Het jy al ooit aan wonderwerke en jou huwelik in een sin gedink? Jy kan vandag nog begin vra, bid en werk aan wonderwerke vir jou huwelik. Verander die ondenkbare in ’n werklikheid vir jou en jou maat!
Lees elke dag die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.
Dag 6: Verwonder julle opnuut aan mekaar!
Delf dieper: Hooglied 1:8 – 2:7.
Ds Karel Steyn sê: Hooglied is dalk een van die boeke in die Bybel wat ons die minste lees. Tog is hierdie boek ’n lofprysing van die seksualiteit wat daar tussen ’n man en vrou bestaan, en dit is ’n gebied in ons huwelike waar ons ’n wonder kan bewerk! Seksualiteit is iets besonders wat God aan ’n man en ’n vrou gegee het om te geniet, en ons moet daarteen waak dat ons nie die bewondering vir ons eggenote se liggame verloor nie.
Bid vir: ’n Voortdurende strewe in jul huwelik om doelbewus en doelgerig goed te wees vir mekaar en op alle gebiede van julle verhouding op mekaar te fokus.