Kommunikasie bly ’n groot dilemma tussen die Adams en die Evas. Praat jy te min, is jy in die moeilikheid. Sê jy wel wat jy dink, is sy dae later steeds kwaad vir jou! Die geheim is om jou woorde goed te oorweeg en nie altyd te sê presies wat in jou kop opkom nie. Hier is ’n paar riglyne wat kan help om jou uit die dog box te hou.
Jy sit na ’n naelbyt-wedstryd tussen die Bulle en die Sharks en kyk. In halftyd kom sit sy en vra: “Is dit advertensies?” en al wil jy nie “ja” sê nie, kan sy síén dit is, so jy knik maar jou kop. Maar jy weet wat kom. Sy wil praat. En dit gaan gewoonlik met drama gepaard. Want wat as ’n doodonskuldige stelling begin, ontaard in ’n “Wat dink jy?” en ’n tranedal, ’n deur wat toeklap en jy wat vir dae daarna nie ’n happie van haar lekker lyf mag kry nie.
’n Week later weet jy steeds nie wat jy gesê het om haar so te ontstel nie. So, jy verkies om maar eerder stil te bly. Sy begin: “Iets pla my. Toe ek gistermiddag vir Jeanine vra om saam met my te gaan fliek, het sy gesê sy moet die kinders by die netbal gaan haal. Op die ou end het ek toe mos maar my shopping gaan doen en daar sit sy en Sandra toe by House of Coffees!” Stilte. Jy weet sy wag vir jou om iets te sê, maar jy gaan nie ingee nie. Sy: “Sy kon darem eerlik met my gewees het . . .” Jy staan steeds sterk. Maar dan: “Of wat dink jy?” Nou kan jy dit nie meer ontwyk nie. Die advertensiebreuk is verby, maar jy kan haar nie ignoreer nie, want dan is jy éérs in die moeilikheid. “Miskien was sy nie lus vir ’n chick flick nie,” sê jy en hoop die gesprek kom tot ’n einde. Wanneer sy begin praat, hóór jy hoe haar nekhare rys: “Net omdat jý nooit saam met my ’n romantiese fliek wil gaan kyk nie, beteken nie sy wil nie.” Sy wag vir reaksie en jy besluit maar om te sê wat jy regtig dink: “Dalk was sy net nie lus om saam met jóú te fliek nie . . .” Die bom bars. “Nie lus om saam met mý te fliek nie? Wat bedoel jy?” Jy: “Almal hou nie daarvan om te gesels in ’n fliek soos jy nie.” Sy: “O, so dís wat jy eintlik dink. Jy háát dit om saam met my te fliek! Wel, verskoon my as ek net ’n bietjie met jou wil gesels wanneer ons die dag bymekaar is. Maar dit is onmoontlik om jou te kry om met my te praat. Hier is nou ’n tipiese voorbeeld: Ek is ongelukkig en al waarop jou oë vasgenael bly, is die stupid game!” En dít is hoekom jy uit die staanspoor nie wou praat nie.”
Onthou, hoewel jy, as jy jou beste vriend ná drie jaar nie gesien het nie, kan nader stap, sy blad kan skud met ’n “Hey, my maat, maar jou maag is drie keer groter as myne. Ek kan sien die getroude lewe doen jou góéd!” en die gesprek kan voortgaan asof niks gebeur het nie, werk die vroulike spesie nie regtig so nie. Dit is nie asof jou vrou wil hê jy moet vir haar lieg nie, maar sy wil hê jy moet tog ’n bietjie dink oor jou aanbieding van die waarheid. As jy een van daardie ouens is wat gereeld in sulke strikke beland, vermy die volgende sêgoed:
- “Ag komaan, ’n krampie hier en daar is niks!”
Uit die mond van ’n man wat nog nooit in sy lewe ’n dag se menstruasiekrampe of kraampyne gehad het nie? Nog nooit vir ’n keisersnit gewag het om gesond te word terwyl hy ’n pasgeborene moes hanteer en met gebarste tepels ’n baba moes voed nie? Dink ’n slag weer wanneer jy so iets ongevoelig kwytraak. Want, om die waarheid te sê – en as jy nou eerlik met jouself moet wees – jy weet nie waarvan jy praat nie. In plaas daarvan om haar te kritiseer of ’n ruk-jou-reg-aanslag te gebruik wanneer sy met ’n warmwatersak oor haar buik in die bed lê, bly liewer stil en vat vir haar ’n koppie tee of ’n glas wyn! O, en moenie dink jy gaan punte kry wanneer jy sê: “Ek weet hoe jy voel . . . ” nie. Want jy weet nie.
- “Wat is die probleem? Volgende jaar verjaar jy weer?”
Jou onsensitiewe buffel! Dít is al wat sy gaan dink as jy dit vir haar op haar 40ste verjaardag sê. Jou woorde gaan geen insig by haar tuisbring nie, miskien net dié gedagte: “Hoe kon ek ooit gedink het sy kinderlikheid is sexy?” Daar is geen verskoning om jou vrou se verjaardag te vergeet nie! So, stel ’n reminder op jou selfoon. Een vir ’n maand voor die tyd, om jou voor te berei. Een om jou elke week daarna te herinner om ’n oorspronklike geskenk te gaan koop en een om jou elke dag van die laaste week daaraan te herinner om nie te vergeet nie. En as sy in trane is omdat dit die groot 40ste is en sy regtig ongelukkig is oor dié mylpaal, moet haar nie met woorde probeer troos nie. Hierdie is ’n sensitiewe kwessie en die kans dat jy ’n groot flater gaan maak, is baie goed! Probeer eerder haar bui lig deur haar aandag af te lei van die feit dat sy ouer word en haar regtig spesiaal te laat voel.
- “Is jy seker die rok het gekrimp?”
Of enigiets wat daarop dui dat sy gewig opgetel het. Jy vra nooit, ooit vir ’n vrou hoeveel sy weeg nie. Nie eens as julle reeds 20 jaar getroud is nie. En vermy die kwessie van selluliet, want dit is nóg een van ’n vrou se grootste onsekerhede. Een goue reël: As sy ooit vir jou die bekende vraag vra waarop menige man se eerlike antwoord hom al lelik laat struikel het, naamlik: “Lyk my boude dik in die broek?”, dan jok jy. Enigiets van: “Vir my lyk jy altyd pragtig,” of “Ja, maar dit is ’n onvleiende broek,” tot “Nee, maar die ander een lyk beter,” gaan ’n tranedal veroorsaak. Sy hoef nie die waarheid van jou af te hoor nie. Dit is nie wat sy van jou wil hê nie – sy wéét haar boude lyk dik daarin, anders sou sy jou nie gevra het nie. En as haar boude regtig nie sleg daarin lyk nie, vis sy dalk net vir ’n kompliment. So, gee haar een!
- “Vir jou verjaardag het ek vir ons plek bespreek . . .”
. . . by daardie self catering-plek waarvan jy laasjaar gepraat het.” Daardie plek waarvan sy gepraat het toe jy en jou pelle ’n budget break gesoek het? Hmmm. Dit gaan jou in groot moeilikheid bring, want dít is wat sy dink:
1) Selfsorg beteken jy lê voor die televisie en sy sloof haar af in die kombuis of jy staan langs die vuur en draai tjoppies terwyl sy ses bygeregte moet optower.
2) Jy is te suinig om haar ordentlik te bederf.
3) Jy het nie die moeite gedoen om self na ’n wegbreekplek te soek nie.
4) Jy is lus vir die bos en gebruik haar verjaardag as verskoning.
5) Julle sou in elk geval weggaan en nou sê jy dit is haar verjaardaggeskenk sodat jy nie verder aan ’n geskenk-idee hoef te dink nie.
Kan jy sien hoekom sê ons jy gaan ’n eilandvakansie moet bespreek om op te maak vir dié foutjie? Een van daardie klassieke pennywise, pound foolish scenario’s . . .
- “Nou klink jy net soos jou ma”
Vroue is dikwels baie krities oor hul ma’s en glo hulle weet beter. Sy het dikwels na haar ma gekyk en gedink: “Ek sou nooit my pa se pantoffels so agter hom aangedra het as ek sý was nie,” of “Se vóét. As ék eendag ’n ma is, sal hulle eet wat ek hulle gee om te eet!” of “Mag ek nooit in my lewe so vir my eie dogter preek nie”. So, vir lank in haar lewe, probeer ’n dogter alles wat haar ma gedoen het, beter doen en die oomblik wat jy vir haar sê: “Nou klink jy nes jou ma!” is dit vir haar ’n klap in die gesig. Eerstens omdat sy nie noodwendig in daardie stadium van haar lewe met haar ma geassosieer wil word nie, tweedens omdat sy weet jy is nie erg oor haar ma nie en derdens omdat haar ma, in haar oë, oud is.
- “Jy het nie nóg ’n paar skoene nodig nie!”
O, jy wíl dit nie sê nie. Want dit is nie ’n rumour dat vroue te veel skoene het nie, dit is ’n werklikheid. En dit gaan nie oor nodig nie. As jy daardie argument wil gebruik, gaan jy in baie opsigte tweede kom. Soos wanneer sy jou vra of jy nóg ’n kamera nodig het, of ’n klein fortuin se jagtoerusting nodig het terwyl julle in een middag se tyd ’n jaar se vleis vir minder as dit by die slaghuis kan gaan koop. So, los ’n vrou en haar skoene. As sy dertien paar rooi stiletto’s in haar kas het en nog ’n paar sien wat sy net voel sy móét hê, gaan sy dit vir haar koop en dit maak nie saak wat jy daarvan sê of dink nie. Wees dankbaar dat sy graag wíl stylvol wees en koop eerder vir haar ’n ragfyn korset en kousbande om by die veertiende paar te pas.
- “Goeie nuus! My ma is oor ’n halfuur hier om jou te kom help.”
Siestog. Baie mans het al onverdiend in hierdie strik getrap. Sy is ongelukkig en kla omdat sy nie voel sy kan jul tweejarige én baba van vier maande hanteer nie. Boonop lyk die huis soos ’n varkhok. (Eintlik is dit ’n skimp dat jy bietjie moet help). Jy besluit om jou ma se hulp in te roep. Groot fout! In die eerste plek laat val jy nie die bom om jou vrou ’n halfuur te waarsku voor haar skoonma by die huis aankom nie. Veral nie as jou kind se Lego-blokkies oor die vloer gestrooi lê en gisteraand se skottelgoed nog in die opwasbak nie. In die tweede plek: As jy dit sê, beteken dit jý dink nie sy cope nie. Sy mag dit sê, jy mag nie. As sy vrá vir hulp is dit ’n een ding, maar as jy áánneem sy kom nie reg nie, is dit ’n klap in die gesig. In die derde plek – kry énigiemand om te kom help behalwe jou ma! Geen vrou wil voor haar skoonma lyk asof sy nie regkom nie. Jou ma het, ná alles, vier kinders sonder enige hulp van jou pa grootgekry en jou vrou is seker in dáárdie vrou se huis was geen haar nog ooit uit sy plek nie. Nou wil jy vir Supermom daar aanbring om haar te help terwyl jy gaan gholf speel? Jy het duidelik nie mooi hieroor gedink nie . . .
- “Wat het jy heeldag gemaak?”
Wil jy regtig ’n lysie hê? Want jy kan baie seker wees vroulief sal enige dag met jou plekke ruil wanneer sy op kraamverlof is en jy rustig sit en Solitaire speel tussen middagete saam met potensiële kliënte. So, terwyl jy jou assistent vra vir toast en tee, dink aan haar wat jul ses weke oue baba burp terwyl sy sukkel om jul kleuter te oorreed sy het hom ewe lief, ’n doek ruil met een hand terwyl sy met die ander hand laasgenoemde se middagete van die vloer probeer afvee en die regte hoeveelheid formule af te meet nadat sy drie nagte in ’n ry nie geslaap het nie. En moet dan asseblief nie vra hoekom jy geblikte spaghetti vir aandete kry nie . . .
- “Wat het jy met jou hare gedoen?”
Gewoonlik gaan dit met ’n frons en ’n gesigsuitdrukking gepaard wat net sowel kon vra: “Wat wás hierdie groen goed in die yskas voordag dit begin hare groei het?” En dít nadat sy vier ure lank met foelie op ’n brandende kopvel gesit het. Nadat sy die oorywerige stilis, wat haar vertel het dat sy netsowel haar hare met skottelgoedwasseep kan was voordat sy haar tuisprodukte gebruik, se verkoopsfoefies moes teëwerk. Nadat sy sielsongelukkig daar uitgestap het omdat haar hare drie skakerings ligter is as wat sy dit wou gehad het en eerder soos Courtney Love as soos Courtney Cox s’n lyk. En nadat sy haarself al die pad huis toe probeer oorreed het dat dit weer sal uitgroei, die kleur sal uitwas en sy eendag tevrede by ’n haarkapper sál uitstap. Moenie vra wat sy met haar hare gedoen het nie. Daardie vraag alleen spreek boekdele, want sy weet jy stel nie regtig belang nie. Sê net bloot: “Jou hare lyk pragtig”. En volstaan daarby.
- “Jou beste vriendin is . . .”
“. . . ’n feeks/ ’n nimf’/ ’n heks / ’n seksgodin.” Net soos wat jy dit haat wanneer sy haar uitspreek oor jou beste pel se burp-gewoontes of onvermoë om groot te word, so hou sy nie daarvan as jy ’n mondvol te sê het oor haar beste vriendin se katterigheid nie. As daar iets is wat jou van een van haar vriendinne pla, hou dit vir jouself. Sy gáán haar vriendin verdedig en jy gaan tweede kom. En moet asseblief ook nie die teenoorgestelde doen nie. As jy ooit gedink het sy gaan dit waardeer as jy uitwei oor hoe goed Lee-Ann Sondag by die braai gelyk het (jy praat natuurlik glad nie van haar bruingebrande borste wat beslis effens groter as gewoonlik vertoon nie), maak jy ’n fout. ’n Antwoord soos: “O ja, sy lyk só sexy. Daai bene, daai borste. Sy moet fantasties lyk sonder klere!” bestaan net in jou drome, Broer. Dit is dán wanneer jou dierbare vroutjie so gou soos nou in ’n feeks sal verander en iets sal kwytraak soos: “Ja, as ’n toppie wat eerder ’n Barbiepop behoort te pas in jou smaak val, lyk sy waarskynlik fantasties.” Daar is niks mee fout om te sê: “Sy het gewig verloor, nê?” nie. Maar bly weg van aanmerkings soos: “Wow, ek het nooit besef Lee-Ann het sulke sexy bene nie . . .”
Dit bly maar ’n netelige kwessie! Elke vrou verskil en hoewel daar sekere dinge is waaroor die meeste Evas dieselfde voel (soos al bogenoemde), is daar waarskynlik bykomende teer punte wat jy baie versigtig moet benader. Die huwelik is ook maar ’n leerskool. Waar jong getroude mans baie maklik in die strik trap, het dié wat langer getroud is al deur trial en error geleer wanneer en hoe om wat te sê! Die geheim is om jou vrou goed te leer ken. Snuffel al haar onsekerhede uit (moet dit nooit téén haar gebruik nie) en weet dat dít die areas is waar jy die meeste komplimente moet gee en die versigtigste moet wees wanneer dit by opmerkings kom. En as jy soos ’n olifant déúr dun ys getrap het, maak reg – met woorde, as jy dit sou waag!
Wat jy wel moet sê . . .
- “Hoe was jou dag?” – Of enigiets wat daarop dui dat jy regtig belangstel in haar as vrou en nie net in haar bra-gespe nie.
- “Hoe gaan dit met jou broer?” – Of enigiets wat daarop dui dat jy regtig bekommerd is oor dit wat vir haar belangrik is.
- “Ek wil jou só graag bietjie Kalkbaai toe vat hierdie Desember” – Of enigiets wat daarop dui dat jy haar graag wil bederf.
- “Wie is daai ou wat by jou tafel gestaan het by die werk?” – Of enigiets wat daarop dui dat jy tog effens jaloers is (maar sê dit op ’n ligte trant, want daar is niks so onaantreklik soos ’n oorbesitlike, onseker man nie).
- “Jy lyk fantasties” – Of enigiets wat haar spesiaal sal laat voel. Volgens die komediant Chris Rock het vroue drie dinge nodig: Kos, water en komplimente! Chris is ’n wyse, wyse man.
*Geïnspireer deur: ezinearticles.com en askmen.com