Dit is ’n “onskuldige plesiertjie”, maak baie mense hulself wys. Maar is dit regtig? Pornografie kan jou huwelik vernietig en pornografie-verslawing is allermins ’n “klein probleempie” …
“Ons het dit regtig nie gesien kom nie. Ons het regtig gedink dis okay as ons na pornografie kyk om ons sekslewe so bietjie op te kikker. Doen almal dit nie maar nie?
Dit was vreeslik stimulerend aan die begin, maar Tertia het baie gou begin moeg raak vir die gewone goed en ons het na al hoe meer gewaagde goed begin kyk. Ek het gedink dis fantasties dat my vrou dit saam met my geniet. Ek het eers later agtergekom sy gesels met ander ouens op die chatrooms oor seks – ek kan nie daaroor kom nie. Dit voel asof sy my verneuk het en ek haar net nooit weer sal kan vertrou nie.”
Dit was die woorde van Herman. Tertia was ook verslae – sy het vir die eerste keer besef hoe seer haar man gekry het. “Alles was nog reg tussen ons, toe ek weer sien het alles so vreeslik verkeerd geloop, maar ek weet nie watter tekens ek langs die pad moes raakgesien het nie. Nou voel dit vir my niks wat ek nou doen kan dit regmaak nie.”
Is dit moontlik dat iets wat paartjies redelik onskuldig begin doen hulle só diep in die moeilikheid kan laat beland? Hoe gebeur dit dan en is ons in beheer van hierdie dinge?
Dinge was nie altyd só nie
Lank, lank gelede was dit veral in Suid-Afrika byna onmoontlik om sommer by die kafee op die hoek ’n tydskrif te koop waarin ’n foto van ’n kaal lyf te siene was. Net ’n paar manne het geweet waar om ’n Scope in die hande te kry en selfs dan was daar net een heeltemal kaal lyf in. Sy het met haar sy na die kamera toe gestaan en op die een bors wat sigbaar was, was daar netjies ’n sterretjie op die tepel, sodat dit ook nie sigbaar was nie! Enige persoon wat meer as dit wou sien, moes allerhande planne maak om so iets in die hande te kry – glip oor die land se grense, gaan vir ’n naweek na ’n luukse casino-oord (destyds ook net in ander lande) of hulle moes ’n maatjie ken wat geweet het hoe om ’n stoute “bloufilm” in te voer. Gewone grootskerm-films is gesensor en as die karakters net ernstig gesoen het, is die spesifieke tonele uitgeknip of het die film ’n 2-21 beperking gehad! Mense het net stories gehoor van wat mens alles oorsee kan ervaar.
Dinge het geleidelik verander met hier-en-daar ’n donker restaurant met kelnerinne met kaal bolywe (natuurlik met die sterretjies op hulle tepels geplak), meer gewaagde tonele in films, die uiteindelike verdwyn van die Sensuurraad en die verskyning van TV in Suid-Afrika. Daar was maar steeds ’n klein groepie mense wat regtig toegang gehad het tot seksuele materiaal.
Die wêreld waarin ons funksioneer
Toe arriveer die Internet! Nou lewe ons in ’n wêreld waarin elke selfoon-eienaar enige tyd toegang het tot kaal lywe, eksplisiete sekstonele, baie duidelike materiaal van mense en hulle seksorgane terwyl hulle met iemand of meer seks het – aangebied op ’n skinkbord: “Help jouself!” Die verskaffers van hierdie materiaal is ook baie vrygewig met wat hulle aanbied – hulle maak seker dat alles maklik by jou uitkom in oorvloed en in grafiese detail. Daar is foto’s, video’s, geselsplekke, iets vir almal met elke voorkeur onder die son. Jy kan aan enige voorkeur blootgestel word – al het jy nog nooit eens daarvan gehoor nie, of al is jy seker dis eintlik onwettig.
Die Internet is ’n baie gebruikersvriendelike bron van pornografie: Al wat jy nodig het is ’n ordentlike selfoon en ’n toring wat jou met ’n nie-sigbare sein verbind.
Elke persoon (mnr die plaasboer op ’n verafgeleë plekkie, mev die sekretaresse, jongeheer wat in graad drie op skool is, jonge juffrou wat in haar eerste romantiese verhouding is met ’n baie gewillige kêrel) kan daarna kyk.
Natuurlik is die verskaffers van hierdie materiaal eintlik besigheidsmense en dis hulle werk om seker te maak dat hulle geld verdien. Daarom doen hulle moeite om te verstaan hoe hul kliënte se koppe werk – hoe hulle op die ou end die meeste mense sal kry om geld te spandeer aan die pornografiese materiaal, en hoe mense lus raak om meer en meer te kyk en te koop. Ongelukkig moet mens ook besef dat dit beteken dat hulle glad nie omgee of dit wat hulle vir ander mense aanbied goed is vir die verbruikers nie – dit maak regtig nie vir hulle saak nie!
Hoekom wil ons kyk?
Erotiese materiaal van verskillende soorte stimuleer mense seksueel. Dit veroorsaak dat jou brein ’n redelike skielike vloedgolf van “voelgoed”-stowwe afskei, wat op hulle beurt bydra daartoe dat mens ordentlik seksueel opgewek word – nou is jy behoorlik lus!
Die Internet gee al hierdie materiaal vir mense sonder dat hulle hulself hoef bloot te stel. Solank jy jou soektog-geskiedenis ordentlik uitvee, bly jy heeltemal anoniem en niemand sal weet waarna jy alles gekyk het nie.
Daar is net ’n paar slaggate wat met hierdie aanloklike idee gepaard gaan:
• Mens se brein raak redelik gou “gewoond” en ontwikkel ’n verdraagsaamheid vir die intensiteit van die materiaal. Dit veroorsaak dat mense geneig is om na meer en meer eksplisiete of gewaagde materiaal te kyk. Hulle begin dalk na redelik matige materiaal te kyk, maar baie mense ervaar dat hulle naderhand na dinge begin kyk wat voorheen vir hulle totaal onaanvaarbaar was. As gevolg hiervan ervaar hulle ook dikwels dat hulle moeiliker seksueel opgewek raak as hulle nie na enige stimulerende materiaal kyk nie.
• Die materiaal verkoop ’n droom – gewoonlik is die inhoud van hierdie droom effens of erg onrealistiese temas van byvoorbeeld:
o ’n Vreeslik belustige vrou wat enige tyd, enige plek, enige manier, enige iets sal doen! Sy kan net nie genoeg kry nie en sy kan net aanhou en aanhou! Sy dink haar minnaar is die beste een ooit en kry só lekker – sy weet net wat om vir hom te doen. Sy is baie sexy en weet net hóe om haar minnaar te verlei.
o ’n Stud van ’n man wat ’n pilaarharde ereksie en baie stamina het! Hy is nie bang om vreeslike intense seks te hê nie – sy manlikheid is onoortreflik en hy kan net aanhou en aanhou. Dis ook duidelik dat hy haar soveel plesier gee – dis dalk moontlik dat hy gaan veroorsaak dat sy flou word van ekstase!
o Fantasieë van seks – seks op interessante maniere, gewaagde plekke, met ’n paar mense op dieselfde tyd, met iemand van dieselfde geslag, met kru taal tussendeur, voor mense wat kyk, onwettige seks – die lys is langer as wat mens kan dink.
o Mense wat ongesteurd seks kan hê – hulle het nie kinders, bure, skoonouers of ’n werk nie, is nooit siek of ongemaklik nie, menstrueer nie, kry nooit te koud of te warm nie.
• Sommige mense ervaar skuldgevoelens omdat hulle weet dat hulle alleen (sonder hulle verhoudingsmaat) hierdie stimulasie beleef. Soms voel hulle weer asof die seksuele stimulasie hulle intiemste ervaring is – selfs meer so as in hul verhouding. Beide bogenoemde kan die verklaring wees hoekom mense wat gereeld na pornografie kyk, ervaar dat die intimiteit in hul verhoudings afneem.
• Die maklike toeganklikheid veroorsaak ook dat mense dikwels aan meer bootgestel word as waarvoor hulle gereken het: Meneer tik net “seks” in op die soekenjin en hy kry baie meer as net ’n opvoedkundige stukkie inligting of naaktheid. Of hy nou gevra het daarvoor of nie – hy mag oombliklik eksplisiete foto’s sien met redelike kru opskrifte. Wat hy gesien het, selfs net vir daardie oomblik, is ingeprent in sy geheue – niks wat hy doen, kan dit weer uitwis nie.
• Terwyl mevrou bietjie na prentjies en video’s kyk, is een van die ander dinge wat aangebied word skakels na vreemdelinge in haar omgewing of elders. Sy word dus sommer gou genooi om met iemand anders te gesels (die aanname is dat dié twee mense nie oor koeitjies en kalfies sal gesels nie, maar wel oor seks – dis mos rondom hierdie onderwerp wat hulle mekaar raakgeloop het!). Hulle kan ook ’n uitnodiging kry vir ’n rondte seks.
Êrens langs die pad
Die meeste dinge in die lewe hou risiko’s in: Om in jou huis te bly, beskerm mens nie teen kanker of huweliks-onmin nie; om in jou kar te ry, hou baie gevare in – dit klink stil en voel veilig binne-in die kar, maar dinge kan binne ’n oogwink verander in ’n nagmerrie; om beesvleis te eet, hou voordele en nadele in – jy moet besluit daaroor. Die meeste dinge gebeur in stappe – een besluit lei tot ’n ander, een grens oorskry maak dit makliker om ’n volgende te oorskry. Elkeen moet self as individu en as paartjie saam besluit oor wat vir hulle goed is, waarmee hulle gaan veilig voel en waar hulle balans sal ervaar. Só is dit ook met pornografie.
Êrens langs die pad moet mens jouself afvra of jy die risiko’s verbonde aan dit wat jy wil ondersoek, sal kan hanteer. Êrens langs die pad moet jy vir jouself bakens inbou – rooi ligte wat in jou binnekant sal begin flikker en sê: “Die risiko’s van hierdie situasie mag vir my te veel wees om te kan hanteer, ek wil liewer nie hiermee deurmekaar wees nie.” Dikwels is daardie baken reeds ingebou – mens moet jouself net bewus maak daarvan en bewus hou daarvan sodat mens dit kan herken en daarop kan reageer. Jy moet besef dat die verskaffers altyd “meer, groter, beter vinniger, meer vuurwerke” aan die verbruiker sal verkoop – elke persoon moet self bewus wees van die verantwoordelikheid om te kan kies.
Daardie baken verskyn dikwels in die vorm van ’n gevoel van emosionele ongemak of angstigheid. As iets wat jy doen jou ongemaklik of bang laat voel, is dit dikwels die eerste manier waarop jou binnekant jou wil waarsku en sê: “Kyk ’n bietjie dieper. Dink ’n bietjie hieroor.”
Êrens langs die pad moet mens dink en besin oor die situasie waaraan jy jouself blootstel en besluit of dit steeds die regte ding vir jou of vir julle as paartjie is.
Hierdie dinkwerk is nie altyd maklik nie en daar is nie kitsoplossings of antwoorde wat vir elke persoon sal werk nie, maar die antwoord moet vir jou as individu, maar ook vir julle as paartjie, gemak en balans bring. Daar waar julle gemak ervaar, sal julle weer veilig voel – daar moet julle dalk baie duidelike grense trek.
Kan mens regtig verslaaf wees aan pornografie?
Verslawing aan pornografie is ’n werklikheid. Soos met ander gewoontevormende middels, skei die brein met die eerste blootstelling ’n skielike verhoging van dopamien (’n senuwee-oordragstof) af – dit laat mens baie goed en gestimuleer voel. Om weer hierdie heerlike gevoel te ervaar, kyk die persoon dan weer en weer, maar ervaar dat die stimulasie nooit weer só intens is as daardie eerste keer nie! Meer kyk, meer soek na meer stimulerende pornografiese materiaal is dus nodig. Só ’n persoon begin dan baie tyd aan die bymekaarmaak en kyk van pornografie spandeer, en die volgende gevare bestaan:
• Jy bestee geweldig baie tyd aan seksueel stimulerende materiaal en jy moet al hoe meer skelm daaroor optree.
• Jy kan jou verhouding met jou geliefde/s verloor of benadeel (as jou kinders jou verwerp, jou vrou nie gemaklik is met jou gedrag nie, of jou man jou nie meer vertrou of respekteer nie). Dit veroorsaak gewoonlik ’n afname in emosionele intimiteit met jou maat.
• Jy is uitgevang en kan steeds nie ophou nie.
Wat gemaak as een van ons verslaaf is?
Die eerste stap is altyd om ’n verslawing te breek deur te erken dat jy ’n probleem het en waarskynlik vir altyd die gevaar sal staan om weer verslaaf te raak. Wenke
vir stappe tot herstel:
• Erken aan jouself en aan jou maat wat aan die gang is. Vra jou maat se hulp en begrip vir jou poging om te herstel.
• Maak dit vir jouself so moeilik as moontlik om na pornografie te kyk – sit blokke op webbladsye op jou selfoon en rekenaar.
• Gaan ’n ooreenkoms aan met jou maat om daagliks daaroor te praat – “Dit was moeilik vir my om nie vandag te kyk nie”, “Ek het nie eens daaraan gedink vandag nie.” Maak hierdie gesprekke oor die onderwerp heeltemal oop tussen julle – dis baie kragtig om die geheimhouding weg te vat.
As jy sukkel of maklik terugval – kry professionele hulp! Verslawing is ’n komplekse probleem en dit het meestal intense behandeling nodig. Hoe langer die probleem sloer sonder dat dit reg hanteer word, hoe meer skade doen dit aan julle verhouding.
Artikel deur WILMÉ STEENEKAMP