Almal verdien dit om dan en wan ’n spesiale aandjie saam met hul geliefdes deur te bring, maar groeiende lewenskoste plaas gereeld ’n demper op verrigtinge. Met ’n bietjie verbeeldingskrag en kreatiwiteit hoef ’n mens egter nie jou tuiste te verlaat of ’n tweede verband op jou huis uit te neem om pret te hê nie.
Volgens kenners is date nights bitter belangrik om kommunikasie te verbeter en die samehorigheidsgevoel en liefdesband van ’n huwelik te versterk. En glo dit of nie – ’n mens kan intiem verkeer met jou klere aan…
Hier is ’n paar maniere om elke dag vet pret in jou huis te hê en date nights onvergeetlik te maak:
- Span jou smaakpapille in. Hou ’n bier- en wynproe-aand.
- Is jy ’n karaoke-idol? Vir diegene wat onbeperkte Internet-toegang het, kan YouTube-karaoke ’n treffer wees. Tik “karaoke” op YouTube se soekenjin in en stringe karaoke-weergawes van liedjies sal uitgeskop word.
- Besoek ’n ander land. Tema-aande is deesdae die in-ding. Kies ’n land en trek daarvolgens aan. Maak disse van die spesifieke land of gebied en kyk ’n fliek wat by die tema pas. Indien daar nie ’n kinderoppasser is nie, span jou spruite as kelners in – as hulle oud genoeg is. Dit hou vele voordele in, veral met die skoonmaakslag.
- Double date. Hou ’n Skype-ete saam met ’n ander paartjie wat oorsee is of in ’n ander stad of provinsie bly.
- Bou ’n fort in jou sitkamer en hou ’n fliek-marathon.
- Vind ’n boek waaroor julle albei gek is en maak beurte om ’n bladsy daaruit hardop vir mekaar te lees.
- Om skottelgoed te was, is vervelig, daarvan kan enigeen getuig. Terwyl julle saam skottelgoed was, spat jou wederhelf spelenderwys nat en kyk wat gebeur . . .
- Laat jou duime werk. Speel saam televisiespeletjies of as jy bietjie “ou skool” wil gaan, kan bordspeletjies soos Pictionary of Trivial Pursuit tonne pret verskaf.
- Verf saam op ’n groot verfdoek en raam dit om julle kunswerk te verewig.
- Vul ’n hoe-goed-ken-jy-mekaar vraelys in.
- Hou ’n binnemuurse piekniek en as ’n kosgeveg uitbreek, moenie terughou nie.
- Kliek kiekies saam. Hou ’n doen-dit-jouself fotosessie. Met selfie sticks kan ’n mens hope pret hê.
Toegerus met dié nuutgevonde idees, is daar geen rede waarom jy nie in die gemak van jou eie huis die liefdesvonk weer tussen en jou en vrou kan laat opvlam nie!
Deur Ettienne van Rensburg