Ek het al ‘n hele plan uitgewerk oor hoe ek ‘n sleutelhouer gaan laat ontwerp wat ‘n geluid maak wanneer ek hom bel en ‘n GPS sein stuur na my foon toe, sodat ek presies kan sien waar ek my sleutels laat lê het. Nadat ek dit in ‘n lang verduideliking vir een van my ingenieursvriende uiteengesit het, het hy met ‘n geamuseerde uitdrukking op sy gesig vir my gesê: ‘Isabel, jy weet natuurlik mens kry iets soos ‘n sleutelbakkie by die voordeur?’

Promosie

Dit is een van die dinge wat Retief, nadat ons getroud is, van my moes leer. En selfs al het ons ‘n laaikas by ons huis se voordeur wat spesifiek vir sleutels bedoel is, eindig my motor en huissleutels om een of ander onverklaarbare rede nooit daarin op nie!

Die feit dat Retief egter elke keer sonder kla of kerm saam met my na my sleutels soek, maak dat ek regtig ervaar hoe hy, selfs in die klein dingetjies, my onvoorwaardelik lief het en maak dit my elke keer van voor af verlief op hom.

Die probleem is dat die samelewing liefde verander het in iets wat ons by ons huweliksmaats kan kry, eerder as dit wat ons met ‘n self opofferende liefde vir ons huweliksmaats kan gee. Onoorwaardelike liefde was nooit ‘slegs as’ of ‘omdat jy’ nie, maar eerder ‘n ‘selfs as’ en ‘ten spyte van’ tipe liefde.

Promosie

Romeine 5:7-8 sê dit so mooi: ‘’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.’

Dis baie maklik om te sê ek sal my man liefhê as hy dit verdien of as ek dink dis regverdig, maar ‘sterf-in-jouself’ tipe liefde wat God deur die Heilige Gees in ons harte uitstort, maak dat ons vir ons mans kan lief wees selfs al is daar dinge wat ons frustreer of selfs seermaak.

Daar is wel soms dieper hartsdinge wat ons in ons maats raaksien wat buite God se Wil is. In daardie geval beteken onvoorwaardelike liefde nie dat jy ‘n blinde oog daarop draai nie, maar dat ons God vertrou om in Sy almag en liefde ‘n hartsverandering mee te bring. Dit gaan soms beteken dat ons dit in waarheid moet aanspreek, maar altyd met die grootste liefde.

Onvoorwaardelike liefde kom nie altyd maklik nie. Dis ‘n liefde wat hindernisse oorkom, uitdagings in die gesig staar en altyd kies om vir mekaar te baklei eerder as teen mekaar. Maar as ons elke dag ‘n ‘selfs as’ en ‘ten spyte van’ liefde kies wat alles bedek, alles glo en alles verdra, sal ons huwelike die lekkerste plek wees om in te leef!

Artikel deur Isabel Burger