Jy het iewers gehoor dat lojaliteit belangrik is vir ’n huwelik, maar jy weet nie werklik hoe om jou lojaliteit te wys nie, tensy jy op Loftus se pawiljoen sit.

Promosie

Lojaliteit binne die huwelik is ’n vae begrip. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) se definisie van lojaal is soos volg: “Trou teenoor ’n saak of persone waarteenoor ’n mens ’n verbintenis of verpligting het.” Dit is steeds vaag. En die woorde “verbintenis” en “verpligting” laat lojaliteit nou nie juis soos ’n plesier klink nie!

Offra Gerstein, ’n sielkundige, skryf op relationshipmatters.com dat lojaliteit nie ’n verpligting vanaf invloede van buite is nie, maar ’n interne, morele karaktereienskap en besluite wat vrylik geneem word. Op ’n persoonlike vlak is dit iets wat voortvloei uit jou liefde en toewyding aan jou maat se welstand . . . Só wys jy lojaliteit teenoor jou maat:

  1. Tree met respek teenoor haar op (veral wat haar foute aanbetref). As sy verstrooid is, moet haar nie daaroor spot nie, maar help haar om aan ’n plan te dink hoe sy dit beter kan bestuur – sonder om kwaad te word of vir haar te lag.
  2. Kies haar kant (selfs al dink jy sy is nie heeltemal reg nie!). Erken haar frustrasies en gevoelens, en laat haar verstaan dat jy haar hart hoor. As jy nie heeltemal saamstem nie, kan jy later jou kant van die saak stel.
  3. Neem saam met haar besluite (ongeag van wat die res dink). Dit maak nie saak wie vir jou voorskryf om wat te doen nie, belangrike kwessies moet deurgepraat word en belangrike besluite moet saam geneem word tot jul eie gesin se voordeel.
  4. Stel haar behoeftes heel eerste – bo enigiemand anders s’n. Wanneer ’n konfliksituasie ontstaan en jou sussie én jou vrou jou hulp terselfdertyd nodig het, beteken dit dat jy jou vrou eerste prioriteit sal gee in álle belangrike sake.
  5. Moenie geheime hou nie. Lojale maats is oop en eerlik met mekaar in groot en klein dinge. Deel die besonderhede van jou dag en moenie wegskram van die moeilike vrae nie. ’n Vertrouensband heers tussen lojale maats.
  6. Laat haar verstaan dat sy op jou kan staatmaak en dat jy daar vir haar sal wees (fisiek en emosioneel) wanneer ook al sy jou nodig het, al is dit ook hóé moeilik vir jou. Dit dra by tot sekuriteit en wedersydse vertroue in die verhouding.
  7. Gebruik die Internet en sosiale media tot haar (en jou) voordeel. Dit beteken dat jy ’n gesonde afstand hou tussen jou en lede van die teenoorgestelde geslag. Dit beteken ook dat jy pornografie en ander onvanpaste beelde vermy en wegbly van gesels-webtuistes wat jou in ’n ongemaklike posisie plaas.
  8. Moet nooit iets sê wat haar in die verleentheid stel nie – nie in die openbaar nie en ook nie in privaatheid nie. “Sy kan nie hier wees nie, want sy moet gaan Botox,” is ’n voorbeeld wat sy jou moeilik sal vergewe!
  9. Maak van jou huwelik ’n prioriteit. Lojale maats is mekaar se beste vriende. Hulle kultiveer romanse, liefde en intimiteit. Onthou om jou maat die beste van jouself te gee, nie net dít wat oorbly as alles reeds deur ander geneem is nie.
  10. Moet nooit negatief van haar praat agter haar rug nie. Ja, dis natuurlik om soms jou frustrasies te wil deel en jy mag dit doen – mits dit met ’n goeie vriend is, en sonder om jou maat te blameer. Fokus op jóú gevoelens en nie op dit wat sy verkeerd doen nie.
  11. Moenie deelneem aan haatspraak teenoor jou maat nie. Dit klink dalk radikaal, maar as jy in ’n geselskap is waar negatief oor jou maat gepraat word (dink aan jou ouers wat agter haar rug giggel oor haar kookvermoë), moenie deelneem aan die gesprek nie – of beter nog, kom op vir haar!
  12. Maak jou woord jou eer. Dit beteken dat jy by jou beloftes staan. As jy dit nié doen nie, reflekteer dit sleg op jou en dit stel jou maat teleur.
  13. Kom jou maat tegemoet, selfs wanneer dit nie vir jou lekker is nie. Dit sal beteken dat jy soms geleenthede sal moet bywoon wat nie vir jou lekker is nie, take moet doen wat jou frustreer en dat jy dít wat minder lekker is, met grasie sal hanteer.

Om ’n lojale maat te wees, is nie só verregaande nie. Dit is om op te tree teenoor jou maat soos jy graag sou wou hê sy moet teenoor jou optree. En as jy alles vanuit ’n plek van liefde doen, behoort lojaliteit nie vir jou ’n moeilike uitdaging te wees nie.

Promosie

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.relationshipmatters.com, www.familyshare.com.