Infertiliteit is nie ’n maklike reis om te stap nie. Terwyl dit swaar is vir elke individu wat hiermee worstel, plaas dit net soveel stremming op ‘n huwelik.

Promosie

Volgens die National Survey of Family Growth in Amerika het altesaam 11.9% vroue het in die een of ander stadium van hul lewe van fertiliteitsdienste gebruik gemaak. Sowat 12% van getroude vroue sukkel om swanger te raak of ’n swangerskap te behou. En sowat 44% vroue met infertiliteit gaan soek die hulp van mediese ingryping. Van dié wat mediese intervensie gebruik, gee sowat 65% geboorte.

Waar jy voorheen gedroom het oor die dag wanneer jul baba gebore gaan word, wonder jy nou óf daardie dag ooit gaan aanbreek. Die een ná die ander poging is onsuksesvol en terwyl hulle albei hierdeur worstel, voel dit asof hierdie probleme hulle al verder uitmekaardryf. Seks raak meganies, verloor alle romanse en gaan gepaard met onmenslike druk. Die gedagte dat julle dalk na ander stappe moet kyk, bly ongesê maar hang in die lug omdat geeneen van julle daaroor wil praat nie. Wat een van die mees opwindende tye in jul lewe moet wees, word ’n nagmerrie en jy weet nie of jul huwelik dit gaan oorleef nie.

Iris Waichler, outeur van Riding the Infertility Roller Coaster sê dis belangrik vir ’n paartjie om hul gevoelens te trotseer en te praat oor die effek van hul vrugbaarheidsprobleme. Eers dan kan ’n paartjie as ’n eenheid vorentoe beweeg met die reis rakende behandeling. Daar is heelwat redes waarom fertiliteitsprobleme moeilikheid in ’n huwelik kan veroorsaak.

Promosie

Paartjies blameer mekaar. As ’n paartjie met infertiliteit worstel, is daar ’n geneigdheid om mekaar te wil blameer (soms baie subtiel). Dit beteken dat daar dikwels skuldgevoelens en ’n gevoel van ‘ek is nie goed genoeg nie’ is. Mense voel ook asof hulle mekaar teleurstel. Dis egter nie die een of ander se probleem nie – dit is albei se probeem. Marriagemissions.com noem Genesis 2:24 as ’n belangrike teksvers in dié verband: “Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle sal een word.”

Die probleem kom nie slegs in wanneer hierdie paartjie ’n magdom emosies beleef nie, maar wanneer hulle dit verskillend beleef en verskillend kommunikeer.  Jy wil dalk dít wat in jou kolk en draai verwoord (herhaaldelik) maar hy verkies om dit in sy stilligheid te verwerk. Jy dink hy vóél dit nie soos jy nie, maar heimlik kry hy net so seer. Omdat julle die seer elk op jul eie manier verwerk, kan dit konflik teweegbring. Hierdie stryd met pyn en innerlike wroeginge kan julle huwelik onder hewige stres plaas – of dit kan julle nader aan mekaar bring.

Kommunikasie is noodsaaklik sodat misverstande nie intree nie en albei op dieselfde vlak is wat emosies, aanvaarding en toekomsplanne aan betref. Kom ooreen om oop kaarte te speel oor hoe elkeen van julle dink en voel oor jul huidige omstandighede. Wees eerlik oor waardeur julle gaan en moenie jul gevoelens vermy of mekaar s’n afmaak nie.

Oorweeg die 20 minute reël. Volgens die webtuiste www.resolve.com is dit ’n tegniek wat paartjies help om oor infertiliteit te gesels sonder dat dit die verhouiding oorheers. As ’n paartjie reeds in diepte oor die saak gepraat het, kom hulle ooreen dat – sou een van hulle die onderwerp aanroer, sal hulle dit 20 minute bespreek – niks langer nie. Daarna is die reël dat hulle moet aanbeweeg na ’n ander onderwerp. Dié reël veroorsaak dat die persone weet hulle moet die gesprek met fokus aanpak. En dat hulle aandagtig na mekaar moet luister aangesien die gesprek nie die hele aand gaan duur nie.

Luister wanneer jou maat praat en vra vrae. Oorweeg terapie – selfs al kommunikeer julle effektief. Dit skep ’n veilige spasie waarbinne julle kan praat en ’n objektiewe party kan julle help om die uitdagings rondom jul emosies te oorkom. Dit ís ’n moeilike tyd en hormone kan jou selfs nog slegter laat voel. Onthou egter om sag te werk met jou maat. Hy worstel met sy eie emosies.

Moenie toelaat dat die romanse verdwyn nie. Dit gebeur baie maklik aangesien die spontaneïteit verlore raak en seks tot op die uur beplan word. Begeerte raak irrelevant en wat eens soos gom vir jul huwelik was, raak nou iets wat julle agter die rug moet kry om ’n baba te maak. Raak kreatief en onthou om seks te hê soos julle voorheen gehad het – selfs wanneer dit nie die ‘regte’ tyd is nie, passievol en impulsief. Dis ewe belangrik om romantiese, kwaliteittyd saam met mekaar deur te bring sonder om oor jul infertiliteitskwessie te praat. Gesels, gaan eet uit, breek weg en verras mekaar. Intimiteit is broodnodig. Raak aan mekaar, lê by mekaar. Julle is saam in hierdie ding…

Een van die moeilikste dinge is seker om nie toe te laat dat die kwessie jul lewens oorheers nie. Dis ’n uitdaging, ja, want al waaraan ’n mens kan dink wanneer jy sukkel om ’n baba te hê, is jou begeerte om ’n baba te hê! Probeer dus om stokperdjies te beoefen en op maniere te ontspan wat jou aandag sal aflei van jul situasie. Kry nuwe doelwitte as ’n paartjie, maak planne om nuwe dinge te ontdek. Hou jou brein besig sodat jy nie té veel tob oor dit wat julle nie kan hê nie, maar kan fokus op wat julle wel het en watter wonderlike dinge op julle wag (selfs sonder ’n baba in die prentjie).

Bly oopkop oor wat die toekoms vir julle inhou. Jy wil dalk nie daaraan dink dat ’n baba op die natuurlike manier nie die pad is wat julle moet stap nie, maar deur realisties te bly en alle alternatiewe te oorweeg, kan julle help met die aanvaardingsproses later, sóú dinge nie uitwerk soos julle gehoop het dit sal nie. Ja, dis een van die moeilikste uitdagings wat julle as ’n paartjie kan trotseer, maar dit is ook ’n uitdaging wat julle nader aan mekaar kan bring as ooit. Hou hande vas en onthou julle is twee mense wat as ’n eenheid hierdeur gaan.