Hy haal die kondoompakkie uit sy bedkassie se laai en draai dit ’n paar keer in die rondte. Hy is nie op soek na instruksies nie, maar eerder na iets om sy hande en gedagtes mee besig te hou.
Sy is vanoggend weg werk toe en hy het haar skaars gegroet.
Hy sug, gooi die onoopgemaakte kondoompakkie terug en klap die laai toe. Sy oog vang sy weerkaatsing in die spieël en hy staar verbaas na die vreemdeling wat terug gluur. Hy vryf sy ongekamde hare plat en voel-voel aan sy week-oue baard. Maar in plaas daarvan om op te staan en die stortkrane oop te draai, val hy net terug op die bed en staar na die plafon bo hom.
Wat gaan aan met hom?
Sy foon se reminder begin skril skreeu – hy het ’n belangrike vergadering oor ’n uur. Hy gooi die kussing oor sy kop met ’n kreun en wag dat die foon se bek stil raak.
Voordat hy sy gedagtes kan keer, dink hy weer aan gisteraand en die onoopgemaakte kondoompakkie in die laai. Die probleem is… dit het nie net gisteraand gebeur nie, maar ook ’n paar keer vantevore.
Hy slaan die kussing langs hom met die vuis. Haar kussing. Hy streel oor die voue waar sy oomblikke gelede gelê het en trek die kussing saggies nader. Die reuk van haar sjampoe talm op die materiaal, dieselfde reuk wat hy inasem elke keer as sy in sy arms is. Hy druk die kussing styf teen sy bors en verberg sy gesig daarin.
Gisteraand het sy weer daardie sexy onderklere aangehad wat hy op Valentynsdag vir haar gekoop het. Hy het gewag vir die bekende styfheid om op te kruip in sy onderlyf, maar daar was niks. Niks! Sy het probeer maak asof dit haar nie pla nie, maar hy was woedend, vernederd en bitterlik teleurgesteld.
Sommige dae voel hy moeg en net glad nie homself nie. Moet hy dalk maar ’n dokter gaan sien? Hy hou nie van hierdie vreemdeling in sy vel nie.
Reluctantly tel hy die foon op en skakel die spreekkamer. Die dokter kan hom dieselfde oggend nog sien en hy besluit om eerder die storie so gou as moontlik agter die rug te kry.
By die spreekkamer gekom, luister die dokter simpatiek na sy storie. Tot sy verbasing vra die dokter of hy hom al laat toets het vir diabetes.
Diabetes? Maar daar is dan iets fout met sy penis, hoe kom die twee by mekaar uit?
Hoe veroorsaak diabetes erektiele disfunksie?
Volgens dr Ettienne Kok, ’n seksuoloog, is die vier grootste risikofaktore om ’n kardiovaskulêre insident (hartaanval) te ontwikkel: sigaretrook, diabetes, hoë bloeddruk en hoë cholesterol. Hierdie is egter ook die vier grootste risikofaktore om ’n ereksieprobleem te ontwikkel.
“In baie gevalle is ’n ereksieprobleem die eerste simptoom wat mans na die dokter se spreekkamer laat haas. Eers wanneer hulle hulp soek vir erektiele disfunksie, ontdek hulle dat hulle diabetes het.”
Dit begin alles met endoteelselle.
Endoteelselle maak die voering uit van die slagare wat bloed na organe soos die hart en ook die penis pomp. As hierdie endoteelselle of voeringlagie beskadig word deur diabetes, veroorsaak dit die neerlegging van stowwe of plaakformasie wat aterosklerose genoem word. Dit kan ook die slagare verhard en vernou met gevolglike verminderde bloedvloei na die organe.
Diabetes veroorsaak egter nie net ’n probleem met bloedvloei na die spons-weefsel van die penis nie, maar doen ook skade aan die klein senuweetjies in die liggaam – ook dié wat boodskappe na die penis moet neem om ’n ereksie te kry.
Hoe word die kombinasie van die twee toestande behandel?
Dr Ettienne Kok sê dit is belangrik dat mense met tipe 2-diabetes se bloedsuiker goed beheer moet word deur die korrekte dieet, oefening en bloedsuiker-verlagende medikasie. Die familie van ereksiepille (Viagra, Avigra, Cialis, Levitra, Dinafil) help ook diabete om weer hul soldaat paraat te kry en in die geveg te hou. Hulle moet dikwels net ’n hoër dosis van die medikasie gebruik.
“Dit is egter nie altyd 100% doeltreffend by iemand met erge diabetes nie. As die ereksiepille dan nie bevredig-end werk nie, is die volgende stap dat ’n man vir homself ’n inspuiting (Caverject) direk in die penis gee elke keer wanneer hy ’n ereksie wil hê. Dit staan bekend as ’n intra-caverneuse inspuiting of ICI-terapie.”
Jy moet egter in ag neem dat sulke medikasie ook newe-effekte het, so moenie net ’n handvol in jou mond prop en dink jy is nou Superman nie. Praat eers met jou dokter en identifiseer enige kryptonite (mediese geskiedenis en medikasie wat jy reeds neem) wat moontlik jou gesondheid kan beïnvloed.
Deur Annelize Steyn