Jy is besig om ’n diep gesprek met jou maat te voer . . . en die volgende oomblik begin hy jou kielie! Wat de . . .? Onmiddellik is jy kwaad, want jy dink hy is onsensitief. Eintlik is julle net verskillende tipe mense, en as julle dit weet, kan julle julself baie rusies spaar!
Deur Gustav en Elna Muller
As twee mense hulle konneksie met mekaar wil behou, is dit belangrik dat hulle weet watter tipe mense hulle onderskeidelik is. Sodra elkeen weet watter tipe mens die ander een is, kan hulle mekaar op die regte manier bederf en sodoende hul konneksie makliker behou. Hierdie evaluasie kan jou help om te bepaal of jy ’n liefdesmens, ’n pretmens of ’n geselsmens is.
Antwoord elkeen van die volgende vrae met ʼn 0, 1, 2, 3 of 4.
0 = glad nie belangrik nie, 1 = effens belangrik, 2 = gemiddeld, 3 = baie belangrik, 4 = uiters belangrik.
Hoe belangrik is dit vir jou . . .
- Dat jou maat vir jou lief bly, al maak jy foute?
- Dat julle saam pret het?
- Om lekker met jou maat te kan gesels oor iets wat vir jou belangrik is?
- Dat jou maat belangrike sake opsy skuif as hy/sy sien dat jy liefde nodig het?
- Dat jou maat bereid is om iets wat vir jou opwindend is saam met jou te beleef?
- Dat julle lekker gesels, al het julle verskillende sienings?
- Dat jou maat klein dingetjies doen om julle liefdesband sterk te maak?
- Dat julle verskille nie die vreugde in julle verhouding demp nie?
- Dat jou maat opreg in jou belangstel en jou hart hoor?
- Dat julle mekaar se liefdesbehoeftes aanhou ontdek en bevredig?
- Dat julle saam lag oor iets?
- Dat jou maat spesiaal tyd maak om te hoor wat in jou lewe/hart aangaan?
- Dat jou maat jou wys dat hy/sy jou waardeer?
- Dat julle soms iets nuut/anders/laf doen?
- Dat jou maat jou sienings oor sake respekteer?
- Dat jou maat liefde/begrip/ondersteuning op die regte manier vir jou gee?
- Dat jou maat jou geniet?
- Dat jou maat jou probeer verstaan eerder as om homself/haarself te verdedig of te regverdig?
INTERPRETASIE
Tel vrae 1, 4, 7, 10, 13 en 16 se punte bymekaar vir ʼn totaal. A = ____
Tel vrae 2, 5, 8, 11, 14 en 17 se punte bymekaar vir ʼn totaal. B = ____
Tel vrae 3, 6, 9, 12, 15 en 18 se punte bymekaar vir ʼn totaal. C = ____
Jou grootste totaal is ʼn aanduiding van die tipe persoon wat jy is.
A: Liefdesmens, B: Pretmens, C: Geselsmens.
PLAN VAN AKSIE
Gelukkige paartjies maak ’n prioriteit daarvan om deurlopend bewus te wees van die tipe mens wat elkeen is. Met hierdie wete doen hulle moeite om mekaar op die regte maniere te bederf sodat hulle konneksie sterk bly.
’n Geselsmens wil graag deur sy/haar maat bederf word met gereelde geselsies – dan voel hierdie mens dat daar ’n sterk konneksie is.
- Maak een keer ’n afspraak vir ’n koffiekuier op ’n plek weg van die huis waar julle oor die afgelope week kan gesels.
- Maak tyd om mekaar teen die einde van die dag te vra hoe die ander een se dag was.
- Vra jou maat om saam met jou te bad of bad saam met jou maat, en gebruik dit vir geselstyd.
’n Pretmens wil graag deur sy/haar maat bederf word met gereelde pretaktiwiteite – dan voel hierdie mens dat daar ’n sterk konneksie is.
- Doen iets laf, soos julle gedoen het toe julle kinders was. Gaan ysskaats, eet ’n roomys of gaan huur fietse!
- Neem ’n komedie uit en na-aap die akteurs om jou maat te laat lag!
- Verras jou maat met enigiets onder die son!
’n Liefdesmens wil graag deur sy/haar maat bederf word met gereelde liefdesgebare – dan voel hierdie mens dat daar ’n sterk konneksie is.
- Neem ’n taak van jou maat se skouers af deur dit self te doen.
- Stuur ’n mooi SMS werk toe waarin jy jou maat vertel hoeveel jy hom/haar waardeer.
- Dra ’n mooi liedjie aan jou maat op, oor jul gunsteling radiostasie.
Bespreek nou die volgende vrae om julle plan van aksie ’n tree verder te vat:
- Hoe sien jy jou resultaat?
- Noem iets spesifiek in jou resultaat wat vir jou baie spesiaal sal wees.
- Hoe gereeld kan jou maat jou op hierdie manier bederf?
Registreer gerus vir die e-kursusse op Gustav en Elna Muller van Beter Verhoudings se webtuiste by www.beterverhoudings.co.za, ontvang dit per epos en werk op jou eie tyd daardeur.
©Kopiereg: Gustav en Elna Muller van Keys 4 Marriage en Beter Verhoudings.