Ek vind dit op die oomblik baie moeilik. Daar is ’n ou wat saam met my man werk. Hy gaan aan asof hy my man se vrou by die werk is en dit laat my ongemaklik voel. My man het geen privaatheid meer nie en ons kan mekaar nie eers deur die dag bel nie, want hy luister na alles waaroor ons praat. Hy wil die hele tyd saam met my man wees – ons baklei baie oor die ou. Is ek verkeerd om daaroor kwaad te word? Hoe moet ek dit hanteer? Ek wil graag my man vertrou. Hy is ongelukkig een van daardie soort mense wat maklik beïnvloedbaar is. By sy vorige werk was hy bevriend met ’n ou wat geen respek vir sy meisie gehad het nie en my man het al ons persoonlike dinge met dié ou bespreek. Ons was in daardie tyd nog nie getroud nie. My man het nagskof gewerk en ek het altyd gewag dat hy huis toe kom. Die een aand het hy nie huis toe gekom nie en sy foon was af. Toe ek hom later bel en hy antwoord, het ek ’n ander vrou se stem in die agtergrond gehoor. Die ou saam met wie hy nou werk, “chat” ander vroue op terwyl hy getroud is met twee kinders. My man het dit vir my vertel. Ek dink ek is net bang wat gebeur het, gebeur dalk weer. My man sê hulle is nie vriende nie. – Brief verkort
Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:
Dit lyk vir ons of jy ’n eggenoot het met ’n goeie hart, wat nie maklik grense trek nie en ook nie maklik “nee” sê nie. Dus ’n man met ’n hart vir mense en een wat die beste van en oor mense glo. Dit is moeilik vir hulle om nie betrokke te raak nie en hulle is ook mense wat graag luister na ander mense se probleme. Hulle hoofdoel is om ander te help, want dan voel hulle ook dat hulle iets vir die samelewing beteken en dit gee vir hulle baie selfwaarde. Onthou nou net dat hierdie ’n afleiding van ons is en dat dit geweldig veralgemenend is.
As jy egter hiermee kan identifiseer, moet jy dalk ’n afspraak met jou man maak waar jy hom vra om te luister na wat jy die afgelope tyd raakgesien het. Moet hom nie oor sy betrokkenheid by ander aanvat nie, want hy sal vir jou baie goeie redes kan gee oor hoekom hy dit doen. Almal baie sinvolle redes. Dui egter aan dat die probleem is dat jy in die proses uitgesluit is en die ervaring het dat hy twee lewens lei. Jy is by die een betrokke, maar nie by die ander nie. Jou rol as sy eggenoot is om hom te help beskerm en jy ervaar dat mense dalk sy goeie hart kan misbruik. Dit gaan op die ou end vir hom skade berokken, en jy het hom te lief om toe te laat dat ander mense sy goedheid en wysheid só misbruik. Verduidelik vir hom dat as jy só uitgesluit is, begin jy aan die vertroue wat tussen julle is twyfel en dan is jy bang dat daar ’n wig tussen jou en hom kan ontstaan waar ander mense verwydering tussen julle bring.
Die feit dat hy julle persoonlike sake met ander deel, is nie reg nie. Ons dink hy doen dit om vir ander mense te wys dat julle ook maar met dinge sukkel en dat hulle probleme dalk nie so groot is soos wat hulle dit sien nie. Dit bly egter belangrik dat julle as ’n paartjie moet besluit wat julle met ander wil deel en wat nie. Dit kan dalk ook die rede wees hoekom hy na die klub toe is saam met die man van sy werk, sodat hy die man beter kan verstaan en ook sodat die man meer vertroue in hom kan hê. Hierdie stappe moet egter nooit in die geheim plaasvind nie en jy moet hom ten alle tye kan vertrou met sy woord.
Vra hom om dus die dinge met jou te deel waarmee hy by ander betrokke is. Dalk kan jy hom help raad gee en hoef hy nie te voel dat hy alleen staan in die hulp aan ander nie.
Dit bly egter uiters belangrik dat hy en julle grense vir sy betrokkenheid by ander sal moet trek. As dit nie gebeur nie, gaan julle voel dat julle al verder uit mekaar uit dryf.