Jy en manlief is krapperig met mekaar. Hy is pas terug van ’n oorsese reis en die noodlot het dit net so bestem dat daar die afgelope paar dae geen pret in die bed was nie. Om alles te kroon, kruip dáárdie tyd van die maand nader en jy weet: PMS en jou sekslewe is nie maats nie! Hoe nou gemaak?
Wanneer jou menstruele periode nader kruip, wéét jou man al hy kan nie met jou huishou nie. Skielik is die manier waarop hy sy pap eet vir jou ’n bron van irritasie, jy skreeu vanuit die slaapkamer wanneer jy voor jou klerekas staan en vir elke voorstel wat hy maak, het jy ’n (bitsige) rede waarom dit ’n dom idee was. Om jou rug te kielie wanneer jy gaan inkruip (want jou rug is al wat hy te sien kry!), sal hy nie wáág nie, om nie eens te praat van enige skimp vir seks nie!
Wel, seks is ’n realiteit en ongelukkig het jou dierbare man géén idee waardeur jy gaan nie. Sommige vroue worstel selfs twee weke per maand met PMS (dit is gewoonlik húlle wie se mans ’n beskrywing vir hul toestand het wat jou aan onweer laat dink). Maar hê tog simpatie met die arme Adams ook. As jy twee weke per maand in die slaapkamer beskikbaar is, en een week daarvan baie moeg/siek/besig is, bly daar letterlik net krummels vir hom oor.
Het jy egter geweet daar is ’n oplossing vir die AVSTWAPMS (afwesigheid van seks te wyte aan PMS)?
Begin deur die simptome wat jy ervaar, te identifiseer. Tipies is jy te MOEG om vir hom aarbeie gedoop in sjokolade te voer, te DEPRESSIEF om jouself as one hot mama te beskou, te GEïRRITEERD met hom om hom enigsins aanloklik te vind, te KWAAD om sy sokkies op die vloer te vermy en te LUS vir sout of suiker om enigsins seks bo sjokolade te verkies! Jy het dalk HOOFPYN en jou MAAG is so GESWEL dat jy nie kans sien vir jou amper-nie-daar-nie-broekie nie. Jy is ANGSTIG, DEURMEKAAR en sukkel om te KONSENTREER. Boonop VERGEET jy hoe graag jou man dit gisteraand wou hê, jou HANDE of VOETE is GESWEL, jou BORSTE so TEER dat hy nie náby jou mag kom nie en wanneer hy jou skeef aankyk, gaan jy aan die HUIL! Nogal ’n mondvol, né? (As jou Adam dink jy is een van daardie vroue wat aansit, wys vir hom dié lysie.)
Wanneer jy jou simptome geïdentifiseer het, teken aan wanneer jy watter simptome ervaar. Maak ’n maandelikse grafiek waarop jy elke dag ’n nommer merk (vanaf 0-10) wat aandui tot watter mate jy dié spesifieke simptoom ervaar. Só kan jy elke aanval voorspel en vooruit beplan. Maak kreatiewe planne vir dáárdie weke van die maand wanneer jy nié sleg voel nie. Beplan aan die tipe seksuele aktiwiteite wat jul behoeftes sal vervul en jou sal help om jou stresvlakke te verlig gedurende daardie tyd.
Wanneer jou borste byvoorbeeld sensitief is, beplan ’n “hands off” aand vir manlief waartydens hy aan slegs orale seks mag dink. Wanneer jou maag geswel is, trek een van sy oopknoop-hemde aan met niks daaronder nie (hy sal jou beslís onweerstaanbaar vind!). Wanneer jy “cravings” het, inkorporeer dit in die slaapkamer! En wanneer jy moeg is, waarsku hom om nie te veel aksie te verwag nie! Probeer ook om gedurende daardie moeilike tye addisionele tyd te maak vir rus. Kenners meen dat, wanneer jy gedurende PMS vet, sodium, alkohol, rooivleis, suiwel en kaffeïen vermy, dit jou simptome kan verlig. Drink ook gedurende dié tyd meer water en eet meer volgraan produkte, asook vrugte en groente. Oefening kan wondere verrig vir jou gemoedstoestand.
Om jou PMS te leer ken en jul seksuele kalender rondom dit te beplan, kan jy die skade aan jou sekslewe minimaliseer en jou man se begrip daarvoor verhoog.
Addisionele bronne: marriagemissions.com