In julle lewe is die woordjie “besig” ’n onderbeklemtoning. Julle hardloop vanaf een plek na die volgende en tussendeur is daar nie eers meer tyd vir ’n piksoen nie . . .

Promosie

Een van jou Nuwejaarsvoornemens was om orde in jou lewe te skep. Daar is ’n kalender teen jou yskas, julle dagboeke is gesinchroniseer, jy het ’n toep op jou foon en mandjies op jou lessenaar.

Maar iewers, tussen al hierdie take en dinge wat jy aanpak om jul lewens glad te laat verloop, bel die kleuterskool met die nuus dat jou kleinding weer onverklaarbaar begin het om sy doek nat te maak. Jou man word by die werk oor die vingers geraps en jy verbrand die pampoen.

En deur dit alles kry jy en manlief net kans om kriptiese WhatsApp’s vir mekaar te stuur – jul enigste vorm van kommunikasie in hierdie harwar waarin julle julself bevind!

Promosie

Om besig te wees, kan vir verskillende mense verskillende dinge beteken. Maar hoewel dit van buite af lyk asof jul bure, wat twee ekstra kinders het en heelwat ekstra ure werk, steeds tyd het om hand aan hand te gaan stap op ’n Saterdagoggend, weet hulle dalk net hoe om die meeste te maak van hul min tyd.

Sielkundiges verwys na die uitdagings wat paartjies ervaar as huwelik-stressors (enige eksterne invloed, omstandigheid of gebeurtenis wat ’n paartjie uitdaag of ’n huwelik bedreig). Sommige paartjies beleef daardie oomblikke met volle bewustheid en raak paniekerig oor die scenario waarin hulle hulself bevind. By ander is die uitwerking subtiel en hulle dryf geleidelik uitmekaar.

In ’n boekie deur Charles E Hummel, getiteld Tyrannny of the urgent, dra die skrywer die volgende boodskap oor: Moenie dat die tirannie van belangrike take jou beroof van wat werklik belangrik is nie. Dis maklik om ’n mens se huwelik te ignoreer te midde van doeke, redenaarskompetisies en sperdatums. Wanneer twee dinge teen mekaar opgeweeg word – date night of ’n dringende projek – sal jy waarskynlik altyd die tweede een voorkeur gee omdat jy weet jou maat sal wag. Nee, dis nie regverdig nie.

Maar wanneer die lewe gebeur en dit voel asof ’n tornado julle opslurp, is dit tyd om bewustelik lief te hê, bewustelik tyd te maak en toe te sien dat julle nie hande los terwyl die storm woed nie.

Op Familylife.com skryf Barbara Rainey, skrywer en outeur, dat ’n mens vir ’n oomblik die stop-knoppie moet druk en moet luister na wat God vir jou wil sê. Sy beveel aan dat jy ’n afspraak maak met jou man om jul skedules, romanse en huwelik te herevalueer. Daarna moet julle besluit wat julle werklik waardig ag. Waarvoor gaan julle baklei?

Barbara se vriendin, Linda Dillow, het die volgende voornemens geskep waarby sy hou (maar wat elkeen sy of haar eie kan maak):

  • Ek neem my voor om my maat my tweede prioriteit ná God te maak.
  • Ek neem my voor om nie vir ’n gemiddelde huwelik te settle
  • Ek neem my voor om na die lewe te kyk deur my maat se oë.

Nog ’n paar wenke:

  • Stel jul wekkers tien minute vroeër. Dit klink dalk nie na veel nie, maar dit gee julle daardie paar minute waarin julle mekaar rustig kan môre sê voor die dolle gejaag begin. Borsel saam tande, maak saam die bed op of lees ’n stukkie uit die Woord – saam.
  • Kyk die klein dingetjies mis – veral wat die huishouding aanbetref. Gaan die vol skottelgoedwasser werklik nóú iets aan jul saligheid doen, of kan dit nog ’n uur of wat wag? Is sy slaapbroek op die stortvloer régtig die baklei werd?
  • Wanneer dinge besig raak, is dit maklik om iets in die hardloop te gryp om te kou en voor jy jou oë uitvee, is dit ’n week sedert julle laas saam geëet het. Maak saam eet aan tafel ononderhandelbaar. Skep ’n vaste tyd as dit dinge makliker maak. En maak dit ’n tegnologie-vrye sone.
  • Doen die sleurwerk saam. Dit is dinge wat nie een van julle wíl doen nie, maar as julle dit saam doen, maak dit alles net soveel makliker en dit skep ’n geleentheid vir gesels wat julle andersins nie voor tyd kry nie.
  • Ontspan ook saam! As die kinders in die bed is en die stilte daal neer, is jou eerste begeerte waarskynlik om in ’n bad te gaan lê en week. Maar soms het julle nodig om sáám af te skakel, so nooi hom dan en wan om saam met jou te gaan week.
  • Gaan slaap saam. Dit is soms moeilik, veral as een laat werk of as julle nie ewe veel belangstel in televisie kyk nie, maar dis ’n goeie gewoonte wat julle huwelik kan bevoordeel.
  • Maak jul eie rituele, soos om saam te gaan koffie drink op ’n Sondagoggend of piekniek te hou op die eerste Saterdag van die maand. Pas hierdie rituele op en moenie dat hulle onder julle uitglip sodra dinge rof raak nie.
  • Vra vir mekaar vrae. Dit is nog een van daardie dinge wat bewustelik gedoen moet word. Dis só maklik om gewoond te raak aan mekaar en te aanvaar dat julle mekaar ken, maar dit is steeds belangrik om vir mekaar vrae te vra en te luister na mekaar se antwoorde.
  • Maak steeds van jouself ook ’n prioriteit. Net 15 minute is genoeg om te herlaai, maar sorg dat daardie tydjie net om jóú behoeftes draai. Só nie, sal jy jou maat onderbewustelik verwyt omdat jy sal voel hy eis die laaste greintjie van jou op.

Elke huwelik verskil. Só verskil elke huwelik se omstandighede ook en dis makliker gesê as gedaan. Die idee is ook nie dat hierdie tipe beplanning nóg meer druk op julle plaas nie. Werk egter uit wat vir julle as paartjie belangrik is en hoe julle jul dagboeke só kan organiseer dat julle steeds op mekaar gefokus bly, en kan bly hande vashou in die kern van ’n tornado.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.media.beliefnet.com, www.goodmenproject.com, www.simplicityrelished.com.