Rituele tussen jou en jou maat kan die verskil tussen ’n bla-huwelik, en een waarin jou en Manlief se intimiteit seëvier, wees . . .
Die dag toe jy voor die kansel gestaan het, het jou en jou maat se liefde op die heel boonste trappie getriomfeer. Niks sou ooit weer so belangrik wees nie, het jy geglo. Julle geluk het voorrang geniet en jy sou alles in jou vermoë doen om seker te maak dat dinge so bly.
Ná die wittebrood het jy elke oggend vir hom ontbyt in die bed geneem, daarna het julle seks gehad, saam koerant gelees, mekaar in die badkamer geterg, terwyl julle tande geborsel en mekaar met ’n lang soen voor werk totsiens gesê het. Elke Vrydagoggend het jy ’n skelpienk Gerbera in jou ruitveër gekry, elke Saterdagoggend het julle lank met jul twee worshonde gaan stap en elke Saterdagaand kon jý die chick-fliek kies. Sondagoggende was julle saam kerk toe en Sondagaande het julle voor die televisie aan die slaap geraak . . .
Julle liefde was ’n prioriteit, en terwyl lank getroude vriende laggend gesê het dat julle naïef is om te glo dat dinge vir altyd so gaan bly, was jy veilig toegenestel in die kokon wat om julle gespin was. Een waarin julle vir lank en gelukkig tevrede sou kon bly . . .
Maar toe word daar ernstig by jou man se werk besnoei, en is hy, in sy junior posisie, die trekpas gegee. Soggens, terwyl jy nog geslaap het, was hy op die internet, op soek na ’n nuwe pos. Die nuwe seisoen het aangebreek en Gerberas was nie so geredelik beskikbaar nie . . . Daar was nie geld vir fliek nie, en toe jy eindelik ’n beter werk losslaan wat die spanning effens kon verlig, moes jy vroeg op ’n Sondagaand bed toe om vir Maandagoggende se vroeë tog op die N1 voorsiening te maak.
In slegs ’n paar maande se tyd het jul liefde drie trappies laer geskuif. Toe gaan een van die worshonde aan bosluiskoors dood. Jou suster-hulle trek Nieu-Seeland toe en jy word Kaap toe verplaas. Nog ’n trappie laer. Die volgende maand het jy ontdek dat jou maandstonde laat is. Veertien weke later het julle die nuus gekry dat dit ’n tweeling is, en dertig maande later het jy nie meer geweet of julle huwelik enigsins op die prioriteitsleer staan nie. Vandag, ses jaar later, piksoen julle mekaar in die verbygaan . . . op goeie dae.
Wanneer die alledaagse met romanse inmeng . . .
Die besonderhede verskil, maar elkeen van ons se storie lyk min of meer só, nie waar nie? “Kon die huwelik maar ’n ewige wittebrood bly! Hoe het dinge so onder ons hande uitgegly?” vra paartjies elke dag. “Ons is tevrede in ons huwelik, maar nie ekstaties gelukkig nie . . .”
Dit gebeur as jy nie kyk nie, ómdat jy nie kyk nie. “Daar word gesê dat die grootste bedreiging vir die moderne huwelik, die alledaagse lewe is,” skryf Geoff Steurer in sy artikel, Rituals in Marriage. Geoff is ’n huweliks- en gesinsterapeut van St George, wat daarin spesialiseer om vertroebelde huwelike te help red.
“Die meeste paartjies begin hul huwelik met die opregte voorneme om vir die res van hul lewens emosioneel gekonnekteer te bly. Baie paartjies ontdek egter dat hulle mettertyd fisiek en emosioneel uit mekaar begin dryf.” Die meeste van ons tyd word daaraan bestee om ander mense tevrede te stel, meen Geoff. Almal weet dat gestruktureerde tyd saam met elkeen van jou kinders broodnodig is. Dit is egter ewe nodig vir ’n huwelikspaar, meen Geoff. “As ’n huwelik as ’n entiteit, afsonderlik van elke maat, beskou word, is dit meer geneig om gekoester te word.”
Gaan jou huwelik vir ewig lou wees?
Geoff meen dat ’n gesonde huwelik nie net prakties is nie, maar ook diep persoonlik. ’n Praktiese huwelik bestaan uit twee maats wat saam woon, die kinders versorg, die huishouding bestuur en solo-aktiwiteite, soos televisie kyk, beoefen. Daarenteen sorg ’n persoonlike huwelik vir ’n gevoel van nabyheid en konneksie.
Dit is moontlik om jou huwelik weer die trapleer te laat klim. Een manier om ’n praktiese huwelik in ’n persoonlike huwelik te verander, is om huweliksrituele te vestig. Die definisie van ’n ritueel is ’n sosiale interaksie wat herhaal en gekoördineer word en uitsonderlik is . . .
In die huwelik is herhaling soms nie so prakties nie! Dít wat julle eens op ’n tyd baie geniet het om saam te doen, is skielik deur noodsaakliker take vervang, daarom verg rituele beplanning. ’n Eenvoudige gesprek oor wat, waar en hoe julle jul tyd saam gaan deurbring, kan wense en drome na jou kalender verplaas, meen Geoff.
Derdens hou rituele betekenis vir albei partye in. Daar is waarskynlik baie dinge wat julle gereeld en herhaaldelik in jul huwelik doen, maar wat min spesiale betekenis vir julle inhou. As jy kan vasstel wat die verskil tussen herhaling en rituele is, kan jy laasgenoemde gebruik om ’n merkwaardige verskil in jou huwelik te maak!
Rituele in jou huwelik kan maklik, prettig en speels wees. Dit moet privaat wees en dit is dikwels roerend en betekenisvol. Elke paartjie se rituele verskil, maar dit is daardie klein dingetjies wat julle twee op ’n gereelde basis herhaal (daagliks, maandeliks of jaarliks) wat ’n verskil maak. Dit is ’n manier om weer met mekaar in voeling te kom en jul liefde vir mekaar te bevestig.
Maak rituele werklik ’n verskil?
Dr. Carol Bruess, outeur van What Happy Couples Do, sê dat rituele jou ’n sin van geskiedenis, voorspelbaarheid, speelsheid en iets om na uit te sien, gee. “Ons belê energie in soveel dinge, behalwe in ons huwelike. ’n Huwelik lê in die klein dingetjies. Liefde is regtig ’n werkwoord. Jy moet net uitvind wat vir jou huwelik werk, en dit doen.”
Carol het geïnteresseerd geraak in die idee van privaat rituele, nadat sy ’n ouer paar dopgehou het wat vroeg in hul huwelik as mentors vir haar en haar man gedien het. “Hy sou sy vrou dikwels aanspreek as: “O, beautiful wife of mine”. Ek het opgemerk hoe die hele toonaard en nuanse van hul interaksie verander het, sodra hy dit gesê het.”
In 2001 is daar ’n interessante bevinding deur die Openbare Sakekantoor van die Amerikaanse Sielkunde-vereniging gemaak. Daar is bewys dat paartjies wat aan rituele deelneem, soos om die huis vir Kersfees te versier, of advent kerse aan te steek, se huwelike hierdeur versterk word. Dit is bewys na aanleiding van ’n studie wat bevind het dat paartjies meer tevrede met hul huwelike is as hulle betekenis in gedeelde geestelike vakansiedag rituele kon vind.
“Die paartjie se privaat wêreld van intieme bande en konneksies word dikwels deur die uitoefening van geestelike rituele in die ope gebring,” meen die outeurs, “en die paartjie kan hul konneksie en intimiteit deur die uitoefening van betekenisvolle rituele herbevestig.”
Hoekom is rituele vir ons belangrik?
Die behoefte om gekonnekteer te voel, begin by jou geboorte en in jou kindertyd wanneer daar ’n behoefte aan binding met ’n versorgende figuur is. Wanneer paartjies inkom vir hulp, is die grootste probleem ’n gevoel van diskonneksie en ’n gevoel dat hy of sy nie vir die ander persoon saak maak nie. Die vraag word dan gevra: “Hoe laat ek my maat verstaan dat hy of sy regtig vir my belangrik is?” sê Karen Sherman, ’n praktiserende sielkundige in verhoudings en leefstylkwessies.
“Daar is soveel klein dingetjies wat jy in jou huwelik kan doen wat jou maat kan laat verstaan hoe lief jy hom het,” verduidelik sy. Dit kan by die erkenning van verjaardae en huweliksherdenkings begin, sodat jou maat nooit hoef te voel jy het hom of haar vergeet nie.
’n Intensionele huwelik
William Doherty, ’n huwelik- en gesinsterapeut en sielkundige, skryf oor die begrip ‘intensionele huwelik’: “’n Intensionele huwelik is een waarin die maats bewus, doelbewus en berekenend daaroor is om ’n konneksie oor die jare te vestig en te bou . . . want as ons, in hierdie era, nie intensioneel is nie, sal ons autopilot-paartjies word.”
Hiermee bedoel hy dat die natuurlike vloei van huweliksverhoudings in die moderne lewe met volgepakte skedules, eindelose take, kinders om te versorg, en die ewig-teenwoordige televisie en ander media, waar die fokus al hoe minder op die huweliksverhouding val, met minder konneksie, minder vonk en minder intimiteit gepaard gaan. “Die teenvoeter van die pad na ’n automatic pilot-paartjie, is om ’n intensionele paartjie te wees wat rituele oor die jare gevestig het.”
WAARUIT BESTAAN RITUELE?
Rituele kan een keer per jaar, of daagliks geskied . . . die geheim is dat dit herhaal moet word. Die verskil tussen ’n ritueel en ’n roetine is die uitsonderlikheid daarvan. Rituele kan so onromanties klink soos om saam inkopies te doen. Enigiets kan in ’n bindingsritueel verander word.
William verdeel rituele in drie afdelings: Rituele van
• konneksie;
• intimiteit en
• gemeenskap.
Rituele van konneksie is om mekaar in die oggende te soengroet, saam koffie te drink en te gesels en in die tuin te werk. Dit is ’n bindingsritueel. Intimiteitsrituele sluit afsprake in waar julle spesiale tyd saam deurbring en sekere patrone van seksuele intimiteit vestig, byvoorbeeld tydens ’n spesiale geleentheid soos Valentynsdag.
Gemeenskapsrituele is aktiwiteite waar paartjies die groter wêreld betrek deur betrokkenheid by ’n geestelike gemeenskap, buurt-aktiwiteite en sosiale kontak met vriende.
William vertel hoe hul groet ritueel gou ná die geboorte van hul kinders in iets soos die volgende ontaard het: “Hi, Eric het opgegooi en Beth was stout” of “Het jy onthou om die garagedeur toe te maak?” Hulle het gou agtergekom dat hierdie groet roetine nie meer vir hulle werk nie en het besluit om ’n radikale verandering te maak deur elke keer as hulle mekaar met ’n druk en ’n soen te groet en te sê: “Hallo, Liefling. Hoe gaan dit?”
William vertel hoe een paartjie by ’n werksessie van hul groet ritueel vertel het. Hulle het agtergekom hoe ongelooflik entoesiasties hul Golden Retriever is as een van hulle by die huis kom, en hulle het besluit om hul hond ore aan te sit! Wat hulle nou doen, is om na mekaar toe te hardloop en skreeuend van genot, met waaiende arms in die lug te spring! Dit klink dalk laf, maar dit is speels en ’n vreugde vir hul kinders om te aanskou.
Toe hul jongste vier jaar oud was, het William en sy vrou, Leah, ook ’n praat ritueel gevestig. “Na ete sal ons opruim en vir die kinders nagereg gee; dan sal een van ons begin koffie maak en die kinders aansê om te gaan speel. Ons het hulle geleer om ons in vrede te laat terwyl ons ons koffie geniet, sodat ons kan gesels. Ons het vir hulle gesê om ons nie te onderbreek nie, tensy die huis afbrand, of iets soortgelyks, in welke geval hulle altyd 911 kan bel, en ons dán onderbreek . . . So het ons ongeveer vyftien minute per dag om as paartjie te gesels.” Hierdie ritueel verg baie beplanning. Hulle het nie bloot gesê dat hulle sal kyk wanneer hulle vyftien minute ingepas kry nie, die tyd is bepaal.
Natuurlik werk dit nie altyd so uit nie. Wanneer William of Leah direk na ete moet ry, sal hulle dit altyd noem dat hulle die ritueel gaan misloop. “Een van die maniere waarop jy weet dat jy ’n soliede ritueel het, is dat jy dit agterkom as jy dit om die een of die ander rede nie kan doen nie. As jy dit slegs oorslaan, kommunikeer jy die boodskap dat dit nie belangrik is nie.”
So, die eerste fase van enige ritueel, is die oorskakeling na rituele ruimte. Die tweede is die uitvoering daarvan. Jy moet byvoorbeeld ’n paar reëls hê, meen William, soos dat praatrituele nie uit gesprekke oor die elektrisiteitsrekening mag bestaan nie. Daar mag ook geen probleemoplossing gesprekke of konflik wees nie. Dit gaan daaroor dat julle op ’n persoonlike vlak konnekteer.
So, hoekom is die ritueel dan enigsins belangrik? Dit moet eerder ’n emosionele gesprek wees oor hoe dit met elkeen gaan, en hoe elkeen se dag was. Die derde fase van ’n ritueel is ’n uitgang stadium, ’n manier om die ritueel te beëindig. As jy dit nie vasstel nie, kan die een dalk net opgewarm raak, terwyl die ander een besig is om af te skakel.
In William en Leah se geval werk dit so: sodra die koffiekoppies leeg is, hou hulle op gesels. Hulle hoef nie daaroor te onderhandel nie, anders skep dit weer ruimte vir konflik. William meen dat rituele maklik bedreig word. As jy uit jou daaglikse roetine beweeg, soos wanneer jy met vakansie is, is ’n paartjie geneig om ’n daaglikse ritueel agterweë te laat. Dit is eers wanneer hulle huis toe kom en nie die ritueel herinstel nie, wat so ’n paartjie agterkom dat hulle dit mis.
Paartjies by een van William se werksessies het die volgende rituele met die groep gedeel:
• Een van die paartjies is op Kersfees getroud en hul kind is op Kersfees gebore, wat beteken dat hul herdenking deur die jare tussen Kersdag en hul kind se verjaardag verlore geraak het. Hul herdenking is deur ’n ‘ontvoering’ gered. “Elke jaar ontvoer my man my iewers heen. Al wat hy meld, is watter tipe klere om te neem, soos byvoorbeeld ’n jas of ’n swemkostuum, en dan neem hy my weg.”
• Nog ’n paartjie het ’n jaar en ’n half gelede elke Woensdagaand vir ’n uur en ’n half baldansklasse begin neem.
• ’n Ander paartjie is op 22 Augustus getroud en hulle vier maandeliks hul huweliksherdenking op die 22ste. Soms gaan die paartjie uiteet, ander kere is dit ’n telefoonoproep om vir die ander een te sê: “Ek is lief vir jou”, en soms is dit sommer ’n besoek aan die supermark om ’n nuwe houtlepel te koop, maar die gedagte is dat dit ’n ‘ek is lief vir jou-dag’ moet wees.
• ’n Paartjie wat 32 jaar getroud is, vertel dat hulle geskenke vir mekaar in die huis los. Haar man gee vir haar enige kleur roos. Soms is dit elke ses maande, ander kere elke paar weke. Hy sê niks en plaas dit net iewers in die huis waar sy dit later kry. Hy weer, is baie lief vir pasteie. Sy bak vir hom pasteie en as hy tuiskom en ’n pastei kry, weet hy dit kom van haar af.
• Nog ’n paartjie skryf al die afgelope vyf en twintig jaar van hul getroude lewe daagliks vir mekaar liefdesbriewe. Hulle het nog nooit ’n dag oorgeslaan nie, selfs nie toe die man opehart sjirurgie ondergaan het nie. Daar is seker nou 18 000 – 19 000 briewe in die kas, en die kinders gaan dit lees as hul ouers dood is.
• Jim en Sharon stort elke aand saam. Hulle stort het twee afsonderlike stortkoppe, en hulle het ’n ritueel binne ’n ritueel, want elke keer as sy die seep laat val, wat gereeld gebeur, tel hy dit vir haar op. Daar is voordele aan verbonde waarop hy nie wou ingaan nie!
• ’n Ander paartjie stel hul wekker elke oggend vir twintig minute voor opstaantyd, sodat hulle mekaar kan troetel. Selfs al kom hulle nie later die dag by mekaar uit nie, weet hulle dat hulle daardie tyd saam gehad het. Die vrou vertel van een van haar ouers se rituele. Elke aand terwyl haar ma skottelgoed gewas het, het haar pa by haar gestaan en vir haar uit ’n boek voorgelees . . .
• Martha en Dana Flemming hou al die 22 jaar wat hulle getroud is, ’n huweliksherdenking dagboek. Op hul huweliksherdenking, nadat die kinders in die bed is, haal hulle die boek uit, steek die kers aan wat by die altaar gebrand het toe hulle getroud is en lees saam uit die dagboek. Hulle skryf neer wat hulle gedoen het om die dag te herdenk, hoogtepunte van die vorige jaar en veranderinge wat plaasgevind het, soos byvoorbeeld die geboorte van hul kinders.
• ’n Ander paartjie wat 23 jaar getroud is, het hul eie ritueel. Elke oggend staan die man om 5:30 op, maak gereed vir werk en gaan af om sy koffie en ontbyt te maak. Om 6:15 gaan haar alarm af om hom by die ontbyttafel te gaan ontmoet. Daar sit hy met sy ontbyt en twee kerse. “So, vir twintig minute elke oggend, is dit net ons twee wat ontbyt by kerslig geniet. Dit is veral in die winter romanties as alles donker is en ons by kerslig gesels. Wat ’n wonderlike manier om die dag te begin!”
Toewyding aan rituele kan die gom wees wat ons nodig het om in tye van spanning en seisoene van wanhoop aan mekaar te kleef, vertel William. Hy het eenkeer ’n paartjie ontmoet wie se deursettingsvermoë vir hom ’n inspirasie was. Hulle het mekaar weer gevind en toe hy vra hoe hulle daardie donker dae deurstaan het, het hulle geantwoord dat hulle aan hul Vrydag-Sabbatsmaal (die godsdienstige ritueel in hul Joodse tradisie) vasgehou het – selfs al het hulle nie met mekaar gepraat nie.)
Dit maak nie saak hoe erg dinge raak nie, hulle het nooit hierdie ritueel opsygeskuif nie, selfs nie eers as hulle nie saam geslaap, of met mekaar gepraat het nie, “Jy kan nie bind wat nie kleef nie,” sê William. “En so kleef ons aan mekaar deur ons huweliksrituele; dit maak ons vry – vry om die onsekerhede van pyn of konflik te waag, vry om die ontsaglike, emosionele intimiteit wat slegs die huwelik ons kan bied, te ontdek, in die wete dat as ons altyd kleef, ons vry is om saam te vlieg.”
Skep jul eie huweliksrituele:
• Doen iets wanneer julle vir mekaar hallo of totsiens sê – selfs al gaan julle vir kort rukkies weg. Dit kan ’n stywe druk, ’n soen op die voorkop of ’n knipoog wees.
• Erken mekaar aan die begin en einde van die dag deur middel van ’n ritueel. Sê vir mekaar goeie môre, deur vir ’n rukkie in mekaar se arms te lê, of gaan haal vir Manlief by die kar as hy by die huis kom.
• Maak gedurende die dag ’n punt daarvan om te konnekteer – hetsy deur ’n e-pos, ’n sms of ’n telefoonoproep.
• Hou dinge vars in jul verhouding. Deel elke nou en dan ’n avontuur, dit is ook goed vir ’n konneksie.
• Geniet elke oggend ’n koppie koffie of tee in die bed saam.
• Sorg dat julle ’n geheime kode het om te gebruik as een van julle lus is vir bedpret.
• Hou hande vas as julle deur ’n tonnel ry.
• Kyk saam deur die ruit na die eerste somer-storm.
• Gee mekaar se hande ’n drukkie voordat julle saans aan die slaap raak.
• Stel elke aand ’n heildronk op mekaar in.
• Skep ’n spesiale troetelnaam vir jou maat.
Bronne: www.lovingmarriage.com; geoff@lovingmarriage.com; Autum Shrum. “Keeping Love Alive: Couples Say Rituals Keep Unions Happy.” Florida Today, 8/31/2008; http://marriage.about.com/od/interfaith/a/pr20011209apa.htm; http://www.apa.org/releases/rituals.html; http://www.smartmarriages.com/intentionalmarriage.html; (www.drkarensherman.com); http://www.hitchedmag.com/article.php?id=634; http://marriage.about.com/od/loveandromance/qt/rituals.htm