Jy sit met jou hande in jou hare elke keer wanneer Valentynsdag of jul herdenking naderkruip, want dit wil voorkom of jy nie ’n romantiese haar op jou kop het nie. Boonop stel Vroulief die standaard onbereikbaar hoog – wat nou?

Onthou jy dié dae toe jy mixed tapes vir jou cherrie gemaak het? Toe jy nie skaam was om blomme uit die koshuisvader se tuin te gaan steel en vir haar voor haar kamervenster te serenade nie? Miskien onthou jy dit, maar jy weet ook dat dit uit die verre verlede dateer en jy het nie ’n idee wie die ou was wat só opgesweep deur romanse kon raak nie!

Wel, iewers diep binne-in jou – agter ’n bierpens en ’n Bloubul-pet skuil daardie man nog steeds. Jy moet hom net gaan terugroep en hom vra om jou aan die definisie van romanse te herinner,want jy het dit dalk vergeet, maar dit beteken nie dat jy nie steeds Vroulief se voete onder haar kan uitslaan nie! Terwyl jy sukkel om die ‘ander ou’ wakker te kry, is hier solank vier afspraak-idees en ’n paar oulike en romantiese wenke wat jou vroutjie sal laat swymel …

Afspraak-idee nommer 1

Moeilikheidsgraad: MAKLIK

Neem Vroulief vir middagete uit. Dit maak nie saak wat sy sê en waar sy werk nie, elke vrou is gek oor ’n lekker middagete saam met haar beste vriend. Dit sal vir haar kosbaar wees om te weet dat jy belangrike tyd uit jou dag neem om dit saam met haar deur te bring. Dit klink doodeenvoudig, maar neem jou gesin en jou werksomstandighede in ag, sodat jy vooruit kan beplan. Moet egter nie by haar kantoor inwals as sy teen ’n spertyd werk nie. As jy nie seker is watter tye vir haar geleë is nie, bespreek dit eerder vooraf met haar en vind uit wanneer dit haar sal pas.

Voorbereiding – só doen jy dit!

  • Kry die datum reg. Maak seker dat jy haar in ag neem wat die reëlings betref. Jy kan dalk deur haar dagboek blaai, of jou planne met haar werkgewer bespreek.
  • As sy by die huis is en na die kinders moet omsien, reël ’n baba-oppasser.
  • Kies die regte plek. Dit moenie só besig wees dat daar nie ’n romantiese atmosfeer kan heers nie, maar dit hoef ook nie ’n vyfsterrestaurant te wees wat haar ongemaklik laat voel nie.
  • Besluit of jy haar gaan oplaai en of jy haar daar wil ontmoet. As jy op laasgenoemde besluit, moenie dat sy vir jou wag nie!
  • Bring ’n rooi roos of ’n bos van haar gunstelingblomme saam.

Afspraakidee nommer 2

Moeilikheidsgraad: MEDIUM

Herleef die tyd toe julle uitgegaan het en slegs vriende was. Wat het julle gedoen? Saam tafeltennis gespeel? In antieke winkeltjies rondgesnuffel? Tyd in boekwinkels deurgebring? Beplan nou ’n afspraak om een van hierdie aktiwiteite te herleef – iets wat julle as vriende geniet het om saam te doen. Sy sal baie beïndruk wees dat jy hierdie afsprake onthou en die vriendskap wil herroep.

Voorbereiding – só doen jy dit!

  • Bepaal ’n datum en reël ’n baba-oppasser indien nodig.
  • Besluit watter tipe afspraak julle wil hê en watter beplanning nodig is. Kyk na die oop- en toemaaktye van die winkels of galerye wat jy beplan om te besoek, of bespreek die tennisbaan indien nodig …
  • Vertel jou vrou wat jy beplan en hoekom jy dit doen. Omdat daar soveel moontlikhede vir hierdie afspraak is, moet sy weet wat jy beplan, sodat sy dienooreenkomstig kan aantrek. Sy sal heeldag na hierdie afspraak uitsien en die herinneringe aan daardie vroeë dae saam met jou koester.
  • Dit hang af wat die afspraak behels, maar maak ook planne om daarna te gaan uiteet, en onthou om plek te bespreek.

Afspraakidee nommer 3

Moeilikheidsgraad: MEDIUM

Het Vroulief ’n stokperdjie waaroor sy gek is? Miskien is sy ’n kranige scrapbooker, of dalk hou sy van juwele maak. Geniet sy dit om in die tuin te werk? Vind uit wat haar stokperdjie is en raak saam met haar daarby betrokke. Bestee ’n middag saam met haar om alles daarvan te leer. Vra haar om ’n boek aan te beveel wat sy onlangs gelees het, lees dit self en bespreek dit daarna met haar. Help haar plantjies plant.

Miskien het sy nie regtig ’n stokperdjie nie, maar begeer sy die tyd om so iets aan te pak. Gesels met haar oor iets wat sy graag sou wou doen. Stel sy belang in fotografie? Baldanse? Hier is ’n geleentheid om iets saam met haar te doen. Dit is dalk ’n langtermynbelegging, maar jul huwelik is ook en julle het die wêreld se tyd.

Voorbereiding:

  • Gesels met Vroulief oor haar gunsteling dinge. As sy ’n spesifieke stokperdjie het, sê vir haar dat jy dit vir ’n dag lank saam met haar wil beoefen. Wees dan gereed om te leer! Onthou dat jou aandag nie mag afdwaal nie en jy mag ook nie gou verveeld raak nie! Fokus op jou vrou en wat jy van haar kan leer.
  • As sy nie ’n stokperdjie het nie, gesels met haar oor waarin sy belangstel. Soek saam met haar na iemand wat klasse daarin aanbied en koop vir haar wat sy nodig het, byvoorbeeld ’n boek vir beginners of ’n gereedskapstelletjie vir juwele maak.
  • Bepaal ’n datum waarop jy haar met haar stokperdjie gaan help of waarop die klas sal geskied wat julle saam kan bywoon. Reël ’n baba-oppasser en sorg dat julle alles het wat julle vir die klas nodig het.

Afspraakidee nommer 4

Moeilikheidsgraad: MOEILIK

Dit is soms nodig om op die myle wat julle saam in jul huwelik gestap het, en die bakens wat julle bereik het, te fokus. Dit is ’n tyd waarin julle die lewe moet bespreek – die sonskyndae en die onweer. Hierdie bespreking moet elke jaar, of elke paar jaar plaasvind, want dit voorsien aan ’n paartjie tyd om te herkonnekteer, te reflekteer, te vier, te herevalueer en jul vriendskap by jul huidige omstandighede aan te pas.

Vir hierdie afspraak moet jy ’n bakentydperk vir Vroulief skep. Skeduleer ’n oornagwegbreek, of ’n naweek weg. Gaan ver genoeg van die huis af sodat dit amper soos ’n vakansie voel. Hou die bestemming as ’n verrassing vir haar. ’n Lekker bed-en-ontbytplek werk altyd goed. Soek in reisgidse, tydskrifte of op die internet en bespreek vroegtydig. Sorg dat julle vroeg genoeg op ’n Vrydag vertrek, sodat julle die aand tyd vir lekker gesels het. Dit moet ’n naweek wees waarin julle herinneringe skep. Koop by oulike winkeltjies, probeer ’n nuwe kossoort wat julle nog nooit geëet het nie. Bou herinneringe.

Voorbereiding:

  • Kry ’n naweek waar julle minstens ’n Vrydagaand en ’n Saterdagaand kan wegbreek. Die reël is dat niks hierdie afspraak in die wiele moet ry nie, behalwe onvoorsiene familiekrisisse.
  • As julle kinders het, sal dit nodig wees om ’n oornagbabaoppasser te reël. Die kinders kan dalk by Ouma en Oupa bly, of as hulle groot genoeg is, kan hulle by vriende oorslaap.
  • Sê vir Vroutjie sy moet ’n oornagtassie pak. Jy kan geheimsinnig oor die bestemming wees, maar sy moet weet watter tipe klere sy sal nodig hê. As julle ’n spa besoek, moet sy weet om haar baaikostuum in te pak, of as julle wildtuin toe gaan, moet sy bewus van die feit wees dat dit dalk warm gaan wees. As julle beplan om by ’n luukse restaurant te gaan eet, moet sy weet dat sy die regte klere daarvoor moet inpak.
  • Help die kinders om hul oornagbenodigdhede gepak te kry en sien toe dat hulle veilig by hul onderskeie bestemminge arriveer. Los jou selfoonnommer by jou kinders en sorg dat jy ook die mense by wie hulle gaan bly se nommers byderhand het.
  • Beplan jaarliks só ’n geleentheid.

Ná die tyd . . .

  • Los notas vir Vroulief orals in die huis waar jy weet sy dit sal vind. Sê: “Ek is mal oor jou.”
  • Sê een aand vir die ouens saam met wie jy gewoonlik uitgaan, dat jy jou planne verander om die aand saam met jou beste vriendin deur te bring.
  • Skakel een aand die televisie af en vra: “Wat gaan ek en jy vanaand saam doen?”
  • Haal foto’s uit van die dae toe julle uitgegaan het en maak ’n bottel rooiwyn oop. Kyk saam daardeur en haal sommer ook jul troufoto’s uit.

Hier is nog ’n paar wenke vir romanse:

  • Onderklere sal haar wys wat jy in gedagte het en sal julle definitief in die bui vir ander dinge kry.
  • Terwyl jou vrou by die werk is, gebruik haar spaarsleutel en los ’n bos rose kort voor huistoegaantyd op haar sitplek
  • Wanneer jy vir sake weggaan, kom ’n dag vroeër terug – dit is die beste verrassing wat jy haar kan gee!
  • Moenie vir Vroulief ’n kaartjie koop nie. Maak vir haar een en stuur dit vir haar met die pos. Dit sal vir haar ’n wonderlike verrassing wees om dit in die pos te kry.
  • Gee vir haar ’n klein houertjie en skryf in die binneste flap: “Net 50 van die baie redes hoekom ek vir jou lief is.” Sorg dat jy verskillende kleure kaartjies met verskillende boodskappe het. Sommige daarvan kan aanhalings bevat, maar party moet baie persoonliker wees.
  • Vernoem ’n ster na haar. Jy kan dit deesdae oor die internet bestel of jy kan dit sommer informeel doen wanneer julle een aand na die sterre kyk.
  • Kook vir haar haar gunstelingete, met kerse en ’n bottel wyn, volg dit met ’n rug- en skouermassering en moet niks in ruil eis nie.
  • Steek vir haar ’n kaartjie weg waarin jy skryf hoe lief jy haar het.
  • Voer minstens een gesprek per dag waarin jy vir haar vertel hoe lief jy haar het en hoe jy haar mis.
  • Hou vir Vroulief ’n fondue in die bed – met sjokoladesous, aarbeie, kersies en vars, geklopte room. Oorlaai haar dan met soet sjokolade-soene!
  • Tap vir haar ’n lekker bad met badolie en kersies op die vloer. Bad haar en masseer die water en olie in haar vel in. Sluit dit af deur vir haar ’n verhitte badhanddoek te bring (maak dit sommer in die tuimeldroër warm) en soen haar lank en innig terwyl jy haar afdroog. Smeer haar lyf met room.
  • Bad saam met Vroulief en was haar hare vir haar.
  • Skryf vir haar ’n gedig. Jy hoef nie ’n digter te wees nie, maar moet net eerlik oor jou gevoelens wees.
  • Teken harte op Post-it kaartjies en los dit oral vir haar – in haar kar, onder haar skoene, teen die stoof, op haar badkamerspieël …
  • Los vir haar een enkele madeliefie op haar kussing.
  • Sing kliphard ’n liefdesliedjie vir haar terwyl jy stort en vervang die naam in die liedjie met haar naam.
  • Wanneer jy haar soen, hou jou hande teen haar gesig en kyk diep in haar oë terwyl jy haar naam sê.
  • Gee vir haar blomme op jou kinders se verjaardae.
  • Skryf vir haar ’n brief, plaas dit in ’n koevert en plak die seël onderstebo – dit is ’n ou gebruik wat beteken: Ek is lief vir jou.

Addisionele bronne: 40 Unorgettable dates with your mate, deur dr Gary & Barbara Rosberg; http://www.anvari.org; http://www.romantics.net/lovetips.html

***

Het jy al jou INTIEM e-Tydskrif in die hande gekry? Van ons gewildste artikels saamgevat in ‘n e-Tydskrif. Kliek hier om jou bestelling te plaas!