LAP JOU JAMIES

Promosie

Onthou jy daardie heel eerste winter-pajamas waarin jy langs jou nuwe bruidegom geslaap het? Hopelik het jy dit nog in jou kas… want dis tyd om dit weer te begin dra. Die kans is egter goed dat die nagklere nou al bietjie verslete is. Koop ’n 1×1 meter stuk rooi materiaal (’n dikkerige materiaal werk die beste). Sny harte daaruit. “Lap” nou jou ou nagklere met rooi harte. As manlief vra wat aangaan, verduidelik jy dat dit jou mees sentimentele pajamas is omdat dit is waarin jy hom leer liefkry het en dat jy nie kans sien om daarvan ontslae te raak nie. As hy dié gebaar nie waardeer nie, verdien hy nie om langs daardie gelapte pajamas te slaap nie!

’N CHEEKY KAARTJIE

Vir ’n oulike en eenvoudige nota, gaan na ’n kunsvlytwinkel en koop ’n googly eye (daardie plastieksoort wat beweeg), ’n hartjie-suigstokkie en karton. Plak eers die ogie (I), daarna die hartjie-suigstokkie (love) en dan ’n mooi foto van manlief (you). Dit is soppy, ja, maar partykeer moet ’n mens bietjie bloos ter wille van die liefde!

Promosie

IETS VIR SY LIPPE

Besoek ’n keramiekwinkel. Die meeste van dié plekke het klasse waartydens jy kan leer hoe om ’n item te maak, te versier en te bak (of een van die drie). Neem ’n vriendin saam en koop of maak vir elk van jul manne ’n koffiebeker, waarop jy ’n mooi boodskap skryf. Ons hou van dié een: “Ek is jaloers op die koffiebeker, wat elke koue, bitter oggend die kans kry om jou slaaplippe wakker te soen (en ek is van plan om hom van nou af vóór te spring)!”

 

Deur Annelize Steyn