Het jy al ooit aan wonderwerke en jou huwelik in een sin gedink? Jy kan vandag nog begin vra, bid en werk aan wonderwerke vir jou huwelik. Verander die ondenkbare in ’n werklikheid vir jou en jou maat!

Promosie

Lees elke dag die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.

Dag 1: ’n Gelyke maat

Delf dieper: Genesis 2:18.

Promosie

Ds Karel Steyn sê: Is dit nie verstommend om te weet dat God self sê dat dit nie vir die mens goed is om alleen te wees nie? God wat alles weet, weet dat dit nie vir julle goed is om alleen te wees nie en daarom het Hy julle vir mekaar gegee. Dit is al klaar ’n wonderwerk net om te dink dat God mense op só ’n besonderse, intieme manier bymekaar bring om mekaar te help, te troos en lief te hê.

Bid vir: Die vennootskap, kameraadskap en vriendskap tussen julle. Bid dat God deur sy wonderwerkende krag jul huwelik as onwankelbare eenheid sal beskerm en dat jy nooit jou bewondering vir jou maat sal verloor nie.