Ek en my man is al amper 4 jaar saam en 3 jaar getroud. Dis asof ons meer vriende is as man en vrou. Die laaste tyd trek n ander man my aandag. Hy laat my lag en doen klein romantiese dinge wat my man self nie doen nie.
Dit maak seer om in die posisie te wees. My man vertel my ek is vet en die ander man vertel my ek is pragtig. Klein dinge wat groot impak het op ‘n vrou.. Hoe maak ek nou? My man doen niks saam my nie. Hy wil net slaap wanneer ons nie werk nie, die ander man wil die lewe saam my geniet… Ek en my man het nie kinders nie.. Ek is nou eers 28 en my man is 38. Speel dit n rol? Help ek kort raad.
Peter Edgar, huwelikskenner en -berader, antwoord:
Jy bevind jouself in a situasie waarmee ek byna op ‘n daaglikse basis te doen kry in my betrokkenheid by INTIEM Marriage Capsule, asook in my praktyk. Ek noem dit die “groen gras-sindroom”.
Om dit in perspektief te stel: Die “ander man” is in beheer – hy is bewus van gevoelens oor jou huwelik en weet presies hoe om jou spesiaal te laat voel en die dinge te sê wat jy nie meer by jou man hoor nie…
Stel dit so – onthou jy nog dat al daardie dinge wel gebeur het toe jy jou net man ontmoet en met hom getrou het? Dit is die geheim. Maar wat het verander? Julle het begin om mekaar as vanselfsprekend te aanvaar en soos jy sê, het julle meer soos vriende geword in plaas van soos man en vrou. Daarmee saam het die opwinding wat vroeër tussen julle was, vervaag – en nou het iemand anders dit agtergekom.
Voordat ek raad gee, laat ek eers net een punt uitlig wat al oor en oor bewys is: In byna elkeen van die soortgelyke situasies waarmee ek al te doen gekry het, saam met die pyn van die egskeiding, het die “groen gras-verhouding” ook binne ‘n baie kort tydperk uitmekaargeval.
My eerste aanbeveling is om dadelik alle kontak met hierdie ander “groen gras”-karakter te verbreek.
Dit gesê, hiermee ‘n bietjie raad. Skakel jou huwelik weer aan. Hoe doen jy dit? Jy moet so gou as moontlik tyd maak om ‘n oop gesprek met jou man te voer. Kan jy nog onthou hoe julle dwarsdeur die nag kon gesels het toe julle net begin uitgaan het? Dit is steeds ‘n moontlikheid; julle het net albei die kuns van kommunikasie in julle huwelik verloor. Neem ‘n besluit om weer “date nights” te reël en maak beurte om dit te beplan en verras mekaar met goeie herinneringe van lekker tye. Onderneem om weer te begin om met mekaar oor alles te praat en als te deel – en raak weer verlief.