Indien iets waarde het, is die mens se ingesteldheid om dit te beskerm, dit op te pas en moeite te doen, sodat die waarde nie verminder nie. Die item word versigtig en met respek hanteer en dan word dit ook gereeld uitgestal, sodat ander dit kan sien om die waarde daarvan te kan bewonder.

Promosie

Die mens is so geneig om hierdie bogenoemde stappe te neem met die dinge wat verganklik is. Gewoonlik die dinge wat ons kan meet aan hoeveel geld dit gekos het.

As ek egter na die lewe in die algemeen kyk, dan sien ek dat die mens se grootste behoefte is om liefgehê te word. Om daardie leemte wat baie keer ontstaan, te vul met daardie een persoon met wie ons die res van ons lewens wil spandeer. Indien ons dan hierdie persoon vind, is ons aanvanklik so opgewonde en in verwondering. Hierdie verhouding kry al ons tyd, geld en energie. Die rede is redelik eenvoudig. Dit het vir ons waarde.

Dit is net so hartseer dat die mens baie keer nie hierdie verhouding beskerm soos wat die waarde daarvan dit vereis nie. Die gevolg is dat daardie verhouding se waarde in die mens se oë afneem en vervangbaar raak.

Promosie

Ek glo ons as mense moet net weer besef watter waarde in ons huweliksverhoudings opgesluit lê. As ons net weer ‘n slag die waardebepaling gaan doen, sal ons agterkom dat ons eie laksheid dalk die oorsaak was dat die waarde van die verhouding vir ons verminder het. Ons het nie meer die dinge gedoen wat die waarde daarvan beskerm het nie.

Dit het my sommer laat dink aan watter praktiese dinge ons dalk in ons huwelike kan inbring om die waarde daarvan, en so ook die verhouding, self te kan beskerm.

Die eerste een is dat daar geen geheime moet wees nie. Eerlikheid is absoluut noodsaaklik. Daar moet nie onsekerhede en geheime wees wat ‘n huweliksverhouding aan betref nie. Wees altyd oop en deursigtig oor waar jy was, na wie toe jy gaan, hoe jou dag verloop het, hoe jy geld spandeer het, ens. As daar nie geheime is nie, sal die vertroue in daardie verhouding ook geweldig sterk wees. In ‘n spasie waar daar gee geheime is nie, met ‘n sterk vertroue, is daar geweldig baie vryheid en ruimte om jouself te kan wees.

Die tweede waarna gestreef kan word om ‘n huwelik te beskerm, is om lojaal te wees. Die wêreld waarin ons vandag woon, is woes en wild en huweliksmaats moet te alle tye kan weet dat hulle veilig by mekaar is. Of hulle nou by mekaar is of dalk weg is van mekaar. Wees dus versigtig oor hoe jy van en oor jou maat praat met ander. Bly weg van mense wat daarvan hou om hulle huweliksmaats negatief te bespreek. Vra jouself gereeld die vraag af of jou maat se naam veilig by jou is as hy of sy nie daar is nie. Sal jy dalk jou storie waarmee jy besig is verander as jou maat ewe skielik by die gesprek aansluit? Indien wel, moet jy weet dat jou maat en julle verhouding se waarde nie beskerm word nie.

Die derde groot beginsel is die van ‘n geloofslewe wat gedeel word. Geloof is soos ‘n anker. As ‘n paartjie saam staan in geloof, is hierdie anker net soveel sterker. Dit help ook paartjies om baie vinniger die eenheid as ‘n huwelikspaartjie te ervaar. Daar is ook ontsettend baie krag wat in hierdie eenheid opgesluit lê, Die woord van die Here is duidelik hieroor, naamlik dat waar twee of meer in Sy Naam by mekaar kom, daar is Hy ook. Geloof is die spilpunt van die lewe, en die huweliksverhouding het ook in die hart van die Here ontstaan. Daarom is dit dan ook soveel te meer belangrik dat ons as huwelikspaartjies ons vastigheid in Hom en ons verhouding met Hom moet vind. Alles is moontlik vir die wat glo.

Die volgende belangrike punt is om nie afleidings te maak oor dinge nie, maar te vra. Daar is baie dinge wat jy moontlik kan raai oor hoe jou maat sal optree en ook hoekom, maar die beste raad is dat as jy onseker is – vra. Moenie afleidings maak nie. Afleidings lei daartoe dat paartjies hulle eie stories oor mekaar en hulle verhoudings begin skryf en die gevolg is dat, as paartjies nie hierdie stories by mekaar verifieer nie, hulle daardie stories wat hulle self opgemaak het begin glo en ook hulle lewens daarvolgens inrig. Dit is in hierdie onduidelikheid van verskillende stories dat menige paartjie al vasgeval het. Praat met mekaar, vra die moeilike vrae en kry deursigtigheid en opregte eerlikheid deel van julle verhouding. Dit sal die waarde van julle verhouding aansienlik verhoog.

Die voorlaaste voorstel is om deursigtige kommunikasie te hê. Dit sluit aan by die vorige punt, maar daar moet op gelet word dat kommunikasie nie effektief kan wees of deursigtig kan wees as daar nie ‘n wedersydse respek en veiligheid in die paartjie is nie. Om dus die deursigtige kommunikasie te hê, moet die respek en veiligheid bespreek en beskerm word. As dit gebeur, sal daar deursigtige kommunikasie wees. Kommunikasie waar beide partye se realiteite en wêrelde ruimte voor gegee sal word. Wanneer ‘n paartjie hierdie kommunikasie regkry, dan besef hulle baie gou hoe diep die waarde van hulle verhouding is. ‘n Verhouding waar jy oop en eerlik kan praat en na geluister word sonder veroordeling is raar en van onskatbare waarde.

Die laaste belangrike beginsel wat in plek moet wees, is dat beide mekaar se beste vriende moet wees. In hierdie verhouding moet beide dan ook mekaar toelaat om verantwoordbaar te wees teenoor mekaar. Vriendskap is ‘n woord wat algemeen gebruik word, maar as jy mooi gaan kyk sal die ware vriende wat jy het dalk op jou een hand getel kan word. Laat jou huweliksmaat die belangrikste van daardie paar mense in jou lewe wees. Laat dan ook toe dat daardie beste vriend jou kan help om op die pad te bly wat jy vir jouself uitgestippel het. Hulle sal dit met soveel liefde doen, juis omdat jy so kosbaar en waardevol vir hulle is.

Moet nooit dink dat die huwelik nie waarde het nie, dit het soveel waarde soos wat ons wat in die huwelik staan, dit gee. Dit kan onskatbaar wees… Beskerm dit met alles wat jy het.

Artikel deur Kobus en Linda Pauw van Connection Impact