Dit is okay as hy sy sokkies op die vloer los, maar nié okay as hy ’n gat in die deur boks wanneer hy kwaad word vir jou nie. As dit kom by die kies van jou lewensmaat – hoe weet jy wat om oor te sien en wat nié?

Promosie

Vergeet vir ’n oomblik daarvan om die perfekte troue te beplan en bestee tyd daaraan om aan die droomhuwelik te beplan.

Wanneer die groot dag nader kom, is dit maklik om vasgevang te word in die gewoel en te vergeet dat ’n troue oor meer gaan as net dié dag. Baie paartjies kom sommer vinnig aarde toe as die honeymoon bubble bars en rusies begin insluip. ’n Mens hoor gereeld hoe jong-getroudes sê dat die huwelik baie moeiliker is as wat hulle verwag het dit sou wees, en dat dit wil voorkom asof probleme vanuit die niet begin opduik.

Rick Warren sê egter dat ’n huwelik nie probleme veroorsaak nie, maar probleme openbaar. Hoe kan jy seker maak dat jou huwelik nie net die een-jaar vloek oorleef nie, maar ook die seven-year itch en al die storms daarna? Dit gaan alles oor voorbereiding en beplanning.

Promosie

Begin deur drie lysies vir jou huwelik te maak. Gaan sit en gesels met jou maat, besluit wat vir julle belangrik is en stel vas of julle dieselfde kyk na die lewe. ’n Goeie idee is om ’n paar vrae op te stel vir jou en jou maat om te beantwoord. Dit is die maklikste manier om uit te pluis waar jul grootste verskille lê en te besluit hoe julle dit gaan hanteer.

Deel jou vraelys in drie hoofkategorieë op om die proses makliker te maak. Maak seker jou maat is net so ernstig hieroor en verstaan dat jy nie net besig is om ’n bridezilla te wees nie. Doen dit só:

Rooi: Harde limiet

Jou rooi limiet-lysie bevat al die kwessies wat vir jou ononderhandelbaar is. Dit is uiters belangrik dat jy en jou maat dieselfde voel oor hierdie kwessies vir ’n huwelik om suksesvol te wees. As julle hieroor verskil, sal dit nie net julle huwelik baie moeilik maak nie, maar ook julle families direk raak. Wil jy regtig aan jou skoonfamilie se verkeerde kant kom selfs vóór jy voor die kansel gestaan het?

Geloofsoortuigings en waardes is heel bo-aan hierdie lysie. Dit kan ’n reuse probleem wees as julle verskillend glo en dis baie belangrik om ’n plan van aksie te hê vir hoe julle dit gaan hanteer.

Neem kwessies rakende kinders in ag. Wil julle albei kinders hê? As een van julle wil kinders hê en die ander een nie, kan julle huweliksbootjie baie maklik op die rotse beland. Hoe voel julle oor die betrokkenheid van familie? Besluit hoeveel julle jul ouers gaan betrek en waar julle die streep gaan trek. Niks is erger as ’n vrou wat met haar skoonma moet kompeteer vir haar man se aandag nie. Neem besluite rakende rolverdeling: Het jou man ’n probleem daarmee as jy werk en gaan dit ’n probleem wees as jy dalk ’n groter inkomste as hy verdien?

Geel: Sagte limiet

Hierdie lysie is vir kwessies wat steeds belangrik is, maar waaroor julle kan onderhandel. Julle moet steeds saamstem, maar hier is ’n bietjie meer ruimte vir aanpasbaarheid. Om hierdie lysie doeltreffend te laat werk, moet albei gee en neem. As julle nie voor die troue opofferings kan maak nie, gaan julle dit beslis ook nie na die troue kan doen nie.

Besluit by watter klein geveggies jy die wit vlag sal hys om op die uiteinde die oorlog te wen. Vra vrae soos: Hoeveel kinders wil julle hê? Wanneer wil julle met ’n gesin begin? Wie dra die kredietkaart? Wie is verantwoordelik vir watter deel van die huishouding?

Groen: Onnodige limiet

Jou groen lysie is die lysie waar al die onbenullighede opkom. Dit is die kwessies waaroor julle maar kan en selfs moet verskil. Dis nie gesond as ’n paartjie oor alles saamstem nie. ’n Mens moet mekaar so nou en dan die hoenders in maak om aan te hou groei as ’n paartjie en as individue.

As julle verskil oor wat julle vir aandete wil eet en of My Girl beter is as CSI, gaan dit nie in die skeihof draai nie. Dis selfs in sekere gevalle ’n baie goeie ding as ’n mens verskil – dink maar aan wie verkies om bo of onder te wees? Om daar te verskil, is sommer ’n oplossing op sy eie!

Hoe julle die saak benader, hang van julle af. Die belangrike deel is dat julle dit wel doen en eerlik is daaroor. Moenie kwaad word nie en respekteer mekaar se menings – onthou dat die lewe julle elkeen uniek geslyp het en dat dit is waarom julle mekaar lief het. ’n Suksesvolle huwelik is nog moontlik, al raak dit ook al hoe skaarser – met die regte benadering kan julle ’n inspirasie wees vir ander.

 

Deur Monique Steenkamp

Bronne: marriagemissions.com, thellenlevy.com.