Elke man weet dit: Jy het waarlik ’n ordentlike kaart of gehalte-GPS nodig om by jou vrou se hart uit te kom. En as jy slim is, bly jy op die snelweë en probeer jy die afdraaipaadjies miskyk…

Promosie

Jy wil in jou vrou se goeie boekies bly. Nie omdat jy vir haar bang is nie (hoewel daar hier en daar ’n Adam is wat nie sal skroom om te erken dat dit wel die geval is nie!), maar omdat daar soveel voordele aan verbonde is. As jy mooi soet was, kyk sy vir jou met ’n sexy glimlag, buk ekstra laag voor jou, trek vir jou mooi goedjies aan en verras jou meer gereeld met ’n laat aand. As jy minder soet was, kry jy die koue skouer en die wind van voor. Heeldag. Heelnag. Weke lank… so, nee – dít is nie ’n opsie nie.

Dit is geen geheim dat ’n vrou ’n komplekse wese is nie – daarom dat ’n kaart na haar hart vir die gemiddelde man so ’n reuse bedreiging inhou. Daar is allerlei kortpaadjies, maar gewoonlik is daar ’n catch en sodra jy dink jy net jy het sopas ’n oulike een ontdek, besef jy te laat dit is ’n grondpad met talle bulte en gaan die ryery maar hikke en stote (soos wanneer jy ’n wit leuentjie vertel om haar horisontaal te kry). Daarom lig ons vir jou die vyf betroubare snelweë na vroulief se hart uit. Dit gaan jou relatief gou gaan om daar uit te kom en jy kan daarop staat maak.

Die snelweg van tradisie…

Promosie

Noem die naam Clark Gable of Frank Sinatra en kyk na die meeste vroue se gesigsuitdrukkings. Oud en jonk. Ja wat, sedertdien het daar talle Gladiators, Mr Smith’s en Braveheart’s in die prentjie gekom, maar ongelukkig het nie een van hulle daardie ouwêreldse sjarme wat vroue se knieë destyds lam gemaak het nie. Miskien het dit iets daarmee te doen dat saam met gelyke regte wat intussen gebore is, mans nie meer gemaklik voel om vroue te “verower” nie, wie weet? Maar hier is iets wat jy altyd moet onthou: Elke vrou wil graag hê haar man moet vir haar daardie ekstra tree stap.

Om ’n vrou te charm, sal dalk vereis dat jy moet terugblaai in jou argiewe en gaan kyk hoe jy gevoel en opgetree het toe jy haar destyds probeer beïndruk het. Jy het (hopelik!) vir haar die deur oopgemaak, aan haar lippe gehang en moeite gedoen om haar na plekke te neem wat jy geweet het sy oor mal sou wees. Jy het deur die tranetrekkers gesit en langtand aan Griekse disse geëet. Jy’t jou laaste sente op ’n bos blomme uitgegee en vir haar ’n liedjie vol spelfoute geskryf. En weet jy wat? Dit is deels die rede hoekom jy haar gewen het.

Maar toe die jagtog verby is, het jy teruggeleun en lui aan jou prooi gesmul. Wat heeltemal natuurlik is. Eve Salinger skryf in haar boek, The Idiot’s Guide to Pleasing Your Woman: “Vanuit ’n doeltreffendheidsoogpunt, is daar geen rede om dit wat al reeds gevang is, na te jaag nie. Maar vanuit ’n emosionele oogpunt is dit ’n heel ander storie.” Die feit dat julle mekaar se tandeborsels leen, ’n trouring dra en die huwelik nie meer ’n nuutjie is nie, eis alles sy tol op die rituele wat met die hofmaking gepaardgaan. As jy regtig jou vrou gelukkig wil maak, is dit egter nodig om jou sjarme af te stof. Maak haar jou nommer een prioriteit en sien hoe haar houding teenoor jou verander.

Die snelweg van bewondering…

Hierdie snelweg sal vereis dat jy soms die afstandbeheer sal moet bêre, want ons almal weet dat multi-tasking vir mans ’n uitdaging inhou. Sy wil egter hê jou mond moet letterlik oopval wanneer sy in haar nuwe cocktail-rokkie te voorskyn kom. Dat jy “wow!” moet sê wanneer sy haar hare gesny het en dat jy by die braai openlik moet vertel watter fantastiese ma sy is – mits jy werklik so dink. As dit bloot nie is wie jy is nie (soms sukkel mans om geesdrif te toon – dit het te doen met daardie emosie-ding), kan jy jou bewondering toon deur dit te wys. Deur na haar te kyk asof jy elke sentimeter van haar lyf begeer wanneer sy halfkaal bed toe kom, deur gereeld vir haar te glimlag, haar hand vas te hou en jou arm om haar lyf te sit asof jy sê: “Hierdie wonderlike vrou is mýne…”

Moet dit egter nie doen omdat jy planne het vir wanneer die kinders slaap nie – dit is belangrik dat hierdie woorde en dade regtig uit jou hart kom. Getrouheid loop hand aan hand met bewondering. Vir die manne wat vir die tweede keer getroud is, onthou: Selfs al ís sy nie die enigste een vir wie jy ooit besonder lief was nie, wil sy graag dink sy is. Sy wil nie met enigiemand anders vergelyk word nie, maar voel asof jy haar gekies het, steeds kies en in die toekoms ook sal kies. Dit is natuurlik om ander vroue se skoonheid te bewonder (’n man is nie ’n klip nie) en dit is vanselfsprekend dat jy ook uitsonderlike bewondering vir ander vroue in jou lewe het (soos jou ma en jou pragtige klein dogtertjie), maar sy moet weet daar is niemand wat jy op dieselfde manier en vlak bewonder as vir haar nie.

Dit beteken dat jy soms blind is vir haar foute, want glo my – sy is nie blind vir haar eie foute nie en sy het jou nie nodig om dit uit te wys nie. Dit is jou taak om haar deur die rooskleurige bril te sien waardeur sy soms sukkel om haarself te sien. Jy moet haar foute aanvaar (daardie dinge wat saam met al haar perfekte eienskappe van haar die unieke vrou maak wie sy is) en klem lê op haar positiewe eienskappe. Hoe meer jy haar ophef, hoe meer gaan sy jou vertrou en die beste geskenk wat jy haar kan gee, is die wete dat daar ’n getroue man aan haar sy is wat haar altyd veilig sal laat voel.

Die snelweg van kommunikasie…

Oe, ons weet: Julle haat hierdie woord, want elke gesprek oor verhoudings word met “kommunikasie” gepeper. Maar daar is ’n rede hiervoor. Vroue wil praat en mans wil swyg en dít maak kommunikasiestyl dikwels een van die grootste verskille tussen mans en vroue. Vroue glo dat swak kommunikasie ’n verhouding bedreig en statistieke toon dat die Evas reg is. Dit is een van die grootste oorsake van egskeidings en verbreekte verhoudings. Ja, ons weet dat jy ná ’n moeilike dag by die werk eerder net na Riaan Cruywagen wil luister (terwyl die kans goed is dat dit wat hý te sê het jou gemoed waarskynlik net verder gaan demp), maar een moeilike dag, word twee moeilike dae. En voor jy jou oë uitvee, bly jy stil en het jy op ’n dag nie meer ’n idee oor hoe om weer te begin praat nie.

Dít is die nare realiteit van paartjies wat ná jare ontdek hulle het skielik niks meer oor om vir mekaar te sê nie. En onthou, sy het waarskynlik ook ’n moeilike dag by die werk gehad, maar die verskil is – sy wil daaroor praat! So, gun haar dit. Dit maak nie saak wat jy sê nie, maar praat met jou vrou! Dit laat haar spesiaal voel wanneer jy openlik met haar gesels en selfs bereid is om jou weerloosheid te toon. Om oor jou onsekerhede te praat, maak nie van jou ’n swakker man nie – inteendeel. As jy met haar praat, laat dit haar belangrik voel, want sy weet jy vertrou haar genoeg om jou hart teenoor haar oop te maak. En luister. ’n Vrou voel gekoester wanneer sy kan sien jy is regtig geïnteresseerd in wat sy sê sonder om te wonder wat jy volgende gaan sê of watter raad jy gaan uitdeel.

Die snelweg van respek…

Wat beteken respek in jul huwelik? Aretha Franklin vereis dit in haar liedjie R-E-S-P-E-C-T, maar sê ook dat jy moet uitvind wat dit beteken. Eerstens – dat jy haar opinies waardig ag en haar intelligensie op die prys stel. Daar word dikwels gesê dat ’n vrou geseënd is met intuïsie. Eve skryf in haar boek dat die eintlike bedoeling daarmee is dat vroue ’n groot hoeveelheid kreatiwiteit gekombineerd met common sense het. Elke vrou is wys en as jy haar wysheid erken, voel dit vir haar of jy haar respekteer en verstaan.

Sy wil hê jy moet soms na haar opkyk. ’n Slim blondine kan blondine-grappies soos ’n vrou vat, maar soms pluk dit tog iewers aan ’n hartsnaar (en dit is nie ’n mooi klank nie.) ’n Vrou wil nie voel asof sy haarself herhaaldelik moet bewys nie, maar dat jy moet weet sy is nie jou mindere nie. Sy wíl graag onder jou beskerming staan – nie omdat sy aan jou ondergeskik is nie, maar omdat sy vróú is en omdat jy haar graag wíl beskerm.

Jy moet leer hoe om haar vrou te laat voel sonder om meerderwaardig teenoor haar op te tree. As jou vrou ’n uitvoerende direkteur, oorlogskorrespondent of brandbestryder is, moenie haar taaiheid oorskat nie. Sy wil steeds hê jy moet haar vroulikheid erken. Jy mag haar nie verwyt vir haar trane nie, want dit maak haar nie minderwaardig nie, maar ’n spesiale, empatiese wese wat tot alles in staat is waartoe jy in staat is, maar wat tog ook op soveel gebiede van jou verskil – en dit is goed.

Die snelweg van erkenning…

Daar is nie iets soos ’n vrou wat nié besig is nie. As jy wil stry aangesien jou vrou nie ’n salaristrekker is nie, maar ’n voltydse ma, wil ons jou uitdaag om een dag in haar skoene te staan! Enough said. Die meeste vroue het ’n huishouding wat bestuur moet word, kinders wat versorg moet word en die rol van eggenoot om te vervul. Baie van hulle is ook ’n werkende ma/vrou/eggenoot. ’n Vrou is emosioneel beskikbaar vir haar gesin én haar vriendinne. Sy bestee baie ure op haar knieë om vir haar gesin se beskerming te bid en sy doen klein goedjies waarvan jy waarskynlik nie eers altyd bewus is nie (soos om ’n snyplek beter te soen of ’n verjaardaggeskenk vir jou sussie se kind uit te soek).

Behalwe vir die druk om goed te dóén, is daar die druk om goed te lýk – vir jou. So, hier is iets om te onthou wat deur jou hele lewe vir jou baie kan beteken: Dit maak nie saak hoe onafhanklik en emosioneel sterk jou vrou is nie, géén vrou kan gelukkig en vervul voel sonder enige erkenning nie. Sy het nodig dat jy dít wat sy doen, raaksien. Dit beteken nie dat jy haar heeldag moet prys nie, maar wel dat jy haar meer dan as wan ’n kompliment gee, dat jy gereeld vir haar dankie sê en dat jy haar soms liggies agter die lessenaar wegstoot om self die admin te doen. Of om vir haar ’n bad te gaan intap en vir die kinders ’n storie te gaan lees. Doen wat jy kan om haar kragte te herlaai. Om haar emosionele tenk vol te maak, gaan jou ver bring. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel liggaamlike energie ’n vrou wat emosioneel vol is in haar reserwetenk bêre!

Moenie dat hierdie wenke jou afskrik nie. As jy daarna streef om die beste man moontlik vir jou vrou te wees, sal jy voor jy jou oë uitvee, hoor: “Aankoms by bestemming”. ’n “Dankie” is byvoorbeeld nie eens iets waaroor jy regtig hoef te dink nie, dit behoort vanself te kom, mits jy in die eerste plek nooit ophou om dit te sê nie. Jy sal verbaas wees hoeveel van jou eie optrede deur jou vrou se houding weerkaats word. As jou vrou dalk nie die laaste tyd is wie jy graag wil hê sy moet wees nie of as die sekssesies ’n bietjie few and far between raak, gaan terug na die kaart toe en bekyk jou roete met ’n vergrootglas as dit moet. As die tannie van jou interne GPS praat, luister, al maak dit nie sin nie! Sy mag dalk net ’n punt beethê.

 

Geïnspireer deur: The Idiot’s Guide to Pleasing Your Woman, deur Eve Salinger