Deur Liezel van der Merwe

Promosie

“Non-non-non!” Die Franse kelner het een kyk oor sy skouer gegee en vinnig terug gekom na ons tafel. Hy is ‘n lang man, geklee in ‘n swart pak, kompleet met onderbaadjie en strikdas. Dis moontlik sy werkspak vir die afgelope 5 jaar – nie meer splinternuut nie, maar word steeds netjies en met trots gedra. Hy het kort gelede die eerste van ons driegang maal neergesit. Ons het, vol bravade, en met my boetie wat Frans kan praat, op die vaste Franse spyskaart besluit. Dit word genoem Le menu du jour en bestaan uit ‘n keuse tussen twee voor-, twee hoof- en twee nageregte. Die een voorgereg opsie was vissop en twee van ons ses het dit bestel. Petra (skoonsus) en Nico (manlief) sit elkeen met hulle sop en bestudeer die bord. Daar is ‘n groot bak sop, sewe wiele van ‘n baguette brood, ‘n bakkie met iets wat lyk soos liggeel mayonnaise en nog ‘n bakkie met gerasperde, ligte kaas. Nico het sy vinger in die liggeel, moontlik-mayonnaise-bakkie gesteek om te proe en Petra het haar eerste broodjie in die sop gedoop. Dis met die sien van hierdie toneel wat die Fransman haastig terug loop na ons tafel. “Non-non-non” sê hy weer en neem stelling langs Petra in. Hy vat summier een van haar broodjies in haar bord, smeer van die liggeel, moontlik-mayonnaise, oor die broodjie en sprinkel van die kaas bo-op. Hy plaas die broodjie in Petra se sop, tel haar lepel op, skep die broodjie en beduie vir Petra dat sy nou net die lepel self moet vat en hap. Sy wou nog ligtelik frons dat die man so bo-oor haar kos is, maar die hap gebeur voor sy kan keer. En dan wil sy nie meer keer nie, want al wat ons hoor is ‘Mmmmmmmmmmm…. dis fantasties!” Die Fransman lyk ingenome en die vissop-eters spring soos een man weg met hulle nuwe manier van sop eet. Vir hoofgereg bestel ons ‘n Cassoulet. Dit is ‘n gewilde Franse gebakte gereg van witbone en vleis. Sy bestaan kom van Languedoc in die suidweste van Frankryk en was eers eenvoudige plaaskos, maar is omskep in ‘n ryk en komplekse gereg. En dan, om af te sluit, ‘n bord vol klein hemelse soethede – une assiette de petits desserts. Dis ‘n aand van kuier en lag, nuwe smake en ontdekkings.

“Wag gou my lief,” roep ek na Nico, terwyl ons die volgende dag oor die kobbelsteen paadjies van die ou stad in Carcasonne met die fietse ry. Ek het gewonder of die oomblik enigsins meer romanties kan wees as wat ek besig was om te beleef. Nou straatjies, ou geboue, Franse winkels, ‘n bakkery, ‘n groot kerk, mense wat oral by tafeltjies eet en ek saam met die liefde van my lewe op fietse in Frankryk. Dit lyk soos die lewe in HOOFLETTERS. Al wat kort is Franse musiek om my, en die prentjie is perfek. En dis hoekom ek Nico tot halt roep. Ek soek na die liedjie op my foon, en druk play. “Okay, ons kan maar gaan”. Nico kyk eers fronsend na my en dan breek ‘n glimlag deur toe hy die musiek hoor. “Des yeux qui font baiser les miens, Un rire qui se perd sur sa bouche, Voila le portrait sans retouche, De l’homme auquel j’appartiens…” Edith Piaf sing La Vie en Rose terwyl ons langs mekaar verder ry op die fietse. Ons voel sommer weer jonk en verlief. Elke huwelik het dalk ‘n sak of twee sout om op te eet, maar die sakke soet maak darem dubbel en dwars daarvoor op. Strome water kon nog nooit ons liefde blus nie.

Promosie

Dit is hierdie avonture wat ‘n Le Boat vakansie ekstra spesiaal maak. Die kombinasie van water en land, van vaar op ‘n kanaal in verwondering oor God se skepping, tot rondloop in ou stede met kerkklokke wat die nuwe uur aankondig. Daar is heelwat goeie redes hoekom ‘n bootvakansie een van die gewildste keuses is van mense reg oor die wêreld, en ons het hulle een vir een ontdek.

‘n Bootvakansie op die kanale van Frankryk was lank op ons bucket list. Ons het gereeld gehoor van vriende wat op ‘n Le Boat vakansie gegaan het en hulle fotos op Facebook en Instagram is ge-like, ge-love en die kommentare was altyd “Dit lyk wonderlik, ons wil ook gaan!” Daar is ‘n hele paar bekendes in Suid-Afrika wat TV programme gemaak het op die kanale – onder andere Gerrie Pretorius wat al op verskeie waterweë gevaar het en Nataniël wat ‘n kookprogram aanboord aangebied het. Bootreise is ‘n bekende en gewilde keuse onder Suid-Afrikaners en ek het gewonder of dit ‘n alles-in-een vakansie kan wees – avontuur, Franse platteland ontdek, vaar op riviere, fietsry langs wynplase, kuier met vriende, maar ook ‘n romantiese wegbreek vir ons.

Ons het besluit op ‘n familie bootreis – ons drie kinders en elkeen se eggenoot. Die reis geselskap het bestaan uit Schalk my ouer boetie, getroud met Petra; ek en Nico en dan my sussie Riana, getroud met Fanie. Ons ses ken mekaar se nukke en grille goed, het die kuns bemeester om heerlik saam te kuier en bo alles hou ons regtig baie van mekaar! Die opgewondenheid het hoog geloop toe ons uiteindelik ‘n datum kry wat almal pas. Ons het die verskillende roete opsies en bote bestudeer op Le Boat se website en uiteindelik besluit om die mees gewildste roete te bespreek – Canal du Midi in Frankryk. Die website maak dit maklik om jou datums in te sit en wys dan watter bote beskikbaar is. Die boot keuses wissel van Budget tot Premier – daar is iets wat elke sak pas. ‘n Belangrike wenk wat vorige bootreisigers gedeel het en ononderhandelbaar is, is om ‘n boot te vat met ‘n ekstra kajuit vir die tasse. Ek het met die intrapslag op die boot besef, die stukkie raad is goud werd, want die kajuite is te klein om ‘n leë tas te akkommodeer. Soos my swaer grappenderwys gesê het toe hy uit sy kamer kom – “Dis klein, maar dis ons s’n.”

Die skilderagtige Canal du Midi is as ‘n UNESCO World Heritage Site verklaar in 1996 en is ‘n besonderse voorbeeld van moderne ingenieursvernuf. Die kanaal strek oor 241 kilometers van die Middelandse see tot by Toulouse. Daar is honderde strukture van brûe, tonnels en sluise. Canal du Midi is ‘n gewilde keuse vir wynproe, fietsry en pragtige middeleeuse dorpies. Hierdie 300 jaar oue waterweg is in die hartjie van die Languedoc-wynstreek en die kanaal maak draaie deur groen landskappe, hoë bome, sonneblom velde, hektare wingerde en klein dorpies. Besoekers raak altyd verlief op die sjarme en natuur van hierdie deel van die wêreld.

Maar behalwe vir Canal du Midi is daar nog agt ander roetes in Fabulous France soos die Le Boaters dit noem. En dit is net die begin! Le Boat is in 9 lande en bied altesaam meer as 170 verskillede roetes in Italië, Holland, België, Duitsland, Engeland, Ierland, Skotland en Kanada. Kanale, riviere en mere. Daar is soveel om van te kies! En Le Boat help jou om te kies!

Op hulle website gee hulle aanbevelings vir watter roete jy kan volg vir verskillende aktiwiteite en vir verskillende groepe. As jy byvoorbeeld lief is vir die natuur beveel hulle sewe opsies aan waarna jy kan kyk. Dan is daar roetes wat ryk is aan geskiedenis, roetes spesiaal vir kos en wynproe en roetes vol pret – swem, see, gholf, visvang, fietsry, perdry en selfs watersport. Jy kan ook soek wat by julle groep gaan pas. Dalk ‘n romantiese wegbeek vir twee, ‘n familie vakansie of die ideale roete vir ’n groep vriende. Daar is selfs roetes waar jy jou woef kan saamvat! Le Boat maak die keuses makliker.

Ons keuse van Canal du Midi was ‘n goeie een en ons het gevaar van Castelnaudary tot by Homps. Sewe nagte aanboord die Magnifique. Daar was een honeymoon suite, ‘n baie klein kajuit wat die pakkamer geword het, en nog twee kamers met enkelbeddens. As jy ‘n boot bespreek vir ‘n couples retreat – maak seker al die kamers het dubbelbeddens! Dit is immers baie meer romanties om lepel te lê as die water saggies in die aande om die boot klots as alleen op ‘n enkelbed.

Die Lewe Aanboord

Om ‘n tipiese dag aanboord Le Boat te beskryf moet ek begin in die middel van die nag, of meer spesifiek drie uur of vier uur in die oggend as jy onverwags wakker word. Ek het die gordyntjie oopgelos en soos my oë oopgaan het ek die maan en sterre gesien in die hemelse ruimte. Dis tjoepstil behalwe vir die wind wat saggies waai, die water wat teen die boot roer en Nico wat langs my rustig asemhaal en diep slaap. Hemels! Met ‘n glimlag raak ek weer vinnig aan die slaap tot vroegoggend wat ek Fanie se fluit hoor. Dis die ‘koffie is reg, staan op fluit’ en ek trek gou my japon aan om vir my en Nico koffie te gaan haal. Hy drink in die bed en ek kies koers na bo om op die dek die vars lug te gaan inasem. Dis ‘n pragtige nuwe dag wat die Here gemaak het!

Met almal wakker begin ons gesels oor die dag. Hoeveel gaan ons vaar vandag en watter dorpies is daar om te besoek? Gelukkig is Riana baie handig met ‘n kaart en weet ek ons gaan niks mis nie. Deur hoeveel sluise moet ons gaan en wat gaan ons eet? Het ons nog wyn?

Na koffie trek ons tekkies aan. Party draf, party stap en ander doen sommer ‘n program op Youtube. Enige iets om bietjie te oefen en seker te maak ons het ekstra kapasiteit vir ‘n croissant en baguette! Dan is dit stort, ontbyt en enjin aanskakel. Schalk en Nico is die kapteinspan en stuur ons boot veilig deur die waters. Na ‘n halfuur kom ons by ons eerste sluis aan. Die span by Le Boat se hawe het ons mooi geleer hoe ‘n boot deur ‘n sluis vaar en na ‘n paar sluise het ons soos ervare bootvaarders gevoel. ‘n Sluis is ontwerp om bote te laat sak (as jy stroom-af vaar), of te laat styg (as jy stroom-op gaan), van een watervlak na die volgende. Hierdie sluise is noodsaaklik vir die bestuur van die hoogteveranderings langs die kanaal se roete. ‘n Sluis bestaan uit ‘n kamer vol water en hekke aan beide kante. Sodra jy met jou boot invaar, sluit die hek agter jou en die hek voor jou maak oop sodat die water kan uitvloei en jou boot kan sak na die volgende vlak (of teenoorgestelde vir stroom-op). Ons taak was om die boot se tou voor en agter na die oewer te gooi en vas te maak sodat ons die boot kan beheer. Dit het elke keer as ek die tou gooi gevoel of ek in ‘n ‘Wild West’ fliek speel en ‘n wilde perd moes vang. Die perd was egter heel mak en ons vaar maklik deur!

‘n Ent anderkant die sluis sien ons die pad wat inry na ‘n dorpie. Ons stop die boot teen die oewer, die manne slaan penne in en die boot word vasgemaak met die toue. Fietse word afgelaai want dis tyd om ‘n boulangerie (Franse bakkery) te gaan soek. Hierdie bakkerye is uiters gewild op elke dorp. Die baguette brode staan kierts regop in die rakke mandjies teen die muur en in die vertoonkaste is ‘n verskeidenheid gebak. Daar is Franse gunstelinge wat jy nie kan mis nie – Croissants, Eclairs, Brioches, Profiteroles, Beignets, Pain au chocolat, Mille-feuilles, Chouquettes en Canelets. Hemels! Ons tap die kaarte sonder om somme te maak. Dan ry ons na die Carrefour supermark en koop ‘n vleisie om te braai, groente, slaai, wyn en water.

Terug op die boot maak ons ‘n tweede koppie koffie en geniet dit op die dek in die sonnetjie saam met ons Franse gebak. Ons vaar verder. Dis beeldskoon om ons. Die hoë bome aan beide kante van die kanaal vorm ‘n groen poort vir ons. Party lees, ander kuier, dis ‘n uitstaande dag op die kanale. Middagete is ‘n groot hoenderslaai met witwyn en baguette brode. Ons knip ‘n uiltjie voor ons verder vaar en deur nog sluise gaan. Ons slaap vanaand buite die hawe. Jy kan letterlik enige plek stop in die kanaal en die boot vasmeer. Ons het beurte gemaak tussen hawe en in die natuur sodat ons elke tweede dag die boot se batterye kon laai en die watertenk kon vol maak. Ons boot staan salig alleen vasgemeer op ‘n lang reguit stuk van die kanaal. Die son begin sak oor ‘n perfekte dag. Die lug verkleur in oranje, rooi en pienk en ons klink ‘n glasie op genade. Die sterre verskyn blink bo ons en Nico steek die gasbraaier aan. Dis tyd vir braai en kuier! Hoe dan anders?

Is dit baie moeilik? Moet jy ‘n lisensie hê?

Die goeie nuus is jy het geen ervaring of ‘n lisensie nodig nie. As jy kan kar bestuur, kan jy boot bestuur.  Daar is ‘n stuurwiel en ‘n hefboom vir vorentoe en agtertoe. En die boot is sterk genoeg vir ‘n ligte stampie of twee. Boonop leer die Le Boat span jou alles voor jy begin. Hulle vat jou selfs uit om te toetsvaar. Daar is verskeie ouer paartjies wat die kanale bemeester. Jy word maklik ‘n bootvaarder en met Kurt Darren se ‘Kaptein’ op die luidspreker gaan jy binne die eerste 100 meter iemand wil salueer!

Jou eie pas

Jou boot, jou roete, jou tyd. ‘n Bootvakansie is jou vervoer en blyplek in een. Jy kan self besluit waar jy wil stop, wat jy wil ontdek, waar jy wil tyd spandeer en wanneer jy weer wil verder vaar. Op verskeie roetes kan jy stop en met jou fiets tot by ‘n treinstasie ry om dan ‘n trein te vat na ‘n groot stad! ‘n Bootvakansie is soveel meer as net tyd op die water. Dis ‘n geleentheid om die wêreld te sien!

Wenke van Ervare Bootvaarders

  • Wees rustig. Vat jou tyd. Indien moontlik, beplan ‘n maksimum van 4 ure vaartyd per dag sodat jy genoeg vryheid het om die omgewing te geniet. Los die program en vat elke dag soos hy kom.
  • As dit jou eerste bootreis is – begin by die kanale en doen die riviere en mere ‘n volgende keer.
  • Doen genoeg navorsing vooraf en maak die meeste van die briefing voor die tyd, sodat jy gemaklik voel om die bootreis aan te pak.
  • Wat pak die experts ekstra? Reënjas, nie-glip skoene, windbreker, koffie-masjien, sjampanje, speletjies, verkyker, mooi liggies, landsvlag, handskoene om die toue te hanteer, ‘n bluetooth luidspreker en visstokke!
  • Hoekom gaan hulle so gereeld? ‘n Week op ‘n bootvakansie is gelyk aan twee weke op ‘n ander plek. Dis rustig, maar ook opwindend. En die plaaslike restaurante en kroeë maak die ervaring perfek!
  • En ‘n wenk of twee van ons – huur vir elkeen ‘n fiets, anders kan almal nie saam ry nie en moet iemand op die boot agterbly. Ons het aanvanklik drie fietse tussen die ses gehad en later het ons ‘n ekstra fiets bygekry. Dit was te min. Volgende keer huur ons ses fietse.
  • Julie en Augustus maande is baie warm, te warm. Ons reis was vroeg September en die daaglikse temperatuur was ‘n warm 30°. Enige iets bo 30° sal amper onaangenaam warm wees! In Julie en Augustus klim die temperatuur na 40°.
  • Vat ‘n boot met ‘n ekstra kajuit vir die tasse. Dis nie ‘n luuksheid nie, dis noodsaaklik.
  • Laai die Splitwise app gratis af. Splitwise is ‘n gratis hulpmiddel vir vriende om gedeelde uitgawes op te deel, sodat almal terugbetaal word. Wie ookal betaal laai dit net in die app en kan kies of die uitgawe gelykop gedeel moet word of in watter verhouding ook al. Dit maak geldsake aanboord baie makliker!

Is dit romanties?

Beslis! Die Franse stede sal julle harte bekoor. Hand aan hand oor die kobbelsteen paadjies, fietsry langs wynlande – dit is die tonele waarvan flieks gemaak word. Dit is ook wonderlik om dit saam met ander paartjies te beleef wat positief is oor hulle huwelike. Maar ek moet eerlik wees – kajuitkaskenades is bietjie beperk. Die mure is dun, maar, aan die ander kant, skelm vry is weer opwindend op ‘n ander manier…

Hoe lank en saam met wie?

Ons het sewe nagte bespreek. Van die manne het gevoel vyf nagte sou genoeg gewees het. Dit hang van jou roete en voorkeure af.

Kies jou groep versigtig. Jy beweeg in ‘n nou spasie saam met mekaar. Kies maklike mense wat die lewe nie te ernstig opneem nie. Bespreek verwagtinge met mekaar – moet alles haarfyn beplan word of gaan ons elke dag vat soos hy kom? En hou my skoonpa se goeie raad in gedagte – “Hou jou stert slap so in ‘n groep. Die oomblik as jy jou stert in ‘n krul trek dan stamp hy teen goed en raak geirriteerd. Dit werk nie. Ontspan hom!”

Wat moet jy pak?

Die boot is goed toegerus. Daar is linne en handdoeke. Jy moet jou eie swemhanddoek vat (let wel – jy kan nie in die kanale swem nie, maar wel in riviere en mere). Pak jou klere in packing cubes – as jy nie weet wat dit is nie, kyk ‘n Youtube video. Die pakplek is baie min en ons almal was dit eens, mans en vrouens, packing cubes is ‘n moet. Kortbroeke en kaalvoete elke dag is heerlik (pak lig en prakties). Onthou ‘n hoed, sonbril en sonroom. As jy bekommerd is oor die toue, pak leer- of tuinhandskoene (ons het reggekom daarsonder) in. Vat ‘n verkyker! Pak muskietweerder in. Pak speletjies in as julle daarvan hou. Ons het ‘n skerp messie ingepak vir slaai maak wat lekker was! Pak ‘n landsvlag in om voor aan die boot vas te maak. Onthou ‘n baadjie vir die wind.

Koop ‘n datakaart in die land waar jy gaan wees. Ons het alles wat ons nodig het vir die boot daar gekoop – toiletpapier (1 laag), skoonmaakmiddels, swart sakke, kos, wyn en water. Jy koop net vir ‘n dag of twee en vul dan weer voorraad aan. Daar is genoeg dorpies en winkels. Hou in gedagte dat die winkels toe maak vir ‘siesta’ in die middag en amper al die winkels is toe op Sondae. (Bonus wenk: koop van daardie dun weggooi kombuis lappies vir vloer vee in die badkamer en kombuis).

Hoeveel kos dit?

Jou boothuur sal afhang van hoeveel nagte jy die boot bespreek, waar julle gaan vaar en of dit hoog- of laagseisoen is. Daar is van tyd tot tyd spesiale aanbiedinge op Le Boat se webblad – maak seker jy teken aan vir hulle nuusbrief sodat jy nie hierop uitmis nie.

Ons sewe nagte, op ‘n spesiale aanbod, met ekstras (versekering, fietse huur, fietse versekering, ‘n braaier en booture) het net oor R90,000 gekos wat ons dan verdeel het onder die drie paartjies.

Ons het meeste van die tyd self kos gemaak. Ons begroting vir te ete en te dranke, met een uiteet was ongeveer R10,000 per paartjie. Na gelang van julle behoefte kan die bedrag minder of meer wees. As jy meer uiteet en drankies gaan drink sal die bedrag natuurlik heelwat meer wees.

Vliegkaartjies, vervoer na die hawe, visums en reisversekering sal ook deel uitmaak van jou begroting.

Besoek hierdie skakel vir riglyne: https://www.leboat.com/your-vacation-price

Kan jy ‘n ander toer voor of na die bootreis doen?

Beslis! Ons het! Maar almal apart. Dit was ‘n goeie idee om as paartjie ook alleen tyd te hê en die meeste te maak van die duur vliegkaartjie. Ek en Nico het in Spanje gaan rondry en by ons vriende daar gaan kuier.  Schalk en Petra het die Catalan Coast gaan stap – slackpacking van hotel na hotel. En, Fanie en Riana was op die eiland Majorca en in Barcelona!

‘Time flies when you’re having fun’

Toe ons Le Boat avontuur tot ‘n einde kom en ons van die boot af klim om die terugreis te begin na Suid-Afrika, dink ek weer aan die Franse kelner wat met sy non-non-non ons kom reghelp het. ‘n Le Boat vakansie is beslis oui-oui-oui – ja, ja, ja! Dit was ‘n enig in sy soort, kwaliteit belewenis – rustig, opwindend, onopgesmuk en vol avontuur. Ons het die dae gepluk en die lewe voluit geleef. Die lekkerkry het vrylik rond geloop en ons glimlagte was wyd en breed. Daar is baie vuurhout bymekaar gemaak vir die oudag. Ons sit sommer vir oulaas die musiek aan… “Kaptein span die seile, kaptein sy is myne…”

Besoek gerus Le Boat se webblad vir meer inligting – www.leboat.co.za.

Kry ‘n kwotasie by die Le Boat Span: sales@leboat.co.za of skakel  0800 333 302

Le Boat is een van die wêreldleiers op die gebied. Teken in op hulle nuusbrief sodat jy nie ‘n spesiale aanbod mis nie. Dis elke sent die moeite werd. Begin droom. Begin spaar. Hark jou mense nader. Bespreek!

Nota: Die Le Boat Stories wat ons gedeel het op INTIEM HUWELIK se Instagram bladsy is saamgevat in ‘n Highlights Reel op ons profielbladsy. Gaan kyk!