“Couples who play together, stay together.” Daar steek baie waarheid in dié Engelse gesegde en as jy wonder waar die pret in julle sekslewe heen verdwyn het, is dit dalk net tyd om tussen julle dominoes daarvoor te gaan soek . . .

Promosie

Ons weet daar skuil ’n stoute seuntjie in elkeen van julle. Een wat nog lief en lus is vir speel. Só waar is hy? Iewers het hy weggeraak onder die verantwoordelike belastingbetaler se bles,  pak en strepiesdas.

Dink ’n bietjie terug aan die dae toe jy en vroulief nog jonk, hups en laf was. Die lewe was ’n lied en jy het haar gekielie tot sy haar uitasem aan jou oorgegee het. Grootmense kan ook speel. Ons speletjies is net stouter en meer opwindend. Jy mág nou dokter-dokter speel, só hoekom doen jy dit nie? Jy hoef nie eers kreatief te raak nie, ons gee jou al die idees. Voer hulle net uit!

Reël dat jou ma die kinders oppas. Julle moet minstens een aand per week ’n afspraakaand hê waarop julle alleen allerlei prettige dinge saam kan doen.

Promosie

Stoute dobbelstene

Dan is daar natuurlik speletjies wat nie só onskuldig is nie. Julle kan selfs jul eie stoute speletjie maak met twee gewone dobbelstene. Skryf jul wildste fantasieë neer op ’n papiertjie en nommer dit van twee tot twaalf. Jou maat gooi en sy moet die fantasie of wens op die papier uitvoer wat ooreenstem met daardie nommer. Daarna is dit weer jou beurt. Onthou, wanneer julle stoute speletjies speel, moet julle openlik wees met mekaar. Daar mag geen verwagtinge of beheer wees nie, en geen oordeel nie.

Speel huis-huis

Gaan kyk saam na huise. Ry miskien na die naaste sekuriteitskompleks en gaan verwonder julle aan die paleise daar binne. Al is julle geensins van plan is om nou ’n nuwe huis te koop nie, is dit steeds prettig om saam te droom. Julle kan idees steel vir wanneer julle eendag regtig jul droomhuis kan bekostig, en intussen net maak asof julle nóú daardie huis kan koop. En as julle iewers ’n huis ontdek wat oop staan en julle toegang kan kry tot die erf, gaan vang ’n vinnige vry in die agtertuin!

Soek die drie susters

Een van die prettigste en mees romantiese dinge wat julle saam kan doen, is om na die sterre te kyk. Die kans is goed dat julle dit baie lanklaas gedoen het. Besluit saam om na ’n spesifieke ster of konstellasie te soek. Doen vooraf navorsing op die Internet hieroor – jy sal haar met jou kennis beïndruk. Jy kry selfs ’n oulike toepassing wat die sterre vir jou identifiseer. Gooi dan op julle afspraakaand ’n kombers op die gras, lê op julle rûe en soek saam.

Maak dit yummy!

Hoewel ’n kosgeveg nou nie werklik die aangewese ding is vir julle sy-gordyne of haar ragfyn, Franse onderklere nie, is daar geen reël wat sê julle mag nie met julle kos speel nie. Neem ’n paar lekkernye slaapkamer toe. Smeer dit, drup dit en lek dit af. Kos is ’n veelsydige seksspeelding en die moontlikhede hiervan is eindeloos! Probeer heuning, roomys of aarbeisous, of seks-stimulerende kossoorte soos aspersies, oesters op ys en sjokolade.

Wegkruipertjie

Wanneer sy reeds in die bed en half aan die slaap is, sluip die kamer binne, kruip stilletjies aan die onderkant van die duvet in en knibbel aan haar tone. Soen haar dye en kielie haar. Ons almal weet waar dit gaan eindig! Julle kan ook wegkruipertjie met ’n flitslig speel deur die volgende te doen: Maak die kamer pikdonker. Elkeen kry ’n beurt met ’n flitslig. Laat skyn die flitslig op die kol op jou lyf waar jy die graagste deur jou maat geliefkoos wil word. Jy kry ook ’n beurt. Die kanse is goed dat julle nie lank hierdie speletjie sal kan volhou voor al die klere waai nie!

Deur saam te speel, kan julle ’n nuwe wêreld ontdek waarbinne julle baie pret kan hê. Dit kan julle weer so opgewonde soos kinders maak, die vlinders terugbring, asook daardie gevoel van “Kersgeskenke onder die boom oopmaak”. Saamspeel beteken uiteindelik saam vry en vir ewig en altyd gelukkig saam bly!

 

Bronne: www.ezinearticles.com, www.dietdetective.com, Sex Play deur Anne Hooper (The Penguin Group) en Super hot sex deur Tracey Cox (The Penguin Group).2