Raak jy doof vir uitgediende huweliksraad? Jy weet jy moet mooi praat, behoorlik luister, jou maat komplimenteer en vir hom sexy whatsapp-boodskappe stuur. Jy weet jy moet seks inisieer, flankeer (met jou eie maat) en hom as jou spanmaat sien. Maar wat kan jy nog doen om daardie ekstra myl vir jou huwelik te stap?
“As ek nog één keer moet lees dat ek date night moet skeduleer, gaan ek my verstand verloor!” Klink dié soos jy? Ja, ons word gebombardeer met inligting oor hóé, waar en waarom ons ons huwelike moet bou … en soms het dit ‘n negatiewe effek.
Die slim ouens noem dit “semantic satiation” of “semantic saturation”, ‘n sielkundige fenomeen waarin herhaling veroorsaak dat die woord tydelik sy betekenis vir die luisteraar verloor. Laasgenoemde absorbeer dit slegs as herhaaldelike, betekenislose klanke. Eish!
Wanneer ‘n skooljuffrou aanhoudend skreeu, verloor haar taktiek impak en luister die kinders sodra sy fluister. Wanneer jy aan jou maat knaag om die skottelgoedwasser se pyp te herstel, het jou woorde later nie meer trefkrag nie en sal net ‘n deurdrenkte studeerkamermat tot hom deurdring.
Ongelukkig is daar ‘n rede waarom ‘n cliché ‘n cliché is. Dit dra waarde! En jy hoor die ‘basics’ van huweliksukses herhaaldelik – omdat kenners gevind het dat dit waarlik is wat werk. Máár omdat merkwaardigheid dié maand ons tema is, het ons opgewonde deur die clichés gesif om met splinternuwe idees vir jou huwelik vorendag te kom:
VARS WENK #1: Wéét dat ‘n huwelik nie 50/50 is nie!
Ja, jy het reg gehoor. Die huwelik is nié altyd 50/50 nie. In ‘n ideale wêreld dra elkeen van julle elke dag presies dieselfde tot jul huwelike by. In die régte wêreld kom die som nie altyd by 100% uit nie. Óf die somtotaal is wel 100%, maar die breukdele verskil. Daar is dae wanneer jou maat fisiek uitgeput is en jy redelik gecharge is. Daar is dae wanneer hy vol kreatiewe idees vir jul toekoms is en jy sukkel om verby ‘n blikkie spaghetti as aandete te kyk! Dis ‘n wipplank, ‘n heen-en-weer, ‘n ruiltransaksie. Balans in ‘n huwelik is vloeibaar en solank elkeen aan die einde van jul huwelik kan se dat jul bydrae min of meer 50% was, is die saak reg.
VARS WENK #2: Fake it ‘till you make it!
Trek sexy aan, eet oesters, maak stoute geselsies… jy kan al daardie raad volg en stééds nie in die bui wees vir seks nie. Jy is dalk nie eens in die bui vir drukkies of lepellê nie – veral nie as jy die hele dag met administrasie gestoei het en drie voorskoolse kinders aan jou bene gehang het nie. Maar as jy jouself elke aand ‘n goeie rede gun om nié intiem met jou maat te wees nie, gaan jou huwelik dit nie oorleef nie. Moenie wag vir die bui om jou te pak nie – dit gaan dalk eers weer gebeur wanneer julle huwelik reeds in die knyp is. Soms moet jy ‘n Oscar-vertoning lewer! Soen, druk, bel om hallo te sê (al is jy niks lus nie!). Jy mag dalk verbaas wees om te sien hoe jou maat se reaksie jou bui affekteer…
VARS WENK #3: Wees beïnvloedbaar.
‘n Studie onder heteroseksuele huwelike het bevind dat ‘n verhouding slaag na aanleiding van die hoeveelheid invloed wat ‘n man vanaf sy vrou kan aanvaar. Nou goed: Dit beteken nie dat jy ewe skielik saam met haar in romcoms moet begin huil nie. Ook nie dat sy jou kalender moet bepaal nie. Maar stel jou hierdie situasie voor: Vroulief kom na jou toe met ‘n versoek: “Ek het ‘n sperdatum. Kan jy groot asseblief vanmiddag na die kinders kyk?” Jou antwoord: “Nee, ek het ‘n date met die game tussen Suid-Afrika en Nieu Seeland vanmiddag. Die bier is klaar gekoop!” Hmm, gevaarligte. Navorsing toon dat vroue reeds gekondisioneer is om invloed van hul maats te aanvaar, maar wend jy nie ‘n poging aan om dieselfde te doen nie, is julle nie waarlik in ‘n vennootskap nie en kan dit julle verhouding skade aanrig.
VARS WENK #4: Aanvaar die eenkeer-per-dag uitdaging
Toe julle net getroud was, het jy jou woorde geweeg. Jy wou nie jou maat seermaak nie. Maar fast forward tien jaar later en daar is geen sensorskap nie! Wat jy dink, dié sê jy. Pasop, meen kenners. Want voor jy jou oë uitvee, byt julle heeldag mekaar se koppe af. ‘n Huwelik kan nie floreer as een party voel dat hulle meer veroordeel as bewonder word nie. Stel vir jouself ‘n uitdaging: Slegs een stukkie kritiek per dag! Besluit wat maak die meeste saak. Is dit belangrik vir jou maat om te weet jy is teleurgesteld omdat hy jou ma se verjaardag vergeet het, of is dit dat jy seergemaak voel omdat hy jou Missus Big Spender genoem het? As jy jou besluit gemaak het, beperk jou dialoog daaroor tot drie sinne,”meen sielkundige Harriet Lerner, outeur van ‘Marriage Rules: A Manual for the Married and the Coupled Up.’ Doen dit op die lange duur en julle sal mekaar in ‘n positiewe lig beskou en onthou waarom julle op mekaar verlief geraak het, meen Lerner.
VARS WENK # 5: Werk aan jou stemtoon
Jy dink dalk ‘n groet, is ‘n groet, is ‘n groet, is ‘n groet… Maar kom dit by huweliksmaats, speel stemtoon ‘n groter rol as wat jy dink. Wanneer sy by die huis kom, groet jy “Hi!”uit die sitkamer asof jy haar vyf minute gelede gesien het? Of staan jy op en klink werklik bly dat sy by die huis is? Die manier waarop jy en jou maat mekaar groet wanneer julle mekaar vir die eerste keer in ‘n paar ure sien, kan die res van die dag of aand bepaal. Stap jou maat tegemoet met ‘n soen en ‘n druk en wys hoe bly jy is om haar weer te sien. Kyk wat is die impak hiervan en rapporteer terug aan ons!
VARS WENK #6: Skep ‘n halfjaar herdenking
Ons vieringe in Suid-Afrika is heeltemal te min! Kan jy onthou hoe spesiaal julle eerste huweliksherdenking was? Moet daar werklik 365 verloop voor julle weer jul huwelik kan vier? Stel vas wat is jul halfjaar herdenking en teken dit aan in jul kalenders. As julle twee keer per jaar as ‘n paartjie kan weggaan, kan dit baie vir jul huwelik beteken. Geniet ‘n romantiese wegbreek-naweek op jul huweliksherdenking en op jul ses-maande herdenking! Neem dit sommer nog ‘n stappie verder en besluit om elke maand jul huwelik te herdenk. As julle getroud is op 16 Februarie, vier dit elke maand op die 16e, deur iets kleins vir jou maat te doen. En as jy ‘n riglyn nodig het, gebruik Gary Chapman se vyf liefdestale. Gee jou maat ‘n klein geskenkie, ‘n mooi kompliment, ‘n smeulende aanraking, neem ‘n aaklige taak by hom/haar oor en spandeer gehaltetyd saam.
VARS WENK #7: Moenie jou maat se versoeke uitstel nie
Natuurlik kan ons nie altyd onmiddellik by alles uitkom soos ons maats wil hê ons moet nie. Maar jou maat is té dikwels die een wat “maar sal verstaan” en die een wat “geduldig kan wag”. Die lewe is wild, maar as jou maat jou vra om byvoorbeeld iets aanlyn te ondersoek of vliegkaartjies te bespreek, maak dit ‘n baie belangrike prioriteit. Deur jou maat te wys hoe belangrik haar versoeke vir jou is, wys jy vir haar hoe belangrik sý vir jou is. As jy nie onmiddellik daarby uitkom nie, beteken dit natuurlik nie dat sy nie vir jou belangrik is nie, maar deur werklik haar versoeke bó ander s’n te prioritiseer kan wondere vir jul huwelik verrig.
VARS WENK #8: Doen moeite met jou maat se binnekring
Ons praat nie hier van familie nie – dis vanselfsprekend dat jy met hulle moeite sal doen. Ons verwys na jou maat se vriende. Deur werklik moeite te doen om hulle te leer ken, sal soveel vir jou maat beteken. En deur boonop met hulle te kuier kan bydra daartoe dat jy jou maat in ‘n ander (hopelik beter!) lig sien. Dit kan oulike karaktereienskappe na vore bring waarvan jy nie eers van geweet het nie! Wie sou byvoorbeeld kon raai dat jou rustige, stil maat eintlik die kantoor-nar is? Of hoe mooi jou eerstespan-slot met die eerstejaar gewerk het wat gehuil het van vrees? Wanneer sy vriende kom kuier, wend ‘n daadwerklike poging aan om hulle beter te leer ken. Bel hulle op verjaardae en stuur geskenke vir hul kinders …
VARS WENK #9: Weeg die persoonlike op teen die praktiese
Meer as een studie het bevind dat wanneer een huweliksmaat langer as 45 minute werk toe reis, ‘n paartjie veertig present meer geneig is tot egskeiding! (Daar is darem sekere ‘klousules’ hier ter sprake… as julle dit langer as vyf jaar doen, is dit net een persent. En as julle ver gereis het vóór julle begin uitgaan het, is julle ook heelwat minder geneig tot ‘n egskeiding as diégene wat dit moet trotseer later in hul verhouding.) So, is daardie N1-roete elke dag werklik die moeite werd? ‘n Ander studie het bevind dat ‘n 40% verhoging nodig is om ‘n ekstra uur se reistyd te regverdig as dit kom by persoonlike teverdenheid en vervulling. Wat kos jou werks-eise jou verhouding? Kyk na die groter prentjie… en baie beslis na jou huwelik se gesondheid wanneer jy dinge soos werks-omstandighede oorweeg.
VARS WENK #10: Maak avontuur deel van jou huwelik
Om uit te gaan is nuut en vars en ‘n heerlike avontuur! Om te trou is net so ‘n wonderlike, opwindende avontuur. Maar wanneer verliefde gevoelens plek maak vir liefde, en roetine deel word van jul daaglikse bestaan, is dit belangrik om avontuur deel te maak van jul huwelik. Die antropoloog en verhoudingskenner, Helen Fisher, sê dat “navorsing wys dat nuutheid – om risiko’s te neem of iets nuuts te beproef – die vrystelling van dopamien in die brein kan sneller.” DIt behels enige nuwe en onbekende ervaring. ‘n Nuwe kossoort, ‘n rit in ‘n renmotor, ‘n besoek aan ‘n nuwe land. Dis belangrik om in ‘n huwelik aan te hou leer, groei en nuwe dinge saam aan te pak.
En so moeg soos jy is vir al die raad wat soos werk klink, onthou dat die gelukkigste paartjies dié is wat hoë standaarde aan hul huwelik stel. Die paartjies wat mik vir ‘n uithaler-huwelik! Paartjies wat nie kwetsende gedrag van mekaar duld nie. Paartjies wat bid en glo en werk en fokus. Ons glo dat julle só ‘n paartjie is!
Addisionele bronne: www.time.com; www.today.com; www.gottman.com; www.inc.com
Artikel deur Annelize Steyn
***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?
Is jy gereed om in jou huwelik te belê?
Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!
‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!