Jy moes trou op twintig, orale seks was so uit soos vry in die openbaar en as jy seks wou vermy, het jy bloot ’n slap pols teen jou voorkop gehou… watter seksraad uit vorige dekades was iets werd?
Boodskap nommer 1: Die definisie van ’n sexy vrou is doodeenvoudig: ’n vrou wat seks geniet. Om seks te geniet, is ’n holistiese strewe: om jouself seksueel te leer ken, selfvertroue te ontwikkel met al die dele van jou persoonlikheid en jouself te versorg. (Helen Gurley Brown het in 1962 ’n boek geskryf met die titel Sex and the Single Girl.)
Save of delete? Hoewel ons glo dat seks in die huwelik hoort, moet jy beslis die oorkoepelende boodskap bêre. Ons almal weet immers dat seks ’n geskenk van God is waarmee jy maar kan pret hê!
Boodskap nommer 2: Wanneer dit kom by die moontlikheid van intieme omgang met jou man, is dit belangrik om jou huweliksbeloftes te onthou en veral jou belofte om hom te gehoorsaam. (The Good Wife’s Guide, Housekeeping Monthly, 1955)
Save of delete? Dié stukkie raad kom uit ’n tydskrifartikel wat deur e-pos versprei word, maar daar word nog bespiegel of daar regtig só ’n bron bestaan. Al wat ons hieroor wil sê is: Delete! Seks het niks met plig te doen nie!
Boodskap nommer 3: Ons praat nie oor seks nie. (Die stille generasie van die 1940’s)
Save of delete? Delete beslis hierdie raad. Stilte is die rede vir soveel huweliksprobleme en as jy en jou maat nie oor seks kan gesels nie, lê ’n moeilike pad vir julle voor. Kommunikasie is die sleutel tot huweliksgeluk en waaroor nou lekkerder om te gesels as bedpret!
Boodskap nommer 4: “Wanneer hy sy oomblik van vervulling bereik, is ’n klein steungeluid deur jou bemoedigend vir hom en voldoende om enige teken van genot wat jy kon gehad het aan te dui.” (Ook aangehaal uit The Good Wife’s Guide, 1955)
Save of delete? Al wat ons kan doen, is om hieroor te lag. Vandag weet die meeste vroue darem dat jy kan skreeu, sing, jodel – net wat jy wil wanneer daardie O-oomblik aanbreek en dat manlief dit geniet om te hoor hoe jy jou geniet!
Boodskap nommer 5: Sou jou man enige van die meer ongewone praktyke voorstel, wees gehoorsaam sonder om te kla, maar toon jou terughouding deur stil te bly. (Ja, jy’s reg: The Good Wife’s Guide, 1955)
Save of delete? Gooi weg. Natuurlik beteken “ongewone praktyke” vandag iets heel anders as in die 60’s, maar seks is en bly altyd ’n daad waaraan albei optimisties moet wíl deelneem. Seks en dwang hoort nie saam in dieselfde sin nie.
Boodskap nommer 6: “Die wyse bruid sal ’n maksimum van twee vinnige seksuele dade weekliks gedurende die eerste maande van die huwelik hê. Soos wat die tyd verbygaan, moet sy alles in haar vermoë probeer om hierdie gereeldheid te verminder. Kunsmatige siekte, slapeloosheid en hoofpyne is ’n vrou se beste vriende in hierdie verband.” (Instruction and Advice for the Young Bride, The Madison Institute Newsletter, 1894)
Save of delete? Delete dit. Soveel sekslewens het al gely onder die sogenaamde fake hoofpyn dat baie mans vandag skepties na die botteltjie Panado’s staar. Hê seks – so gereeld soos julle kan! Hoe meer jy dit het, hoe meer wil jy dit hê. Hoekom nou aan ’n verskoning dink om plesier te ontwyk?
Boodskap nommer 7: “Die meeste mans is van nature redelik pervers en as hulle ’n halwe kans gegee word, sal hulle aan verskeie van die mees afstootlike praktyke deelneem. Hierdie praktyke sluit onder meer in om die normale daad in abnormale posisies uit te voer, om die vroulike liggaam te ‘mond’ en hul eie lywe te bied om ook ‘gemond’ te word.” (Instruction and Advice for the Young Bride, 1894)
Save of delete? Vergeet hierdie raad! Orale seks mag dalk ’n paar dekades gelede as ’n “perverse daad” beskou geword het, maar vandag weet ons daar is min dinge so njam soos sjokoladesmeer op allerlei verbode plekke…
Boodskap nommer 8: Dr Benjamin Spock het in sy 1946-boek, The Common Sense Book of Baby and Child Care (tweede topverkoper naas die Bybel), ouers aangeraai om hul nie te bekommer oor wanneer hul kinders hul lyfies ontdek nie.
Save of delete? Bêre dié boodskap baie mooi in jou brein. Dr Spock was vóór sy tyd met hierdie insig, want vir hoe lank daarna nog is masturbasie as iets leliks afgemaak! Vandag weet ons dat kinders wat masturbeer hul lyfies leer ken en dat dit die mees natuurlikste ding ooit is.
Boodskap nommer 9: Die vrou se rol is in die huis. As jy nie verloof of getroud is teen jou vroeë twintigs nie, staan jy die gevaar om ’n oujongnooi te word (1950’s)!
Save of delete? En behoede jou dít! Smyt hierdie boodskap sommer ver weg. Daar is vandag soveel vroue wat verkies om eers ’n hele paar dinge (soos ’n behoorlike CV) af te handel voor hulle wil trou en sien jy enige van hulle met ’n swart kat en hekelwerk sit?
Boodskap nommer 10: Jy mag maar sexy wees. Marilyn Monroe het amper die seksuele rewolusie van die 1960’s op haar eie begin. In die vroeë 1950’s het sy ’n ster geword, in ’n tyd toe die mees gewilde televisievertoning van sy tyd, I Love Lucy, gedwing is om te wys hoe Lucy en Ricky (’n getroude paartjie) in verskillende beddens slaap.
Save of delete? Bêre maar Marilyn se inspirasie. Jy mag jouself mooi versorg en sexy aantrek vir manlief. Om in voeling te wees met jou sensualiteit is niks om oor skaam te wees nie!
Addisionele bronne: goaskalice.columbia.edu; jezebel.co.za; research.ufl.edu