“Ons gaan finansieel deur ’n moeilike tyd. Omdat my man op kommissie werk, is daar tye wat dit baie goed gaan en dan weer tye wat ons sukkel om deur die maand te kom. Ek hou van my luukshede en ’n lekker bad so nou en dan is iets wat nie vir my onderhandelbaar is nie. Ek versorg myself en hou daarvan om goed te lyk, maar manlief sê ek moet sny aan my skoonheidsroetine. In hierdie stadium veroorsaak dit konflik in ons huwelik, want hy besef hoe belangrik dit vir my is.”

Daar is ’n hele paar dinge wat jy kan doen om jul kostes te sny én nog jou luukshede te kan geniet. Hier is drie:

  1. Maak die navy shower ’n instelling in jul huis. Dis nie net geldbesparend nie, maar sommer ook ’n “groen” manier van leef. Wanneer julle stort, draai die kraan net lank genoeg oop om jou lyf nat te maak. Smeer seep en draai die kraan eers weer oop wanneer jy gereed is om af te spoel. As jy (en al die lede van die gesin) ses keer ’n week só stort, kan manlief niks kwytraak oor jou weeklikse luukse badritueel nie.
  2. Jy noem dat daar by tye groot somme geld vir die huishouding beskikbaar is. Probeer manlief oortuig dat permanente grimering jou op die lange duur baie gaan spaar. Dit is wel ’n duur aanvanklike koste (wat julle kan aangaan wanneer die geld wel daar is), maar as jy in ag neem dat die gemiddelde vrou ongeveer R280 000 aan grimering in haar leeftyd bestee, klink permanente oogomlyner skielik nie meer so spandabelrig nie.
  3. Hier is nog ’n paar wenke wat jy in gedagte moet hou wanneer jy grimering koop:

-Sekere handelsmerke (soos Mac) gee jou ’n gratis oogskadu vir elke drie leë houertjies wat jy terugneem winkel toe. Praat van herwinning!
-Is jou grimering-verwyderaar klaar? ’n Lekker goedkoop alternatief hiervoor is Johnsons se No More Tears-babasjampoe (die geel ene!).
-Het jy geweet dat dít waarvoor jy waarlik betaal as dit kom by maskara die borseltjie is? Neem dus jou duur maskara-borseltjie, was dit goed en gebruik dit om jou nuwe, goedkoop maskara mee aan te wend.

 

Promosie

Deur Annelize Steyn