As jy twee dele van die vroulike liggaam moet noem wat met die letter “b” begin, gaan brein waarskynlik nie een van die twee woorde wees nie. As man is jy mos visueel ingestel, so dis ’n bietjie moeiliker om jou vrou se brein te bewonder. Hier is ’n paar wenke om vir haar te wys dat sy vir jou méér as net ’n beeldskone gesig en lyf is…
STEL BELANG IN HAAR STOKPERDJIES
Net soos wat min vroue dit noodwendig geniet om te hengel of te gaan stampkarre ry, net so min wil jy dalk hoor wat alles by ’n pamper party gebeur of hoe ’n mens kerse maak. Doen moeite om belang te stel in haar stokperdjies. Vra haar byvoorbeeld om jou te wys hoe sy juwele maak.
KOS EN KUIER
Wanneer jy saans gedaan by die huis kom, is gesels dikwels die laaste ding waaraan jy wil dink. Al het jy die behoefte om net af te skakel en eerder van jou dag te vergeet, doen moeite om saam met jou vrou te kuier terwyl sy kosmaak. Skink ’n glasie wyn en gesels oor iets wat vandag in die nuus was.
KOMPLIMENTEER HAAR VAARDIGHEDE
Wat sê die spreekwoord nou weer? Skoonheid vergaan, maar deug bly staan! Komplimenteer jou vrou op haar unieke vaardighede. Sy is miskien ’n bobaas organiseerder of dalk is sy goed met binneversiering. Moet dus nie dink om haar altyd net op haar voorkoms te komplimenteer is goed genoeg nie. Wys vir haar dat jy raaksien wat sy alles doen en regkry in en om die huis.
JUL EIE BOEK- OF FLIEKKLUB
Kies ’n boek waarvan julle albei sal hou. Of as jy nie ’n leser is nie, kan jul saam ’n fliek gaan kyk. En hier gaan nie een van julle wegkom met die tipiese skop-skiet-dinges of romantiese komedie nie. Kies ’n fliek wat intellektueel uitdagend is. Jul hoef nie noodwendig alles in die fliek te verstaan nie. Bespreek dit ná die tyd met mekaar oor ’n lekker ete.
VRA HAAR MENING
Het jy dalk ’n moeilike situasie by die werk? Kry jou vrou se perspektief op die saak. Vra haar raad oor hoe om dit te hanteer. Sy gaan heel waarskynlik vir jou opsies noem waaraan jy glad nie eens gedink het nie.
DROOM SAAM
Kry vir julself ’n swart- of witbord in jul kamer of studeerkamer. Gebruik dit om saam te droom. Skryf byvoorbeeld drie opsies neer oor waar julle op ’n volgende date kan gaan. Skryf korttermyndoelwitte neer. Om só saam te droom, skep hope opwinding en help om ’n mens te herinner aan wat jul nog saam as paartjie wil doen.
BID VIR MEKAAR
’n Mens kan so vinnig vasgevang word in jou eie werk en probleme, dat jy soms jou maat se behoeftes kan vergeet of afskeep. Vra vir jou vrou wat daar is waarvoor jy vir haar kan bid.
Jy sal verstom wees wat belangstelling in jou vrou se doen en late vir jul huwelik kan doen. Dit sal beslis ’n bietjie moeite verg, maar julle gaan mekaar uiteindelik soveel beter verstaan. Wanneer die intellektuele aantrekkingskrag tussen julle verhoog, gaan die liefdesvuur dalk in ’n wegholveldbrand ontaard. Vergeet van die brandweer, dit is mos wat julle wil hê…
Deur Annelize Steyn