Die jaar is weer op dreef en jou doen-lysie voel eindeloos. Al weet jy wat ‘n welverdiende blaaskans gedurende Desember vir jou beteken het, voel dit of jy weer op die hamsterwielietjie hol. Moet egter nie die waarde van ‘n wegbreek-naweek onderskat nie.
Stiletto’s is vir vergaderings. En sodra jy die raadsaal verlaat, trek jy die tekkies onder jou lessenaar aan. Jy is immers ‘n werkende ma wat teen dié tyd weet dat geen vrou soveel balle in die lug kan hou as dinge nie teen volspoed gebeur nie! Na jou 5 kilometer en jou stiltetyd vieruur soggens afgehandel is, bestee jy ‘n halfuur op sosiale media voor die rotresies werklik begin. Jy maak ‘n (gebalanseerde) ontbyt vir jou gesin en pak self nie die dag aan sonder jou multivitamiene en energie-skommel nie. Jy berei kosblikke voor en gee manlief ‘n stywe druk voor jy ry om die Gautrein te haal.
Kom ons wees nou eerlik. Selfs Superwoman sal nie dié pas kan volhou sonder om soms stil te staan en asem te skep nie. Neem dus daardie wegbreek-naweek. Dit is belangriker vir jou gesin én jou huwelik as wat jy dink…
1. Draai brieke aan as jy 2020 wil sien! ‘n Paar wegbreekdae is nie ‘n luukse nie, dit is ‘n voorskrif. Dit sneller hormone soos oksitosien en dopamien, en ‘n mooi omgewing kan jou bloeddruk, cholesterol en stresvlakke verlaag. So, vir julle om as ‘n gebalanseerde, heel, gesonde gesin te bly funksioneer, het julle nodig om soms skoene uit te skop. Ontlaai soms net deur ‘n impromptu-besoek aan ‘n ongekompliseerde oord soos Klein Kariba – sommer reg om die draai.
2. Skep onvergeetlike herinneringe. Navorsing toon dat mense se kosbaarste herinneringe as kind geskep is op gesinsvakansies. Hier konnekteer jy en jou maat, en julle en jul kinders op ‘n ander vlak. By die huis verval ‘n mens maklik in ‘n roetine waar elk hul eie ding doen. Kom jy egter op ‘n nuwe plek, is daar ‘n ander energie en opwindende aktiwiteite wat julle laat groei – as individue, as ‘n paartjie en as ‘n gesin.
3. Keer jou rug op die tyddiewe. Dit is ‘n edel gedagte om te sê dat julle ‘n Saterdag by die huis gesinstyd saam sal deurbring. Maar daar is altyd dinge wat jou aandag eis: Die leë yskas, die vol skottelgoedwasser, die wasgoed op die draad, die stukkende drukker, die kykNET episodes op Catchup wat dreig om te verval… om waarlik van dínge te vergeet en jou mense werklik ráák te sien, het jy nodig om weg te kom van hierdie tyddiewe.
4. Breek weg en kweek só slimmer kinders. Navorsing toon dat ‘n paar wegbreekdae voordelig kan wees vir die algehele ontwikkeling van jou kinders. In die artikel The Science Behind How Holidays Make your Child Happier – and Smarter, wat in The Telegraph verskyn het, sê Dr Margot Sunderland, ‘n kindersielkundige, dat ‘n gesinswegbreek ‘n kind voorsien van ‘n ryk leer-omgewing met nuwe ervaringe wat sosiale, fisieke en sensoriese interaksie aanbetref. Dit verbeter jou kind se konsentrasie, help sy/haar brein om te ontwikkel en is eindelik voordelig vir algehele verstandelike gesondheid.
5. Maak skoon die kommunikasiekanale. Omdat daar geen onderbreking is nie, die pas rustiger is en daar niks is wat dringend jou aandag vereis nie, kry jy waarlik tyd om in voeling te kom met jou maat en jou kinders se gemoedstoestand. Hier kan jy beter vasstel as iets verkeerd is en omdat die atmosfeer ontspanne is, is jou kinders (en jou maat!) meer geneig om hul harte oop te maak.
Die voordele van ‘n paar wegbreek-dae is eindeloos. Jy is dit aan jouself, aan jou maat en aan jou kinders verskuldig om soms net die klein tasse en koelboks te pak, sodat julle as nuwe mense met herlaaide batterye kan terugkom en die res van 2020 met mening kan aandurf…
Hierdie artikel word met trots aan jou gebring deur ATKV Klein-Kariba.
Addisionele bronne: parentcircle.com