Daar is ‘n goeie rede waarom kommunikasie dikwels deur kenners gelys word as een van die belangrikste bestanddele vir ‘n suksesvolle huwelik. Dis soos eiers of bakpoeier – daarsonder val die koek heeltemal plat!

Promosie

Ek moes onlangs ‘n koek vir die skool se fondsinsamelings-projek bak. Ek het alles gereed gehad. Eerstens die twee sjokolade-bokskoeke (want hulle is maklik, en redelik flatervry en niemand proe die verskil nie!). Die versiersuiker, botter, kersies en goue glitter – want glitter maak alles mooi!

So het ek begin bak, met Jan Blohm in die agtergrond, die kombuisvensters wawyd oop. Ek was in ‘n goeie luim en alles het gedui op rasende sukses. Ek was besig om die resep te lees, toe ek vir ‘n oomblik onderbreek word deur ‘n SMS wat ingekom het. ‘n Irrelevante promosionele SMS wat my probeer oortuig het dat die betrokke instansie se motorversekering my maandelikse premium sal verlaag…

Ek het teruggekeer na my bak-stasie, maar in die proses my plek verloor, en weer gevind. Of gedínk ek het hom weer gevind. Wat eintlik gebeur het, is dat ek ‘n baie noodsaaklike stap oorgeslaan het: die byvoeging van drie eiers. Ek het dit eers besef toe ek die patetiese bruin pannekoek uit die oond haal en die drie armsalige eiers op die blad sien lê… geen blinkers kon daardie koek red nie.

Promosie

Só kan alles in jou huwelik klopdisselboom verloop. Jy het voorhuwelikse berading gehad en alles is in plek vir ‘n huwelik wat vyftig jaar plus gaan hou! En dan vergeet jy die eiers. Of jy onthou van hulle, maar vergeet om hulle by te voeg…

15 Blitsresepte vir flatervrye kommunikasie:

1. Maak tyd vir kommunikasie. Van koeitjies en kalfies tot taai kwessies en debatte. Sommige paartjies gesels land en sand van hul troudag tot die dood hul skei. Ander moet harder daaraan werk. As jy agterkom jul gesprekke droog op, skeduleer tyd vir kommunikasie, sonder om toe te laat dat tegnologie of die kinders julle onderbreek. Gesels rondom ‘n koppie koffie. En as julle iets belangriks het om te bespreek, doen dit wanneer die kinders slaap.

2. Kies die regte tyd en die regte plek. Wanneer dit kom by behoorlike kommunikasie is tydsberekening van kardinale belang. Bespreek jou ongelukkigheid oor jul finansiële situasie met jou maat, terwyl dié ‘n fliek sit en kyk of tande borsel vóór slaaptyd en die kans op ‘n frustrerende uitkoms is bykans gewaarborg. Moet jou maat ook nie konfronteer in ‘n openbare plek of tussen familie of vriende nie. Dit is onregverdig teenoor die ‘toeskouers’ en sal julle ook verhoed om jul harte uit te praat.

3. Weeg jou woorde – weer en weer. Wanneer jy en jou maat met mekaar praat, oorweeg jou woorde asof jy met glas werk. Wanneer ‘n gesprek driftig raak, is dit maklik om iets te uiter waaroor jy later spyt gaan wees. Onthou, as dit eers gesê is, kan jy nie jou woorde terugtrek nie. En as dit so gebeur dat julle oor WhatsApp argumenteer (nooit ‘n goeie idee nie), vermy hoofletters!

4. Moenie jou maat in die rede val nie. Moenie jou maat stereotipeer nie. Moenie veralgemeen nie. Drie reëls wat, sou jy hulle onderbreek, ongetwyfeld vuilspel is. Om iemand in die rede te val, laat so ‘n persoon woedend en magteloos voel en om te së: “Julle mans…” of “Jy maak áltyd so…” is onregverdig.

5. Vermy misverstande deur dubbel seker te maak. Van die grootste rusies word deur misverstande veroorsaak. Misverstande wat ontstaan as gevolg van aannames. Vóór jy dus jou eie gevolgtrekkings maak, vra jou maat: “Verstaan ek reg as jy sê dat ek…”

6. Wees bedag op jou lyftaal en jou stemtoon. Jy uiter dalk die regte woorde, maar dit drup so van sarkasme dat geeneen dit kan mis nie! Of jy nooi jou maat uit om te praat, maar daag hom uit met ‘n aggressiewe liggaamshouding – hande gevou.

7. Onthou, jy is in beheer. Konflik word nie veroorsaak deur die persoon wat dit inisieer nie, maar deur die persoon wat reageer. En ja, soms voel dit onregverdig wanneer jou maat jou blý uittart, maar jy het steeds die hef in die hand. Gaan jy reageer en ‘n rusie laat begin, of gaan jy die uitdaging van die hand wys?

8. Kweek goeie luistervaardighede. Om behoorlik, met aandag te luister is een van die belangrikste vaardighede wat jy vir jou huwelik kan aanleer. Kyk jou maat in die oë, los jou selfoon eenkant en doen moeite om te verstaan wat hy/sy sê.

9. Raak mekaar aan. Wanneer jy en jou maat ‘n ernstige onderwerp takel, maak seker dat daar intimiteit tussen julle heers. Doen dit deur teen jou maat te gaan sit en haar hand vas te hou. Daar is verskeie redes hiervoor: Eerstens skep dit ‘n vertrouensband en laat dit jou maat gemakliker voel om hom of haar voor jou bloot te stel. Tweedens, dit is baie moeilik om lelik met iemand te baklei terwyl daar hierdie soort intimiteit tussen julle heers.

10. Wees ‘n oplettende gesprekvoerder. Of julle nou bloot kommunikeer en of julle argumenteer, lees jou maat tussen die lyne. Mense praat nie slegs met hul woorde nie, maar ook met hul oë, lyftaal en stiltes. Jy ken jou maat al teen dié tyd, so gebruik jou kennis tot jul albei se voordeel. Wanneer jou maat se lyftaal verklap dat iets verkeerd is, doen moeite om uit te vind wat dit is. Wanneer jou maat een ding sê, en ‘n ander ding wys, stel verdere ondersoek in.

11. Ontwerp ‘n kommunikasie-styl wat vir julle werk. Wanneer julle nié baklei nie, maak ‘n afspraak om jul kommunikasiestyle te bespreek. Julle sal gou agterkom waar julle krapperighede ontstaan. Gesels nou oor hoe om dit te verminder. As julle jul liefdestaal ken, sal dit dinge makliker maak. As jou taal byvoorbeeld woorde van bemoediging is, kan jy vir jou maat vertel dat jy woorde nodig het om nader aan hom/haar te voel. As jou liefdestaal aanraking is, sal punt nommer 9 ekstra belangrik wees. Vertel jou maat watter woorde (wanneer julle baklei) jou hare laat rys en waar jy dink julle kan skaaf aan jul konflikhantering.

12. Moenie dinge onder die mat invee nie. Soms is jy net te moeg vir konflik, of gaan dinge só goed dat jy nie die huweliksbootjie wil skud nie. Maar om dinge wat pla onder die mat in te vee, het ‘n negatiewe effek op jul huwelik. As julle potensiële konfliksituasies gaan bly begrawe, gaan die spanning só opbou dat julle binnekort ‘n ontploffing hê. Dit beteken nie dat julle ‘n groot argument van elke klein twispunt moet maak nie, maar wel dat julle dít wat pla na die oppervlak moet bring en so gou as moontlik moet afhandel.

13. Respekteer mekaar en kom ooreen om soms te verskil. Geen paartjie kan altyd oor alles saamstem nie. ‘n Paartjie kan ook nie elke denkbare probleem oplos nie. Soms is dit goed om te berus by jul verskillende sienings en julle verskille te respekteer.

14. Soms is dit ‘n goeie idee om die hulp van ‘n derde party in te roep. Daar is tye wanneer ‘n goeie vriend of familielid se opinie ingeroep moet word om te help met ‘n belangrike besluit. Dit kan ‘n vars perspektief bring. Daar is wel paartjies wat nie daarvan hou as daar kant gekies word téén hulle nie en as jy bang is jy raak kwaad vir die party wat help om jul probleem op te los, kry eerder professionele hulp vanaf ‘n persoon wat julle geensins ken nie – só weet jy die persoon is heeltemal onpartydig. ‘n Kenner kan julle ook help met beter konflikhanteringstegnieke.

15. Moenie probeer wen nie. Julle is nie in ‘n kompetisie nie, julle is ‘n span. Kommunikeer om ‘n konneksie tussen julle te vestig – nie om vas te stel wie reg en wie verkeerd is nie. Ons dink maklik die doel van kommunikasie is om ons maats te laat verstaan wat ons behoeftes en begeertes is. Hiermee mis ons die punt! Die doel van kommunikasie is om jou maat beter te verstaan…

Doeltreffende kommunikasie is broodnodig vir ‘n gesonde huwelik. ‘n Huwelik wat rys soos hy moet. Dus, maak soveel inligting soos jy kan oor hierdie onderwerp bymekaar en die kanse is goed dat jou huwelikskoek flopbestand sal wees!

Addisionele bronne: www.psychalive.org; www.relate.org.uk; www.elitedaily.com; www.familylife.com; www.goodtherapy.org;