikwels misbruik en magteloos omdat hulle dit ook nie verstaan nie. As julle vermoed dat een van julle wel hieraan ly, is dit dus ’n goeie idee om ’n seksuoloog wat ook in verhoudingsterapie spesialiseer, te sien om julle hierdeur te help.

Wat kan ’n mens hieraan doen?

  • Dit is dikwels moeilik om te onderskei tussen epilepsie tydens slaap en parasomnia (’n toestand wat geken word deur abnormale of ongewone gedrag van die senuweestelsel gedurende slaap).
  • In die meeste gevalle wat seksuoloë en neuroloë behandel, is daar ’n vorm van epilepsie betrokke. Epileptiese aktiwiteit in die regter-temporale lob is dikwels teenwoordig.
  • ’n Neuroloog sal betrek word en ’n EEG sal gedoen word terwyl die pasiënt slaap. Die EEG kan dan frontale- of temporale lob-epilepsie uitskakel of bevestig.
  • Sommige mense stel voor dat die paartjie in aparte kamers slaap. Dit is egter nie volhoubaar of gesond vir die verhouding nie.
  • Medikasie word soms voorgeskryf, maar behandel eintlik net die simptoom en nie die oorsaak van die probleem nie.
  • Pasiënte met frontale lob-epilepsie toon dikwels ’n verandering in persoonlikheid, aggressie en seksuele gedrag.
  • Navorsing dui daarop dat anti-epilepsie-medikasie gewoonlik die beste uitwerking het op die behandeling van sekssomnia.
  • Gaan spreek dus dadelik ’n neuroloog indien jy enige van hierdie simptome ervaar.

 

Deur Dr Elmari Mulder Craig, kliniese seksuoloog en verhoudingskenner