Jy stap jou slaapkamer binne en voel die bloed na jou wange pomp en jou hartklop versnel. Nie omdat jou voet so pas aan manlief se onderbroek op die vloer vasgehaak het en jy hom wil verwurg nie, maar omdat jul kamer jou hormone bollemakiesie laat slaan!
Of is dit allermins hoe jy voel as jy jul slaapkamer betree? As jou slaapkamer eerder vaal as boudoir is, geen probleem nie! Jy kan ’n boring vertrek in nege maklike stappe in ’n stomende liefdesnessie verander.
Stap 1: Gooi alles uit
Dra alles uit die kamer uit. Raak ontslae van dinge wat oud, stukkend of onaantreklik is. Daar is nie plek vir die televisie, strykplank of die wasgoedmandjie nie. Niks in die kamer moet julle herinner aan werk of stres nie.
Stap 2: Kies ’n tema
Watter plekke vind jy eroties? ’n Tropiese eiland, ’n hotelkamer of ’n houthuis in die berge? Wat maak hierdie spesifieke plekke vir jou só romanties? Probeer elemente daarvan in jou slaapkamer inbring. Dit kan so eenvoudig soos tropiese plante wees of so duursaam soos ’n Persiese mat. Gaan loer gerus na prentjies op die Internet vir inspirasie en bou jou kleurskema en bykomstighede daar rondom.
Stap 3: Vervang die bed
Jou bed hoef nie in die rondte te kan draai of in die vorm van ’n hart gesny te wees nie, maar dit moet lekker kan bons. Soos wat ’n bed verouder, verloor dit sy fermheid. Dit kan ’n demper op julle sekslewe plaas as jou boude of manlief se knieë heeltyd wegsak in die matras – om nie eers te praat van die springs wat soms in jou ribbes steek nie. Volg Gouelokkies se voorbeeld en moenie ’n bed kies wat te hard of te sag is nie – soek vir een wat net reg (ferm genoeg) is.
Stap 4: Maak jou mure mooi
Buiten die plafon, is die mure een van die areas in die kamer wat jou oog die meeste vang. Verf gerus die mure ’n sagte, warm kleur, of kies iets helder en vrolik. Dit gaan oor julle smaak en wat vir julle ’n turn-on is. Een ding wat julle verseker moet doen, is om die familiefoto’s van die mure af te haal. Niemand wil in die middel van seks opkyk en sien hoe oupa betigtigend oor sy bril vir julle manewales loer nie! Hang eerder skilderye of foto’s teen die muur wat by jou tema pas.
Stap 5: Werp die regte lig op die onderwerp
Jy kan ’n gewone vertrek omskep in iets ongeloofliks met die regte beligting. Kry vir julle elkeen ’n bedlampie en plaas mooi kerse op strategiese plekke in die kamer. Installeer ’n skakelaar wat die ligte kan verdof soos dit julle pas. Wenk: Vermy wit ligte en kies eerder geel gloeilampe – dit is sagter en meer romanties (net soos ’n kaggelvuur se lig) en help ook so bietjie om ons imperfections te verbloem.
Stap 6: Reflekteer die liefde
Spieëls hoort nie net in die slaapkamer nie, dit hóórt in die slaapkamer. En meer as een van hulle. Vergeet van een teen die dak – almal gaan weet hoekom dit daar is. Maar niemand gaan snaaks dink as daar twee vollengte spieëls aan weerskante van die vertrek staan nie. Jy kan selfs etlike kleiner spieëltjies agter jou kerse plaas om ’n sexy glinstering aan die vertrek te gee.
Stap 7: Kies sexy materiale vir julle bed
Materiaal moet lekker teen jou vel voel. Jou kussings, duvet, lakens en ander bykomstighede moet jou uitlok om daaraan te raak. Gebruik meer as een soort materiaal vir verskillende effekte. Kry strooikussings en bed-oortreksels met verskillende teksture soos satyn, faux fur, sy en kasjmier. Gebruik dit om mekaar te kielie, in te rol, kamma pak te gee of julle liggame te stut vir sekere seksposisies.
Stap 8: Ritme vir julle romanse
Soos jy goed weet, kan die regte liedjie die shake in jou agterstewe uitbring en jou “O, so sexy” laat voel. Julle kan dit boonop op meer as een manier benut. Plaas ’n radio of skootrekenaar permanent in die kamer met ’n rits van sexy liedjies. Gebruik die musiek in die agtergrond om julle in die mood te kry, om vir manlief ’n strip show te hou of om die klanke van julle passie te verdoof.
Stap 9: Onskuldige items met ’n stoute doel
’n Stoel, kapstok, waaier en verwarmer is items wat in elke slaapkamer aangetref word. Wat jy met dit doen, is egter wat saak maak. Gebruik die stoel as julle interessante seksposisies wil probeer. Die verwarmer sal die koue uithou op wintersaande, terwyl die waaier ysblokkies op julle lywe kan smelt in die somer. Gebruik die kapstok as ’n geheime “posbus” – as jou lingerie vanaand daar hang, beteken dit môreaand is manlief in vir ’n treat!
Bronne: ivillage.com, examiner.com