Dit wil voorkom dat, met die stygende egskeidingsyfer, jongmense nie meer kans sien om te trou nie. Baie van hierdie jongmense word groot in ’n huis waar hul ouers geskei is en is bang dat dit ook hul lot sal wees. Die verantwoordelikheid lê by Suid-Afrikaanse pare wat wel (gelukkig) getroud is om die woord te versprei: Moenie bang wees nie, die huwelik kan fantasties wees – mits jy dit reg aanpak!

Promosie

Kom ons wees maar eerlik: Ouer (Afrikaanse) generasies was nie juis die beste vertoonvenster vir die huwelik nie. “Marriage was sold as an institution . . . and who wants to live in an institution?” lag Carien du Toit, huweliksberader, sielkundige en Imago-terapeut in ’n private praktyk. “Die waarheid is natuurlik die teenoorgestelde: God se idee van die huwelik is ’n plek van totale veiligheid en geborgenheid. ’n Spasie waar jy affirm word en jou uniekheid ondersteun word.”

Millennials is skugter vir die huwelik

Derika de Villiers, ’n kliniese sielkundige van Pretoria-Oos, sê jong millennials is tog bang vir die huwelik as ’n instelling.

Promosie

“Jongmense se vrees vir die commitment van die huwelik kom van die egskeidingstatistieke af. Die meeste jong millennials het in geskeide en verbrokkelde gesinne grootgeword, waar hulle emosionele wonde opgedoen het – in teenstelling met hulle ouers se kinderdae. Jong millennials is dus huiwerig om te trou en daarom is die ouderdom waarop die meeste jong volwassenes trou, veel ouer as voorheen,” verduidelik Derika.

Prof Pieter Joubert, ’n sielkundige in ’n private praktyk in Potchefstroom en verbonde aan die  Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus, benadruk die egskeidingstatistieke. “Sowat 67% van alle kinders in Suid-Afrika word tans in enkelouer-huishoudings groot. Sowat 60% van eerste huwelike eindig in die skeihof. As daardie geskeide paar met ’n ander geskeide paar trou, misluk 84%. Indien hulle vir ’n derde keer wéér met ’n geskeide paar trou, misluk 92%,” sê Pieter.

REDE #1: Die keuses van ooreenkomste is legio

“Jong volwassenes van vandag het ook meer keuses as dit by verhoudings kom, baie meer as wat hulle ouers gehad het, byvoorbeeld jy kan trou of jy kan ’n alleenloper wees in jou dertigs sonder dat mense dit vreemd ag. Baie paartjies verkies ook om te cohabit en ’n getroude lewe te lei sonder die wettige dokumentasie.

“Die millennial-generasie het grootgeword met keuses, waar daar voorheen baie meer druk van die samelewing was om te trou en huis op te sit. Jong volwassenes se prioriteite is eerder om om die wêreld te reis en sukses in hulle beroepe na te jaag as om op ’n vroeë ouderdom te trou, kinders te kry en huis op te sit,” sê Derika.

Daar moet ’n gesonde prentjie van die huwelik geskep word, meen Derika. ’n Gesonde huwelik verg harde werk van beide individue, maar jong millennials hoef nie afgeskrik te wees nie.

REDE #2: Waardes het verander

“Die millennials word groot in ’n wêreld waarin wêreldkennis elke 18 maande verdubbel, binne ’n post-moderne samelewing waarin alle waardes (ook godsdiens-beskouings en sienings oor onder andere aspekte soos die huwelik en kinderopvoeding) baie relatief is. Jou waarheidsbeskouing en waardes en myne is gelykwaardig aan mekaar, en die een is nie meer belangrik as die ander nie,” sê Pieter.

Dit is ook opmerklik dat 33% van mense onder 30 kerkloos is. Maar Pieter sê ongeag die moderne pas van verandering het mense steeds ’n vrees vir verwerping en ’n behoefte aan aanvaarding en liefde op ’n volhoubare vlak. En in dié verband speel faktore soos ’n stabiele huwelik en gesinsopset waarin daagliks belê moet word ’n deurslaggewende rol.

REDE #3: Hulle verlaat die huis later

Jong millennials (rofweg in die ouderdomsgroep van 18 tot 34 jaar) is meer geneig om sku te wees vir verbintenis. Een van die groot redes hiervoor is dat jongmense langer by hul ouers woon as vantevore en dus selfsugtig raak. Hulle hoef net aan hul eie belange aandag te skenk en niemand anders s’n te respekteer nie. Hulle voel ook dat daar nie ’n lewensmaat nodig is om hulle gelukkig te maak nie.

REDE #4: Dis ’n individualistiese generasie

Dis ’n baie individualistiese generasie wat dinge baie anders doen as vorige generasies. Hulle beoefen makliker voorhuwelikse seks, bly eerder saam as om te trou en versamel eerder ondervindings as materialistiese items.

Nog ’n rede waarom dié generasie moeiliker verbind, is omdat sosiale netwerke soos Facebook, Instagram en Snapchat, asook ontmoetings-webwerwe en selfoontoepassings soos Tinder, ’n wye verskeidenheid geleenthede bied om mense te ontmoet.

REDE #5: Vele potte, vele deksels

Dit skep die idee dat jy nie net een persoon hoef te kies nie, maar dat daar eindelose potensiële maats is. Janine Verwey en Hendrik Saayman, ’n paartjie in hul twintigs, beaam dit. Hulle het mekaar so ses maande gelede uitsluitlik begin sien. Janine vertel: “Ek het op die uitkyk gebly, want sosiale media maak dit só maklik. Ek het heeltyd geglo daar is iemand daar buite wat beter by my sou pas as Hendrik, al was ek mal oor hom.”

Hendrik sê: “Ek was sku vir ’n verbintenis, grotendeels omdat my ouers geskei is na ’n stormagtige huwelik en ek by my ma gebly het. Dit was nét ek en sy, so dit was ’n groot kopskuif om saam met Janine in te trek.”

Hulle het verkies om soveel as moontlik ervarings op te doen voordat hulle op ’n vaste verhouding besluit het, en bestee die meeste van hul geld daarop om te reis in plaas van om aan duur motors en ’n eie huis te dink. Dit het ook heelwat te doen met die motivering wat hulle op sosiale media sien – almal reis en plaas foto’s, dit is ’n nuwe kompeterende manier om almal se doen en late te sien, in plaas van die blink motor of eie huis van toeka.

Die algemene term wat vandag vir liefde gebruik word, aldus biologiese antropoloog Helen Fisher van die Rutgers Universiteit in die VSA, is “stadige liefde”. “Seksuele drange, intense romantiese gevoelens en ’n begeerte vir verbintenis is steeds die stappe wat ’n mens onbewustelik volg. Ons is bedraad om ’n verbintenis te vorm. Millennials verkies egter vandag om doodseker te maak dat hulle met die regte persoon in die huwelik tree.”

Maar is hulle werklik só skugter?

Alhoewel die huwelik se toekoms in die buiteland dalk maar bleek lyk, is daar verbasend genoeg ’n baie meer rooskleurige prentjie wanneer ons op ons eie voorstoep kyk. ’n Span leraars het besluit om ’n studie te doen wat ondersoek hoe vandag se jongmense oor die lewe en die huwelik voel, en hulle was stomgeslaan oor die positiewe resultaat. In hul boek, Skokkend Positief, word dit duidelik dat die meerderheid jongmense wat aan kerke behoort, steeds in die Bybelse beginsels glo.

Dominee Chris de Beer van die Gereformeerde Kerk Brooklyn verduidelik dat ons geneig is om te dink dat mense van alle oortuigings soos Christene moet optree. Ons ondervind dit dus as negatief wanneer ons sien dat al hoe minder mense trou.

Die waarheid is egter dat ons in ’n wêreld leef waarin mense ander gelowe al hoe meer openlik begin aanhang. Die wêreld is nie minder geërg oor die huwelik nie, hulle is net meer gemaklik om ander oortuigings uit te leef. Die huwelik is ’n Christelike verbond tussen man, vrou en God. Waarom sou ons dan van nie-Christene verwag om ook te trou?

Alhoewel dominee Chris erken dat die moderne leefstyl en media wel die jeug oor die huwelik beïnvloed, wys hy ook daarop dat dié ’n baie meer gekompliseerde kwessie is. Dit gaan oor wat gesien word as sonde in die moderne wêreld. Intimiteit word byvoorbeeld deur baie jongmense in die kerk anders gedefinieer as in die Bybelse tyd.

Wanneer word intimiteit ’n sonde? In die Bybelse tyd het mense op die vroeë ouderdom van 14 of 15 getrou, so hulle kon maklik binne-in die huwelik uiting gee aan enige natuurlike begeertes.

Vandag gooi hulle jou ouers in die tjoekie as jy só vroeg oor die tou trap. Die mens is gemaak om die aarde te bewoon, maar hoe gemaak as jy vir tien jaar jou bene gekruis moet hou? Die samelewing het (met goeie rede) menslike wette in plek geplaas wat dit vir jong Christene baie moeilik maak om by Bybelse beginsels te bly.

Dit beteken wel nie dat seks ’n rede vir die huwelik is nie! Seks is maar net een van talle aspekte wat in diepte ondersoek moet word wanneer ons kyk na jong Christene se gevoel oor die huwelik, maar die goeie nuus is dat die toekoms positief is. Jong Christene is oral in ons land besig om te bewys dat die huwelik nog ’n plek in die samelewing het, ongeag van Hollywood se reputasie.

Stel ’n voorbeeld vir die jonges!

Carien meen dat daar veels te veel vooropgestelde idees oor die huwelik bestaan. “Paartjies wat al vir jare ’n huweliksbootjie deel, moet stop en hulself afvra of hulle ’n stel selfgemaakte reëls volg wat die joy uit hul verhouding laat wegsyfer,” sê Carien. “Die beste boodskap wat getroude paartjies  aan jongmense kan uitdra, is om die geluk wat die huwelik meebring uit te leef.”

Carien sê die eienskappe van ’n gesonde huwelik is nie net vertroue en respek nie, maar ook vriendskap en ’n genotvolle sin vir humor. “Lag saam, komplimenteer mekaar, dans by die partytjie. En, om hemelsnaam, wys ’n bietjie affection! Dit lyk soms asof paartjies wat lank getroud is allergies is vir mekaar!”

Dit ís moontlik om aangetrokke en verlief te bly op mekaar. Om die waarheid te sê, God het die huwelik op so ’n wyse ontwerp dat die liefde tussen huweliksmaats net dieper raak met tyd. Moenie skaam wees om dit vir die wêreld te wys nie.

Waar laat dit julle as jong paartjie?

Elke huweliksverhouding is uniek en geen paartjie hoef te konformeer aan ’n eentonige idee van ’n huwelik nie. “Die huwelik is ’n Godgegewe spasie vir persoonlike en geloofsgroei,” verduidelik Carien.

“Maats wat toegewy is aan mekaar, is die hoeksteen van emosionele veiligheid en genesing. Die huwelik bied ’n diepte wat ongetroude paartjies nie maklik ervaar nie. Daar is soveel waarde in om te behoort, om deel te wees van iets groter as jouself.” Die huwelik bied ook ’n veilige vesting vir kinders en vorm die basis van ’n gesonde samelewing.

En, ten spyte van al hierdie voordele, bied die huwelik ook ’n ongelooflike spasie vir seksuele genot. “Kyk maar na Hooglied. Sjoe! Seksuele toenadering en hartstog word besing en geseën. Dis só onmiskenbaar eroties en sensueel. Wie wil nié in ’n huwelik wees as God só voel oor seks nie?”

Carien sê egter dat jong paartjies twee dinge moet onthou: “Eerstens, julle maak van julle huwelik wat dit is, so prioritiseer pret, sensualiteit en genot. Tweedens, moenie trou omdat dit van jou verwag word of omdat dit ‘die regte ding is om te doen’ nie. Mense moet trou wanneer, en indien, hulle reg is.”

Daarin lê die geheim van ’n sterk huwelik: Ten spyte van al die ander opsies, kies julle mekaar omdat julle wíl. En julle groei saam tot die mense wat God weet julle kan wees.