Almal ken mos die grappie: “Wat is die beste voorbehoedmiddel? ’n Trouring aan die vinger.” Reg aan die begin kon julle nie genoeg kry van mekaar nie. Maar mettertyd verflou die vlam van passie soos die gewone lewe oorneem. Dis nie dat julle nie meer wíl nie, dis net soveel moeiliker as tóé . . .
Hoewel onderliggende probleme (emosioneel óf liggaamlik) ’n ernstige demper op jou seksdrang kan plaas, is die hedendaagse lewenstyl dikwels die grootste sondebok. Jou libido en hoe goed jy jou op seksuele gebied van jou taak kwyt, is uiters sensitief vir negatiewe invloede soos werkstres, finansiële kwellings, prestasie-angs, chroniese moegheid en selfs verveeldheid. Gelukkig is daar vir elke probleem ’n oplossing – selfs vir ’n lui libido. Volg dié stappe saam met jou maat en jul seksuele verhouding sal gou weer vlamvat.
Doen dit net!
Nuwe navorsing wys dat baie vrouens eers stimulasie nodig het om die behoefte aan seks te ontwikkel. Neem dus ’n kopbesluit en die lyf sal volg!
Dink romanties, wees kreatief
Sonder ’n emosionele verbintenis tussen man en vrou is romantiese denke en kreatiwiteit bra onmoontlik. Hou die romantiese sy van jul verhouding lewendig. Romanse, nes die verhouding, mag nooit ’n voorspelbare “plig” word nie. Sorg vir afwisseling en wees sensueel én seksueel kreatief. Eksperimenteer byvoorbeeld met nuwe maniere van streling en aanraking, asook verskillende posisies, plekke en tye.
Kommunikeer
Práát oor seks (sien onder).
Werk aan eiewaarde
Elke mens is ’n sensuele wese en elke mens het die reg om in ’n liefdevolle verhouding sensueel en seksueel bevredig te word. Leer om jouself onvoorwaardelik lief te hê en met jou eie swak punte (nie net uiterlik nie, maar ook innerlik) saam te leef. Verbeter jou selfbeeld deur positiewe denke en spesiale selfversorging. Doen moeite met sexy onderklere (ja, mans ook!) wat jou meer sensueel sal laat voel en lyk. Streel die sintuie met alles wat lekker ruik en voel.
Leef gesond
Eet gesond, oefen gereeld. Dis ’n feit: ’n Gesonde lewenstyl beïnvloed jou sekslewe direk én indirek. Navorsing by die Universiteit van Texas het bewys dat vroue se bloedvloei na die genitalieë ná ’n oefensessie van 20 minute met tot 169% versterk. ’n Studie aan die Universiteit van Kalifornië het weer aan die lig gebring dat middeljarige mans wat drie of vier uurlange oefensessies per week inpas, ’n fermer ereksie en beter orgasmes ondervind, asook meer gereeld seksueel verkeer as hul maters wat nooit oefen nie. Dis logies: Hoe fikser, hoe meer stamina het jy en hoe beweegliker is jy. Laat ook gereeld jul albei se testosteroonvlakke toets.
Fokus op sensuele stimulasie
Vergeet vir eers van seks (dit wil sê penetrasie) en “oefen” jul sintuie deur op suiwer sensasie te fokus. Beplan hierdie sessies vooruit. Maak dan ’n punt daarvan om meer ongewone erogene sones soos die lippe, ooglede, voete, ore, hande en rug te verken en te ontdek. Fokus op sensuele gewaarwordinge terwyl julle mekaar se liggame verken.
Dagdroom en fantaseer
Jou brein beheer jou hormone, wat weer die liggaamlike sy van jou seksualiteit beïnvloed. Dagdrome en fantasieë speel dus ’n positiewe rol. Moenie skaam wees oor (normale) erotiese gedagtes en romantiese verbeeldingsvlugte oor jou maat nie. Gun jouself die luukse daarvan en deel dit met mekaar.
Kry speelgoed
Seksspeelgoed, selfs doodgewone kos soos sjokolademousse, room en heuning, kan vir baie prettige tye sorg. Beplan en koop saam, sodat jou maat nie skielik met ’n skokkende verrassing gekonfronteer word nie. Praat daaroor en besluit met watter “speletjies” julle albei gemaklik sal voel.
Oefen dáárdie spiere
Dié oefeninge versterk die bekkenvloerspiere. Dis ’n uitstekende manier om die libido te verhoog en meer bevredigende seks te ervaar. Wat meer is, dit werk vir vroue én mans. Hoe beter die spiertonus van die bekkenvloer, hoe hoër is die intensiteit van die orgasme. Kegel-oefeninge kan ook help om jou meer bewus te maak van die sensitiwiteit van die genitale area, want dit verhoog die bloedtoevoer na daardie deel van die liggaam en verbeter jou onwillekeurige liggaamlike reaksie op seksuele stimulasie. Doen dit só: Wanneer jy urineer, sny doelbewus met kort tussenposes die urienevloei af. Trek die bekkenvloerspier saam vir vyf sekondes en laat ontspan dit dan weer. Begin met tien herhalings op ’n keer, drie keer per dag.
Hou smeermiddels byderhand
Maak seker dat julle altyd ’n goeie gehalte, verkieslik silikoon-gebaseerde, smeermiddel byderhand het.
Leer ontspan
Omdat stres die veg-of-vlug reaksie aktiveer en dus die bloed na jou kop en weg van jou seksorgane stuur, is stres en seks nie die ideale bedmaats nie. Boonop stimuleer stres die afskeiding van kortisol, ’n chemiese stof wat die produksie van “sekshormone” onderdruk. Beveg stres deur gereeld en reg te ontspan. Fokus op diep, rustige asemhaling uit jou maag uit. Oefening kan ook baie help.
Gebruik “seksvriendelike” medisyne
Konvensionele behandeling soos bloeddrukpille, kalmeermiddels, kodeïen, anti-depressante, sekere voorbehoedmiddels en selfs antihistamine kan gif vir jou libido wees. Praat met jou dokter hieroor.
Deur bogenoemde wenke toe te pas, kan jy gou van seksuele frustrasie ontslae raak en die vonk terugwen!
Hoe om jou frustrasies oor bedsake te kommunikeer:
- “A spoon full of sugar makes the medicine go down.”
- Maak ’n afspraak met jou maat, sorg dat julle rustig is en genoeg tyd het om oor julle gevoelens te praat.
- Dit hoef nie ’n ernstige gesprek te wees of in konflik te ontaard nie. Dit gaan bloot oor my en jou belewing daarvan en ons gevoelens daaroor.
- Moet nooit oor ander behoeftes of probleme gesels terwyl of direk na seks nie. Wat jy wel tydens seks kan doen, is om jou maat verbaal of nie-verbaal aanduidings te gee dat jy iets geniet of meer van iets wil hê.
- Wanneer jou maat iets nuuts probeer waarmee jy ongemaklik is of wanneer jy enige pyn ervaar (tensy julle daarop ooreengekom het), moet jy egter jou maat daarop wys. Gesels dan later daaroor.
- Onthou, ’n mens se lyf verander. Jou maat kan nie gedagtes lees nie. Praat daaroor.
- Deel fantasieë. Onthou, ’n fantasie is ’n fantasie. Dit is nie iets wat jy in die regte lewe gaan doen nie.
- Gesels oor wat werk en wat nie vir jou/julle werk nie.
- Moenie die waarheid versteek deur jou gevoelens weg te steek nie. Dit is nie gesond vir jou, jou maat óf julle verhouding nie.
- Moenie bluf in die bed nie. Niemand wen op die lange duur deur dit te doen nie.
- Moet nooit iets doen waarvoor jy nie kans sien nie. Kyk of daar ’n manier is om mekaar tegemoet te kom, kry al die regte inligting en as jy steeds nie kans sien nie, moet julle mekaar respekteer.
- Daar is wonderlike seksspeletjies wat kan help met kommunikasie oor seks.
- Moenie op die negatiewe fokus nie, vra eerder presies wat jy nodig het en wat jy graag wil hê moet verander.
Dr Elmari Mulder Craig, ’n Europees-gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingskenner.