Jy en jou eks het besluit dat julle nie sonder mekaar kan lewe nie en gaan – vir die tweede keer – die knoop deurhaak. Gaan dit dié keer werk? Of gaan julle bloot dieselfde foute herhaal?

Promosie

“Ek stamp nie my kop twee keer nie,” is die uitgangspunt wat sommige mense oor dié saak het. As daar die eerste keer probleme was wat nie oorkom kon word nie, hoekom sal dit dié keer werk? Aanhangers van die debat se ander kant voel weer dat hulle ’n tweede keer heelwat wyser is en dat die probleem wat hulle vantevore uitmekaar gedryf het, nou nie meer ter sprake is nie (die kinders is ouer, finansiële druk is verlig of een van die partye see verslawing is byvoorbeeld iets van die verlede). INTIEM het albei kante van dié debat ondersoek.

JA: Dit kan beslis die tweede keer beter werk!

Wilma en haar man, Charles, is al twee keer getroud en twee keer geskei, maar hulle klou stééds aan mekaar vas. Dié bittereinder-paartjie was aanvanklik 13 jaar getroud toe hulle vir die eerste keer geskei is. “Ons kan net nie wegkom van mekaar se liefde nie. Daar is nie ander maatjies vir ons nie. Ons is baie lief vir mekaar en getrou aan mekaar,” vertel Wilma. Hulle het mekaar nie gelos vir iemand anders nie. Hy het ook haar kinders uit ’n vorige verhouding soos sy eie grootgemaak. Wilma en Charles is nog nie weer getroud nie, maar glo dat die Here alles kan regmaak. Dié twee kan getuig van liefde en saamstaan deur dik en dun.

Promosie

’n Gedeelde geskiedenis tussen ’n paartjie is kragtig en dit dra dikwels by tot paartjies se besluit om weer te probeer. Op dailymail.co.uk sê die verhoudingsberader Denise Knowles dat weer trou ’n goeie idee kan wees as die individue gedurende hul tyd weg van mekaar af elemente van hul gedrag wat probleme veroorsaak het, verander het. Daar moet ook hernude toewyding wees om seker te maak dinge is dié keer anders. “Dit verg vasberade insette van jou en dit is moeilik omdat dit so maklik is om terug te val in ou gewoontes met iemand wat jy so goed ken,” sê sy.

Sommige paartjies kom agter dat hulle, ná ’n tyd weg van mekaar af, helderder op mekaar kan fokus en die ander persoon sien vir wie hy of sy regtig is. Wanneer hulle agtergekom het die gras is nie noodwendig groener aan die ander kant van die draad nie en dat hulle waarlik hul maat nodig het, tree nuutgevonde waardering vir die ander een in.

Die groot vraag is: Waarom is julle in die eerste plek geskei? Dr Irene Strydom, ’n sielkundige van Stellenbosch, sê daar is ’n legio redes waarom paartjies kan besluit om te skei. Die proses gaan gepaard met intense emosionele ervarings en kan uiters traumaties wees. “Indien die paartjie egter deur al hul emosionele prosesse gewerk het en agterkom dat hulle mekaar mis of nie sonder mekaar oor die weg kan kom nie, behoort daar weer ’n fase (wat ‘Fase 1: Ploegwerk’ genoem word) te wees waar die paartjie weer soos aan die begin op vooraf afgespreekte afsprake gaan. Dit is tydens hierdie belangrike fase wat die ploegwerk vir die nuwe verhouding moet plaasvind. Die ou verhouding is vir altyd verby, maar daar word nou gesels oor alles wat nie voorheen bespreek is of in die verhouding hanteer is nie.”

Irene verduidelik stellings wat in dié verband kan help, is onder meer die volgende:

  • Jy is vir my onweerstaanbaar, want . . .
  • Ek het verlang na . . .
  • Ek wil graag saam met jou wees, omdat . . .
  • Ek het vrede gemaak met . . .

Die tweede fase wat dan volg, is ’n voorraadopname oor wat die eerste keer in die verhouding gebeur het. Hier kan die volgende stellings nuttig wees:

  • Ek het seergekry as ons . . .
  • Ek het nie opgemerk dat jy . . .
  • Ek het nagelaat om . . .
  • Ek stel nie meer belang in ’n magstryd nie, want . . .

Volgens Irene is die voordeel dat die paartjie mekaar nou baie goed ken en dadelik sal weet as die tweede saamwees nie vrugte sal dra nie. Ná die voorraadopname tree die derde fase, naamlik die onderhoudsfase, in. “Om die nuwe verhouding te onderhou, verklaar albei hul verbintenis tot ’n aanhoudende proses van gesels, terugskouing en uitklaar van dit wat kan opduik. Alles word nou positief geformuleer, met die fokus op ’n intieme verbintenis waarin elke persoon spontaan kan wees. Daar is ’n positiewe interafhanklikheid van mekaar met die klem op gesonde interaksie en die bevrediging van jou maat se emosionele behoeftes,” verduidelik Irene.

NEE: Hoekom sal die tweede keer beter werk as die eerste keer?

Claudine* en Pieter* was 13 jaar getroud toe hulle vir die eerste keer aangeklop het vir huweliksterapie. Ná die geboorte van hulle tweede kind ’n paar jaar vantevore het die voortdurende verantwoordelikheid van ’n gesin en werk sy tol begin eis. Hulle het stadig maar seker begin wegdryf van mekaar en die verhouding het daaronder gely. Een ding het gelei tot ’n ander en Pieter het homself skuldig gemaak aan ’n affair met ’n kollega. Claudine het toevallig een aand sy selfoon geleen en op ’n reeks SMS-boodskappe tussen hulle afgekom.

Sy was platgeslaan en hulle is kort daarna geskei. Pieter het egter sy keuse berou en het die affair stopgesit. Claudine het hom ’n tweede kans gegee. ’n Jaar en ’n half later is hulle wéér geskei – dié keer was die skok op die gesinstruktuur selfs groter en veral die kinders was erg getraumatiseerd.

“Paartjies wat besluit om uit mekaar te gaan of te skei, hervat dikwels die verhouding om die verkeerde redes – ter wille van die kinders, finansiële sekuriteit, ’n gemene vriendekring of bloot omdat hulle gewoond geraak het aan ’n sekere roetine saam,” verduidelik Carien du Toit, ’n voorligting-sielkundige in ’n privaat praktyk in die Pietermaritzburg-gebied, wat spesialiseer in verhoudingsterapie. “Paartjies onderskat die gewigtigheid van hierdie pad en besluit om harder te probeer, maar kom nie werklik agter die kap van die byl van hul probleme nie. Kort voor lank val hulle weer in dieselfde negatiewe patroon en steek die ou koeie maar net weer kop uit.”

Carien waarsku dat, as die redes vir die destruktiewe dinamika in die huwelik nie doeltreffend aangespreek en opgelos word nie, die skadelike crescendo’s dikwels merkwaardig kan vererger as ’n paartjie weer hul verhouding hervat. “Die druk om die verhouding te laat werk, is byna kunsmatig en geforseerd. In elkeen se onderskeie desperaatheid plaas hulle dan die ánder maat se ‘foute’ onder die vergrootglas en sien nie hul eie blinde kolle raak nie,” verduidelik Carien.

“Natuurlik sal die ou patroon van die verhouding herhaal omdat hulle nog nie geleer het hoe om anders op te tree, wat hulle eie projeksies is en hoe om werklik na hul maat te luister nie. ’n Mens kan nie ’n ander eindresultaat verwag met dieselfde gedrag nie.”

Nog ’n rede hoekom ’n huwelik vir ’n tweede keer vou, is omdat een of beide maats nie bereid is om uitgange (exits) toe te maak nie. Dit gebeur ongelukkig dat die huweliksverhouding vir een maat ’n laer prioriteit is as vir die ander. Daardie maat spandeer dan sy of haar energie, tyd en hulpbronne buite die huwelik – en dikwels ten koste daarvan. “Enige aktiwiteit, stokperdjie of aksie kan ’n exit uit die huwelik wees, dit hang af van die maat se redes en bedoeling. Om ná kantoorure nog te werk, byvoorbeeld, is nie per se ’n manier om tyd saam met jou maat te ontduik nie. Maar as jy eerder werk as om saans huis toe te gaan omdat jy jou maat vermy, of omdat jou werk vir jou belangriker geword het as interaksie met jou wederhelf, moet die gevaarligte begin flikker.”

Daar is ook meer voor-die-hand-liggende uitgange: Affairs, pornografie, aanlyn-flirtasies en ontkleedansklubs. “Hierdie exits is seksueel van aard, en om seksueel te wees met iemand anders as jou huweliksmaat is ’n definitiewe no-no,” verduidelik Carien. Die probleem ontstaan as een maat sy of haar brood aan albei kante gebotter wil hê. “Jy kan nie ’n gesonde huwelik koester én die kat in die donker knyp nie. Jy spoeg op heilige grond. Seksuele exits is veral ’n verloëning.”

Somtyds is dit beter dat ’n paartjie eerder uitmekaar gaan. “Dit gebeur in uitsonderlike gevalle, maar soms is ’n egskeiding die beste oplossing,” sê Carien versigtig. Voorbeelde van sulke situasies sluit in emosionele, fisiese of seksuele misbruik, asook as gevolg van sekere persoonlikheidsversteuring, soos narsistiese persoonlikheidsversteuring en grenslyn-persoonlikheidsversteuring(“borderline personality disorder”). “Die dinamika van die huwelik benodig twee mense wat eienaarskap van hul aandeel in die verbrokkeling van die verhouding sal aanvaar.”

As ’n paartjie egter hul huweliksbootjie vir ’n tweede keer in die golwe instuur, meen Carien die hulp van ’n terapeut is onontbeerlik. “Dit is baie moeilik om gewigtige sake op te los sonder ingryping van buite, want huweliksmaats highlight mekaar se issues en dit lei tot uiters verdedigende gedrag. ’n Terapeut help elkeen om hul onderskeie rolle in die verhouding se dinamika te sien en eienaarskap te neem daarvan.”

RAAD EN WENKE: As julle geskei is en oorweeg om weer te trou . . .

  • Beide van julle moet verstaan wat in die eerste huwelik gebeur het. Hoekom is julle geskei en wat is nodig vir julle albei om anders te doen sodat dit dié keer werk?
  • Maak seker jou redes is reg. Het jy gehoop om op jou huidige maat te “verbeter” en agtergekom daar is nie soveel opsies daar buite nie? Voel jy alleen sonder jou maat? Smag jy weer na daardie “wittebroodsgevoel”? Dan moet die rooi ligte flikker!
  • Moenie dink dinge gaan makliker wees omdat julle vantevore getroud was nie, want die kans is goed dat julle albei nou ander mense is as toe julle mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Dit is nie ’n “terugdraai van die horlosie” nie, maar ’n heel nuwe verhouding.
  • Wees voorbereid op mense se reaksie. Jou kinders mag dalk baie kwaad en teleurgesteld wees omdat húlle onder jul eerste huwelik of egskeiding gely het, en jul vriende kan heel waarskynlik skepties wees oor jul besluit.
  • Gebruik jul tyd. Dit is nie nou die regte ding om saam in te trek nie, om vriende en familie dadelik te vertel of om voorhuwelikse seks te hê nie. Neem jul tyd om hierdie verhouding baie stadig aan te pak en moet geen dramatiese besluite neem nie.
  • Oorweeg hoe dit jul lewens in dié stadium gaan beïnvloed. Hoe het die probleem verander sedert julle die eerste keer geskei is, hoe het jul finansiële status en rolverdeling verander?
  • Oorweeg voorhuwelikse berading. Voor julle weer in die huwelik tree, is dit ’n goeie idee om die hulp van ’n terapeut in te roep, wat as buitestaander perspektief op jul verhouding kan bied en julle kan help om vas te stel of ’n huwelik dié keer gaan werk.