Ken jy die basics van slaapkamer-etiket? Dit is nou nie die soort etiket waarvoor tannie Emsie Schoeman jou ’n goue sterretjie op die voorkop sal gee nie . . . indien jy steeds nie ’n idee het waarvan ons praat nie, maak seker jy lees dié artikel!

Promosie

Manne doen, vroue dink. Manne beplan, vroue vóél. Manne worstel, vroue share. Ag, die verskille is groot. Só ook in die slaapkamer. En ja, afgesien van die anatomiese verskille wat die liefdespel so lekker kompleks (en doeltreffend!) maak, is daar ook kop- en hartverskille. Jy wil omdraai en slaap, sy wil cuddle. Jy gee jou alter-ego graag ’n high five in jou drome en sy wil gesels oor wat hierdie seks op ’n diéper vlak beteken het . . .

Nee, julle gaan nooit heeltemal op dieselfde terrein wees wat voorspel, tussenspel en naspel aanbetref nie. Maar as jy ’n paar basiese maniere kan probeer onthou – en ook dat seks vir jou vrou nie net ’n fisieke daad is nie, maar ook ’n erge emosionele sessie, behoort jy nie té ver mis te trap wat slaapkamer-etiket aanbetref nie. Goeie maniere in die bed gaan jou ver met vroulief bring (kwaliteit én kwantiteit, as jy weet wat ons bedoel).

#1. Móénie die hempie skeur nie

Promosie

Ja, dit lyk hot op die silwerdoek. Die held neem sy vrou in sy arms (wat duidelik gepomp is met die proteïene en steroïede, maar nietemin) en smyt haar op die bed neer. Hy growl soos jy glo Tarzan gedoen het sodra hy die een of ander roofdier verslaan het, en dan ruk hy die heldin se klere van haar lyf af dat jy net hoor viscose (dis nou ’n tipe materiaal) skeur en knope spat!

Hmmm. Dit lyk bloeddorstig, smeulend en is ’n teken dat hy haar nie kan weerstaan nie – maar in die régte lewe? Nie só ’n goeie idee nie. Wie gaan die knope weer aanwerk?

Probeer eerder . . . om handvaardig te raak wat bra-gespes aanbetref. Wanneer sy nie by die huis is nie, oefen met die bra’s in haar kas deur hulle om ’n stoel se rugkant vas te bind en stel jou selfoon se timer. Hoeveel van hulle kan jy losmaak in 30 sekondes?

#2. Móénie die selfoon antwoord nie

Jou vrou is in ’n posisie waarin jy nie graag wil hê énigiemand anders haar óóit moet sien nie, en jy verlustig jou aan die ongelooflike uitsig voor jou. Suiwer perfeksie, en sy geniet haarself! Boonop is sy op die punt van teatrale ekstase . . . amper . . . amper . . . en dan lui jou slimfoon.

Sy word vir ’n oomblik tot werklikheid geroep, maar hervat die aksie en . . . dan antwoord jy! Wát?! “Hey, ou Daaf! Kon jy toe vir my daardie stel spanners op sale kry? Jislaaik ou, jy weet nie hoe lank ek gesoek het vir daardie goed nie. Wat het jy betaal?”

Aarde na vroulief en sy val hárd.

Tussen jou en jou foon is daar net een “slimme” en dis die een wat met ’n battery werk. Boonop het jy so pas ’n lieflike uitsig en beloning van wat nog kom, prysgegee vir inligting oor ’n stupid stel spanners. Dis onbedagsaam, dom, ongemanierd, dikvellig . . . ons kan aangaan. As jou telefoon lui in die middel van seks, MOENIE ANTWOORD NIE.

Probeer eerder . . . om sommer die selfoon vanuit die staanspoor op silent te sit en om te draai op sy gesig, sodat jy ook nie jou aandag laat aflei deur die flikkerende liggie van ’n boodskap nie.

# 3. Moenie die balke saag nie (in elk geval nie onmiddellik nie!)

Julle het so pas die ongelooflikste seks agter die rug en jy is baie lief vir jou vrou, maar al wat jy nou wil doen, is om te slaap. Julle het immers vier nuwe posisies beproef en jy dink jy het ’n boudspier verrek – jy is immers nie meer ’n kuiken nie! En dis warm.

Maar vroulief voel anders. Sy wil by jou lê. Nie net bý jou nie, maar teen jou, om jou, oor jou. En nie net lê nie – sy wil om jou vleg soos ’n koeksister! En sy kry koud, so sy trek die duvet oor die koeksistervlegsel en gooi haar arm oor jou lugpyp. As jy kon asem kry, het jy haar vertel dat jy nie kan asem kry nie, maar jy kan nie. So, nou draai jy om – op jou ander sy – en ontvleg in die proses die koeksister roekeloos.

As jy egter gedink het hier wag ’n lekker slapie op jou, sit jy die pot mis, want die snikke agter jou rug kan ’n Oscar-nominasie kry! Hoekom? Sy voel misbruik, sy voel afgeskeep en sy wonder waarom sy in die eerste plek met so ’n onsensitiewe buffel soos jy getroud is!

Probeer eerder . . . om lugversorging te installeer, ’n spierverslapper te sluk en ná seks dadelik na háár toe te draai sodat jy jou arms om haar kan vou en haar veilig, geliefd en gekoester laat voel. Soos net ’n metroman kan.

Daar het jy dit. Eenvoudig! Jy kan ons bedank deur ’n mandjie vol sjokolade na ons kantooradres toe te pos. Of ’n paar vlugkaartjies Italië toe. Wat ook al jou begroting pas.

 

Deur Annelize Steyn