“Romanties” en “kamp” is twee woorde wat nie sommer in dieselfde sin gebruik word nie. Vra jy ‘n aantal vroue wat die woord ‘toewyding’ vir hulle beteken en hulle sal ongetwyfeld die woord ‘Kampering’ uiter. Ongemak, goggas, higiëne en verveelde kleingoed is immers die horror show wat dadelik voor jou geestesoog afspeel wanneer manlief die woord “kamp” noem.

Promosie

Maar dit hoef nie só te wees nie. Inteendeel, deesdae is daar soveel oulike nuwe tegnologie en uitvindsels beskikbaar dat uitkamp geensins meer die marteling is wat jy dink nie. Al gehoor van ‘n pop-up camp shower? Dit is ’n langwerpige tentjie wat jy kan omskep in jou eie private stort.

Kampeer-fanatici het kampeer al lank terug reeds in ’n kuns omskep – vir elke probleem wat jy kan ondervind, is daar ’n teenvoeter, hetsy dit in die vorm van ’n toepassing op jou foon is of ’n kampeerlig wat met sonkrag werk.

Nou . . . om jou vrou so ver te kry as om te commit tot kampering, is een ding. Hoe maak jy dit romanties genoeg sodat sy dit wéér sal wil doen?

Promosie

Hou die kleingoed besig

Indien jy kinders het, kan ’n romantiese naweek in die buitelug ’n probleem wees. Indien julle nie die kiddies by iemand kan los nie, is die enigste opsie om hulle goed besig te hou. Wanneer jy dus ’n kampeerplek kies, soek vir dié met ’n rits kinderaktiwiteite.

Neem ’n nanny saam: Vra ’n verantwoordelike persoon om julle te vergesel met die doel om ’n ogie te hou oor die kinders. Die persoon kan die kinders na die aktiwiteite toe neem of hulle besig hou in die nabye omgewing sodat jy en vroulief bietjie tyd vir julself het.

Dink oulike aktiwiteite uit: Hoe vroeër die outjies kan gaan slaap, hoe beter. Dus, sorg dat hulle totaal en al uitgeput is teen slaaptyd.

Byvoorbeeld:

• Hou ’n skattejag: Steek lekkergoed of ander items weg in die omgewing en laat hulle dit soek.
• Versamel herinneringe: Koop ’n paar goedkoop, weggooibare kameras. Spoor die kinders aan om soveel foto’s te neem as wat hulle kan sodat julle ’n scrapbook van die ondervinding kan maak.
• Soek die diere: Kry ’n gids oor enige van die diere wat julle moontlik in die omgewing kan raakloop. Die kinders kan gaan “jag” om te sien hoeveel van dié diere hulle kan opspoor.

Maak lekkernye: Wat is nou lekkerder as om lekkernye te maak wat jy nie by die huis kan kry nie? Volg hierdie oulike instruksies vir piesang-bootjies. Jy benodig piesangs, sagte sjokoladestukkies, malvalekkers en foelie. Sny die helfte van die piesangskil (in die lengte af) los. Hol ’n sloot uit in die middel van die vrug. Plaas die sjokolade en malvalekkers daarbinne. Rol die skil terug oor die inhoud en draai die bootjie in foelie toe. Plaas die bootjie oor die vuur vir ongeveer vyf minute. Haal af en geniet die bederf!

Gee romanse só ’n kans…

Skep die atmosfeer: Dink kerse, wyn, die mooi sonsondergang en musiek. Julle kan dit alles só natuurlik deel maak van die opset dat niemand (veral nie die kleinspan) gaan agterkom hier is iets aan die broei nie. Vir musiek: Neem ’n draagbare toestel soos ’n skootrekenaar saam en maak ’n playlist van julle gunsteling liedjies. En terwyl jou maat die verte in staar na die sonsondergang, maak seker jy hou haar vas en soen haar.

Smoor daardie reukies: Die reuk van die dag se aktiwiteite aan jou lyf is allermins sexy. ’n Goeie wenk is om nie katoenklere te dra nie, want dit absorbeer sweet. Sintetiese klere soos poliëster is ’n beter keuse. Pak ook liefs ekstra klere in sodat jy die onwelriekendes blitsvinnig kan vervang.

Pak ’n sekstassie

Wees voorbereid en pak gerus die volgende in julle sekstassie om dinge so vinnig en skoon as moontlik te hou.

• Vermy die nat kol in die slaapsak en gebruik ’n kondoom.
• Smeermiddel kan sorg vir maklike en vinnige pret.
• Maak julle skoon in ’n kits (voor en ná seks) met wet wipes.
• Gooi alles wat julle gebruik het vir julle avontuur in ’n Ziploc-sakkie sodat julle dit maklik kan weggooi.

Drie moet-weet sekswenke

Moenie die aarde laat weergalm van plesier nie – dit gáán aandag trek.

Wees gereed om enige oomblik “onskuldig” te lyk. Raak net ontslae van julle onderklere of trek japonne aan wat blitsvinnig toegeknoop kan word.

Moenie die innerlike diere só sterk loslaat dat die hele tent skud nie – kies seksposisies wat nie gimnastiek vereis nie.

Romantiese kampeerplekke in Suid-Afrika

Hierdie kampeerplekke het Getaway.co.za se lys gehaal vir die top 30 kampeerplekke naby Johannesburg:

1. Manyane-reservaat, Pilanesberg
2. Woodbush Forest-reservaat, Magoebaskloof
3. Phudufudu-tentkamp, Borakalalo-wildreservaat
4. Mabalingwe-natuurreservaat, Bela-Bela
5. Forever Resorts, Badplaas
6. Golden Gate Highlands Nasionale Park
7. Bontle Campsite in Marakele Nasionale Park
8. Bakgatla-reservaat, Pilanesberg Nasionale Park
9. Tussen-i-Bome Gastehuis
10. My Private Bushcamp, Bela-Bela

Artikel deur Thalia Brüssow

Addisionele bronne: romanticcamping